Baie kapitaal in NCA belê, min uitsette

Die voorstel is gemaak om nie op slagbeeste uit die noordelike kommunale gebiede te reken nie, maar eerder speenkalfproduksie en die aanbied van vendusies te oorweeg.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Ondanks die kapitaal wat reeds in noordelike kommunale gebiede (NCA) belê is, kon die deurset van beeste na abattoirs steeds nie verhoog word nie, en word gemeen die gebiede is dalk meer gepas vir ‘n speenkalfproduksiestelsel.

Tydens die afgelope 55ste Landbouprodusente-organisasie (LPO)-kongres op 9 Oktober het mnr. Goliath Tujendapi, die Vleisraad van Namibië se handelsbestuurder, aan die kongres gesê die dinamika van beesbemarking in kommunale gebiede werk anders as elders in die land.

“Ons het voorheen gekyk hoeveel kapitaal reeds in die noordelike kommunale gebiede belê is en wat die uitsette was.

“Té veel geld is reeds belê. Die hoop was dat dit die deurset van beeste na abattoirs sou verbeter, maar dit het nie gebeur nie.

“Tydens ‘n studie oor veebemarking in die gebied het ons ontdek wat die rede hiervoor is: Hierdie beeste is nie te koop nie. Slegs sowat 30% van al die beeste in die gebied is beskikbaar vir abattoirs, terwyl 60% van die beeste wat daar geslag word vir troues en begrafnisse is.

“Hoewel daar beeste is, is hulle nie te koop nie. Ons moet dus ‘n ander strategie ontwikkel om die beeste by abattoirs te kry,” het Tujendapi gesê.

Dit was sy reaksie op ‘n vraag oor die lewensvatbaarheid van osproduksie in dié gebiede.

Die voorstel is gemaak om nie op slagbeeste uit die noordelike kommunale gebiede te reken nie, maar om eerder speenkalfproduksie en die aanbied van vendusies te oorweeg.

Dít saam met ’n fokus op die verbetering van gesondheidstatus.

Mnr. Piet Gouws, LPO-voorsitter, het beklemtoon dit is belangrik dat kommunale boere wel gehuisves word om markte vir hul produkte te vind.

SLAGBEESTE NIE REGTE GRAAD

Dié nuus kom kort voor die abattoirs by Katima Mulilo en Oshakati weer moet begin werk ná dit aan private instansies verhuur is.

Tujendapi het statistieke van voor 2015 getoon waarvolgens die meeste beeste wat in die noordelike kommunale gebiede geslag word, in die C-klas val en ‘n vetheidsgraad van 0 het.

Sedert 2015 is daar nie beeste in die kommunale gebiede geslag nie as gevolg van die uitbreking van bek-en-klou-seer.

“Altesaam 74% van die beeste wat vir verslagting aangebied is, is C-graad. Op sigself is dit nie ‘n probleem nie, maar wel wanneer dit met ‘n vetheidsgraad van 0 gepaard gaan.

“Dit was een van die kwessies wat ‘n bydrae daartoe gelewer het dat Meatco uit die gebiede moes onttrek – omdat die abattoirs nie winsgewend kon wees nie. Hulle moes dus met ‘n ander besigheidsmodel vir die kommunale gebiede vorendag kom,” het Tujendapi gesê.

Mnr. Jannie Breytenbach, Meatco se waarnemende uitvoerende hoof, het by die kongres gesê hul mobiele slageenhede in kommunale gebiede het die afgelope twee jaar altesaam 2 396 bees van 150 boere geslag, waarvoor sowat N$15,6 miljoen betaal is.

Meatco het ook 296 lewende beeste van 16 boere af ingekoop, waarvoor nog sowat N$1,8 miljoen betaal is.

MAAK ABATTOIRS SÓ SUKSESVOL

Tujendapi het gesê die abattoirs sal na verwagting weer B-klas wees.

“Om ‘n aantrekkingskrag vir kommunale produsente na die abattoirs te hê, moet ‘n mark vir dié produkte geskep word.

“Wat is die strategie? Een van die denkrigtings is dat abattoirs kwotas moet ontvang om regeringsinstansies van vleis te voorsien – dit sluit in tronke, skole en hospitale. Sodoende word ‘n plaaslike mark geskep.

“As dit nie gedoen word nie, glo ek ons sal sukkel om ‘n mark vir die vleis te vind,” het Tujendapi gesê.

Volgens hom is nog ‘n voorstel dat die produkte ontbeen en verouder moet word, voor dit suid van die veterinêre kordonheining verkoop word om die plaaslike mark te bevredig, terwyl uitvoer-abattoirs op uitvoermarkte fokus.

Hy het gesê tot dusver raai hy nie die verwydering van die veterinêre kordonheining aan nie.

“As dit hierby kom, moet produsente saamstaan en hul stemme laat hoor sodat ons die regering kan help om te besluit wat die beste roete is om te volg.

“’n Voorstel bestaan om afsonderlike afdelings binne die noordelike kommunale gebiede te skep en dan te doen wat nodig is sodat dit stuk-stuk vry van bek-en-klou-seer verklaar kan word. Só kan die gesondheidstatus bo die veterinêre kordonheining geleidelik verbeter word, terwyl die Rooilyn nie noodwendig verwyder word nie,” het hy gesê.

“In die lang termyn is dit belangrik dat ons die uitvoerstatus van ons abattoirs, asook die dieregesondheidstatus behou en terselfdertyd genetika in die kommunale gebiede verbeter. Tydens informele verslagting moet ons die higiënestatus verbeter sodat ‘n beter beeld na buite gedra kan word oor hóé daar in die gebiede geslag word, terwyl kommunale boere ook toegang tot premium markte moet kry, wat vir hulle goeie opbrengste sal lewer.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer