Baba se grudood laat Rehoboth ril
Baba se grudood laat Rehoboth ril

Baba se grudood laat Rehoboth ril

Uit alle uithoeke van die land het die boodskap gister oor die skending van 'n twee weke oue baba weergalm: Néé.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die land, veral die Rehoboth-gemeenskap, is gister opnuut met afgryse vervul oor 'n inwoner van dié dorp wat glo verlede week sy twee weke oue dogtertjie verkrag het.

Die meisietjie, wat op 26 Junie gebore is, het dieselfde aand aan haar beserings omgekom.

Mnr. Gert Skrywer (26), 'n inwoner van Rehoboth, het gister in die landdroshof op dié dorp op aanklag van moord en verkragting verskyn.

Adj.komm. Kauna Shikwambi, die nasionale polisiewoordvoerder, het gister by navraag die gruvoorval ­bevestig.

Volgens 'n bron na aan die ondersoek het die baba se ma (20) op die noodlottige dag na die pa se huis gegaan om by hom geld vir weggooidoeke te vra.

Sy het hom glo nie tuis aangetref nie en het by 'n nabygeleë huis gaan drink, sê die bron.

Die ma het later teruggekeer na die pa se huis waar hy na bewering eers met haar en toe met die baba seks gehad het.

Sy en die baba het toe na haar huis gegaan waar die kind daardie aand dood is.

Veral op sosialemediaplatforms het Namibiërs hul afgryse laat blyk sedert nuus oor die voorval gister rugbaar geword het.



IN DIE HOF

Mnr. Steven Haridoeb, aanklaer, het gister tydens Skrywer se vlugtige hofverskyning namens die staat borgtog teengestaan, vanweë die openbare belang en die ernstige aard van die beweerde oortredings.

Landdros Selma Nekwaya het die saak tot 22 September vir verdere polisieondersoek en vir die verwerking van Skrywer se aansoek om regshulp uitgestel.

Skrywer bly in aanhouding.



'MOEILIK OM TE VERSTAAN'

Dr. Shaun Whittaker, 'n Windhoekse kliniese sielkundige, het gister by navraag gesê: “Dit is darem 'n ver­skriklike voorval. Dit ontstel 'n mens. Dit maak 'n mens rêrig kwaad dat hierdie soort ding met 'n ou klein, onskuldige baba gebeur. Sjoe.”

Syns insiens is sulke voorvalle van geweld “moeilik om te verstaan”.

“My eerste gedagte is 'n mens wonder of hierdie man nie op hierdie baba se ma wraak wou neem nie.

“Jy weet, om so 'n verfoeilike ding te kan aanvang, moet 'n mens dit seker in daardie konteks sien. Miskien wou sy opbreek met hom. Miskien het hulle konflik gehad en was dít nou sy ver­skriklike manier om haar te probeer terugbetaal.”

Verkragting, sê die terapeut, handel oor mag. “Dit gaan nie oor seksuele bevrediging nie.”

'n Moontlikheid is dat die man onder die invloed van alkohol of dwelms kon gewees het, sê Whittaker. “Nie dat dit 'n verskoning is nie. Dit is glad nie 'n regverdiging nie. Ons babas en kinders is die onskuldiges wat die prys betaal vir so 'n gewelddadige land.”

Die Windhoekse teoloog dr. André September sê: “Mense word deur God geskape, en word 'n gees – 'n verstand – gegee om tussen reg en verkeerd te onderskei en om dienooreenkomstig besluite te neem.” Maar, sê hy, “ons moet egter ook geestesuitdagings in oorweging bring wat met hierdie vermoë kan inmeng”.

Die mens se wilsbesluite word beïnvloed deur bose gedagtes, onver­skilligheid, onkunde en roekeloosheid, sê September. “Die groot kerkvader, Augustine, het daarop aangedring dat wanneer 'n mens vra waar die bose vandaan kom, moet 'n mens eerste vra wat is dit.

“Boosheid, soos dié afskuwelike dade, is 'n regte vyand, 'n aaklige korrupsie van die goeie. Dit spruit uit sonde, die misbruik van vryheid en die skending van God se wet.”

Volgens hom het Christene 'n verantwoordelikheid om boosheid “met alle middele” te beveg.

Whittaker sê Namibië benodig 'n sterker feministiese beweging en een vir kinderregte. “Dis een van die leemtes in ons land.”

Op die langer termyn moet patriargie, werkloosheid en armoede oorkom word om oplossings vir kulturele en strukturele geweld te bied, sê Whittaker.– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!