Baba sterf kort nu00e1 sy inenting
Baba sterf kort nu00e1 sy inenting

Baba sterf kort ná sy inenting

Ouers van 'n babaseun beweer­ sy dood is te wyte aan verkeerde­ en nalatige optrede van personeel verbonde aan 'n staatskliniek.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Die ouers van 'n babaseun wat kórt na 'n roetine inenting gesterf het, blameer die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste daarvoor.

Me. Martha Shikongo en mnr. Denny Mwanyekange van Okahandjapark in Windhoek eis skadevergoeding van N$718 500 van die ministerie ná die voorval.

Die ministerie staan die eis egter teen en moet nog pleit.

Klein Paulus Jona Mwanyekange is in 2015 op die ouderdom van ses weke dood, kort nadat hy 'n roetine immunisering by die Okuryangava-kliniek in Windhoek ontvang het.

Volgens hofstukke het Shikongo op 23 Januarie haar seun na die kliniek vir sy verpligte immunisering geneem.



Nie ingelig

Sy sê sy is nie van enige newe-effekte of risiko's van die betrokke immunisering ingelig nie. 'n Suster, wie se identiteit onbekend is, het die entstowwe tussen 12:00 en 12:25 toegedien.

Met haar en haar seun se terugkeer by die huis omstreeks 13:00, het Paulus “onbeheers” gehuil en wou ook nie toelaat dat Shikongo hom borsvoed nie. Hy het na sy asem gesnak en kort hierna gesterf. Wit skuim en bloed het ten tyde van sy dood uit sy oë, neus en ore gekom.

Volgens die hofstukke was sy dood te wyte aan die “verkeerde en nalatige” optrede van die kliniek se personeel. Voorts is glo nie verseker die ent­stowwe en medikasie by die kliniek was veilig nie. Die nodige “behoorlike en ingeligte toestemming” vir die immunisering is na bewering nie verkry nie.

In Julie verlede jaar het 'n hoëvlak- nasionale komitee bevind immunisering het in 2016 geen rol in die dood van vyf kinders gespeel nie. Die komitee is gestig om negatiewe gevolge ná inentings te ­ondersoek (Aefi). Vier van die vyf kinders se dood is in die Rehoboth-distrik aangemeld en een in Windhoek. Drie van die kinders is gedurende roetine inenting op die ouderdom van ses weke geïmmuniseer en twee het bykomende inentings teen masels en Duitse masels ontvang. Dit het tussen 11 en 22 Julie 2016 plaasgevind.

Die komitee het bevind nie een van die sterftes kan aan die entstowwe toegeskryf word nie. Twee van die sterftes op Rehoboth is aan wanvoeding toegeskryf. Nog 'n sterfte op Rehoboth was 'n skielike babasterfte, ook bekend as wiegiedood (Sids).

Die vierde sterfte op Rehoboth is toegeskryf aan bakteriese breinvliesontsteking wat met longontsteking gepaard gegaan het.

Die kind in Windhoek is aan longontsteking dood, wat moontlik met epilepsie gepaard gegaan het. Die komiteelede het onder meer 'n pediater, neuroloog, apteker, mediese tegnoloog en 'n hoof- mediese beampte ingesluit.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer