Babette mik na die sterre

Dit het jare geneem om deur borge raakgesien te word, sê die 22-jarige vrou van Grootfontein.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Dit bly enige Namibiese atleet se droom om nie net op nasionale en kontinentale vlak mee te ding nie, maar ook om internasionaal hul merk teen die wêreld se bestes te maak en dalk selfs as wêreldkampioen na vore te tree.

Bitter min atlete beskik oor die nodige geld om internasionaal te kompeteer en met dikwels geen finansiële steun van die regering aan Namibiese sportverenigings nie, maak dit sake verder moeilik vir aspirerende sportmanne en -vroue om hul talent ten volle te ontwikkel.

Dikwels word 'n plaaslike uitblinker in Namibië as 'n wonderwerk beskou, maar die oomblik wanneer hulle teen kontinentale teenstand meeding, is dié vlak te hoog en word hulle oorskadu.

Om ervaring op te doen en geestelik gebrei te word, moet atlete nie net teen buurlande in Sone-kampioen­skappe meeding nie, maar internasionaal skouers met die room van die sportwêreld skuur om te sien of hulle vir die werklike toets opgewasse is.

Boogskiet is nie 'n prioriteitsport nie en suig soos vele ander kleiner sportkodes aan die agterste speen van die reeds verlepte droë geldkoei.

Een só 'n atleet is die uiters talentvolle Babette Taljaard van Grootfontein, wat Namibië al op vele verhoë met onderskeiding as boogskutter verteenwoordig het. Dié sportkode is geweldig duur en elke stukkie toerusting wat skutters gebruik, moet met hul eie geld aangekoop word.

Borge is skaars en selfs wanneer skutters soos Taljaard kwalifiseer om aan 'n internasionale kompetisie deel te neem, moet hulle dit op eie stoom en uit hul eie beursie aanpak.

Die 22-jarige Taljaard het as 14-jarige in 2011 boogskiet as sport begin beoefen.

Sy het van haar agtergrond in die sport en hoekom sy net met die saamgestelde boog spesialiseer, met die koerant gedeel.

“Toe ek met boogskiet begin het, was dit met die saamgestelde boog. Dit was waaraan ek toe blootgestel was. Ek het toe nie eens geweet daar is verskillende tipes boë nie. Ek het eers jare later besef dat net die terugbuigboogskutters vir die Olimpiese Spele kan kwalifiseer!

“Toe het ek reeds my toerusting gekoop en dit gaan baie duur wees om oor te skakel. Maar ek sal graag in die toekoms met die terugbuigboog vir die Olimpiese Spele wil kwalifiseer.

“Skutters soos ekself moet al ons reiskoste en ander uitgawes self betaal. Ons kry geen ondersteuning van die Namibiese Boogskietvereniging nie en ek moet dus my eie borge reël om my boogskietloopbaan te bevorder.



BORGE TREE TOE MET HULP

“Finansiële stres is nie bevorderlik vir enige sportman of -vrou nie. Ek leer nog en sonder 'n inkomste is dit baie moeilik om my uitgawes op my eie en met die hulp van familie en vriende te dek,” vertel sy.

Taljaard het haar eerste proesel van internasionale deelname in 2013 gehad.

“Ek was in 2013 by die Wêreldjeugkampioenskap in Wuxi, China; later die junior asook senior Afrika-kampioenskappe in Luxor, Egipte (2014) asook Windhoek (2016) . Daarna was ek by die 2017 Wêreldjeugkampioen­skap in Rosario, Argentinië en die 2019 senior Wêreldkampioenskap by Hertogenbosch, Nederland.

“Ek wil in die volgende paar jaar bitter graag aan meer internasionale kompetisies deelneem om my slag met die boog tussen elite atlete verder op te knap. Ek wil graag 'n professionele skutter word en ek weet met die nodige bystand sal ek dit kan vermag.

“Dit kos my ongeveer N$50 000 om aan 'n internasionale kompetisie deel te neem, dan is al die kostes gedek. Ek gaan 2020 met hernude ywer en mikpunte takel, want Tony's Custom Bowstrings asook Magnum Archery gaan my borg.

“Dié twee besighede help my deurdat ek toerusting teen afslag by hulle kan aanskaf. Tony's Custom Bowstrings help my met snare vir my boog. Hulle het ver­skeie kleure en geure en is 'n fantastiese besigheid.

“Magnum Archery het weer enige iets wat ek benodig – van 'n boogtas tot pyle en die kleinste skroefie indien ek so iets sou nodig kry.

“Dit het my jare geneem om raakgesien te word en dit is net deur die Here se genade dat ek so geseënd is om deur sulke wonderlike borge en mense ondersteun te word. Ek wil beide borge vir hul ondersteuning bedank; julle maak dinge vir my soveel makliker. Sien julle in 2020 met groter ideale en nog beter tellings op die skietbaan,” het Taljaard gesê.

“Indien ek finansiële hulp kan kry, sal ek eenhonderd persent op my sport kan konsentreer om my beste peil te bereik. Dit is 'n droom van my om 'n professionele boogskutter te word wat my land op die internasionale verhoog kan verteenwoordig.

“Dit is altyd lekker om Namibië internasionaal in die kollig te plaas, wat natuurlik goed vir Namibië se ekonomie en beeld is,” het sy trots afgesluit.

Belangstellendes kan www.backabuddy.co.za/champion/project/babette-taljaard besoek, of haar profielblad op Facebook by “babette taljaard - magnum archery team shooter” volg. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!