Baba doodgery
Baba doodgery

Baba doodgery

'n Bakkie met tien insittendes was in een van die padongelukke oor die naweek betrokke.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - 'n Vier maande oue baba is Saterdag omstreeks 14:00 by 'n huis in die Eembwa-nedersetting in die Ogongo-kiesafdeling naby Okahao doodgery.

Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag het die bestuurder van 'n wit Toyota Corolla-voertuig agteruit oor die babameisie gery wat saam met haar ma in die skaduwee geslaap het. Die baba, Hilma Shetunyenga Kuume, is op die toneel oorlede. Niemand is in hegtenis geneem nie en die polisieondersoek duur voort.

'n Trompop botsing het die lewe van drie mense Saterdag omstreeks 22:30 op die pad tussen Ondangwa en Eenhane by die Oshigambo-nedersetting geëis. Dit word beweer dat die 41-jarige bestuurder van 'n wit Toyota Corolla-voertuig van die Oshaango-nedersetting vanaf Onethindi na Eenhana gereis het toe hy trompop met 'n Mazda-sedanvoertuig gebots het wat deur 'n 31-jarige man van Ondangwa bestuur is.

Daar was drie passasiers in die Corolla, van wie twee, mnre. Johannes Nanona (39) en Simon Ndakolo (37), op die toneel oorlede is. Die derde passasier is in die Onandjokwe-staatshospitaal saam met die twee bestuurders opgeneem.

'n Voetganger is Vrydag omstreeks 17:30 by die Iihwali-nedersetting op die hoofpad tussen Omuthiya en Ondangwa doodgery. Dit word beweer dat die bestuurder van 'n wit Volvo-vragmotor van NamPower vanaf Windhoek na Ondangwa gery het toe hy 'n voetganger getref het wat oor die pad geloop het. Die voetganger is op die toneel dood en is nog nie geïdentifiseer nie.

Vier klagte van roekelose en nalatige bestuur is die naweek aanhangig gemaak: 'n Nissan-bakkie met tien insittendes het Vrydag omstreeks 15:00 by die Summerdown-kruispad drie keer gerol. Die bestuurder het glo om 'n draai met 'n hoë snelheid beheer oor die voertuig verloor waarna dit dit pad verlaat en gerol het. Die 10 insittendes het ernstige tot minder ernstige beserings opgedoen en is in die Gobabis-staatshospitaal opgeneem.

Op die grondpad tussen Sesfontein en Opuwo was 'n wit Isuzu-bakkie van die Sesfontein-kiesafdeling van die Kunenestreeksraad Vrydag tussen 19:00 en 21:00 in 'n ongeluk betrokke. Dit word beweer dat die bestuurder van die bakkie met twee passasiers sowat 50 km voor Opuwo by 'n skerp draai beheer oor die voertuig verloor en omgeslaan het. Niemand is in die ongeluk beseer nie.

Nóg twee voetgangers is die naweek raakgery: 'n Bestuurder (32) van 'n Polo Vivo-voertuig het Saterdag omstreeks 13:45 'n 11-jarige voetganger op die hoofpad tussen Ondangwa en Omuthiya sowat 10 km voor Omuthiya by Oshifukwa raakgery. Die Angolese seuntjie, Paulus Dumingus, het ligte hoofbeserings opgedoen en is in die Omuthiya-staatshospitaal opgeneem waar hy in 'n stabiele toestand is.

'n Voetganger is Saterdag omstreeks 19:30 op die pad tussen Onayena en Okankolo ernstig beseer. 'n Bestuurder (35) van 'n wit Mazda-bakkie van die Ethindi-nedersetting het die voetganger twee kilometer buite Onayena by Haikali in die Ompugulu-nedersetting raakgekry. Die voetganger word in die Onadjokwe-hospitaal behandel.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer