Baba speel in ma se bloed
'n Getuie het gister in die hoërhof in Windhoek getuig hoe sy haar peetdogter se kind langs die lyk van sy vermoorde moeder aangetref het.
Jacqueline Louw - Die hof het gister getuienis in die moordverhoor van mnr. Eben Cloete (38) aangehoor dat die 27-jarige me. Anna Nadia Coetzee se 11 maande oue baba langs haar lyk in ’n plas bloed aangetref is en dat die kind besig was om in die bloed te speel.
Dít was die getuienis wat me. Sofie Losper, peetma van die vermoorde Coetzee, gister voor regter Dinnah Usiko in die hoërhof in Windhoek gelewer het.
Losper het aan die hof vertel hoe sy na die huis waar die moord plaasgevind het, ontbied is deur mnr. Anton Cloete, ’n vriend van die beskuldigde. Volgens Losper het Anton Cloete vir haar en me. Martha Afrikaner meegedeel dat Cloete besig was om Coetzee se deur af te breek en dat hulle daarheen moes gaan. Op pad na Coetzee se huis het hulle die beskuldigde teëgekom, sonder ’n hemp en met net een plakkie aan, het Losper getuig. Sy het ook aan die hof gesê dat sy en Martha nie enigiets gesê het nie, maar dat Eben Cloete vir hulle gesê het hulle moet gaan kyk en self sien hoe hy “klaargemaak” het.
Toe sy die huis waar Coetzee gebly het binnegegaan het, het sy die handafdrukke van ’n kind in bloed in die woonkamer gesien, het Losper vertel. Sy het verder vertel hoe sy die bloedspoor van die klein handjies na die slaapkamer gevolg het waar sy die kind langs sy dooie ma aangetref het. Die kind is uit die verhouding tussen Coetzee en Cloete gebore.
Cloete het Maandag skuld ontken op die klagte van inbraak met die doel om moord te pleeg en moord, saamgelees met die bepalings van die wet op die bekamping van huishoudelike geweld.
Die staat beweer dat Cloete vir Coetzee op 13 Augustus 2009 vermoor het deur haar agt keer met ’n mes of skerp voorwerp by haar ouers se huis by die Neudamm-proefplaas te steek.
Coetzee het volgens gister se getuienis voor die hof na haar kamer gegaan en die deur gesluit toe sy sien dat Cloete by die huis se voorhek inkom. Hy het toe na bewering die deur oopgebreek en haar aangeval en sy het op die toneel gesterf as gevolg van die steekwonde in haar borskas.
Mnr. Milton Engelbrecht het aan Losper gestel dat Cloete die dag van die noodlottige voorval vroeg na Coetzee se huis gegaan het om dokumente van haar te verkry en slegs weer daarheen teruggekeer het toe die polisie hom in hegtenis geneem het en daarnatoe geneem het. Hierdie bewering is egter gister deur mnre. Bio Xoagub en Anton Cloete se getuienis weerlê. Beide het getuig dat hulle teenwoordig was toe Cloete by die huis opgedaag het.
Engelbrecht tree namens Cloete op en die staat word deur mnr. Palmer Khumalo verteenwoordig.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie