Baie kopsere
Baie kopsere

Baie kopsere

Dani Booysen
Beurtkrag vir Namibië?

Gelukkig nie weens infrastruktuur en ondersteuningstelsels wat saam met 'n brankrot staatsleweransier soos in Suid-Afrika besig is om in duie te stort nie. Of bloot nog nie?

Hierdie nuutjie is die ysere, raadop reaksie van NamPower op die nie-nakoming van ooreenkomste om ou skuld te delg.

Nege vlakke van straf is aangekondig, wat wissel tussen een tot sewe dae per week. Sestien dorpe, een streekraad, vier ministeries, drie staatsondernemings (SOE's) en een private kliënt is op die voorsiener se swartlys.

Wanbetaling vir basiese dienste is lankal 'n probleem en nie 'n simptoom van die Covid-19-pandemie nie. Die virus dwing ons bloot – soos met talle dinge – om langdurige vraagstukke op slim maniere op te los. Of NamPower se plan die beste entstof is, sal ons in April sien.

Geen onderneming kan sy werk doen, in nuwe behoeftes voorsien of groei met ou skuld van digby 'n miljard dollar nie. Amnestie en afskrywe is byna nooit goeie medisyne nie.

As NamPower sê hy het almal ingelig en die klerke by die dorpskantore weet nog nie, moet hulle wonder of hulle om politieke redes in die duister gehou word.

TransNamib is beslis nie al kopseer wat oorbly vir minister Leon Jooste en die Geingob-regering nie. Buiten vir SOE's in intensiewe sorg en dié op die krukkelys, is die langtermyn-volhoubaarheid van die ondernemings van kritieke belang.

Wéér sê ons die pryse van dienste moet ook eerlik ontleed word.

Jan en San Alleman moet nie betaal vir wat nie redelik en regverdig uit hul sak moet kom nie.



So sê ander

9 Maart 2021



Skreiend dat swak infrastruktuur menselewens eis



Die swak toestand van Suid-Afrika se paaie het al in die verlede kritiek ontlok weens die ekonomiese aspek daarvan, veral vir plaaslike produsente wat hul produkte by markte en afsetpunte moet kry.

Maar wat van die menslike aspek? Hoeveel lewens het slaggate al geëis?

Minstens ses mense is in Februarie dood weens slaggate.

Sien die owerhede nie die patroon raak nie? Word niemand aanspreeklik gehou nie? En is daar enige gehaltebeheer op plekke waar paaie wel herstel word? Want met die eerste goeie bui reën val die teerlagie wat bo-oor gesmeer is opnuut gate in.

'n Land wat ekonomies vooruit wil kom, kan dit nie doen sonder 'n betroubare (ook openbare) vervoerstelsel nie. In Suid-Afrika word die padnetwerk flenters gery weens die stelselmatige verval van die spoorvervoerstelsel, met veral swaar vragmotors wat groot skade aanrig.

Private instansies en gewone mense wat moue oprol en slaggate herstel moet geloof word. Maar dis in die eerste plek die regering se verantwoordelikheid om paaie in stand te hou.

Dat die versaking van basiese dienslewering menselewens eis, is skreiend.

'n Regering se basiese taak is om sy burgers te beskerm. 'n Regering wat sy burgers se dood veroorsaak weens swak infrastruktuur, is bloot misdadig.

• NETWERK24

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer