Baie monumente op Mudge se pad
Baie monumente op Mudge se pad

Baie monumente op Mudge se pad

Mandy Rittmann
MARIÉ BLOMERUS SKRYF:

Eerder as om 'n kort huldeblyk aan Dirk Mudge te bring, sou ek 'n doodgewone gesprek wou voer. Dit sou uiteindelik meer as 'n gesprek gewees het.

Maar hy het, helaas, na verre sfere verhuis, hoewel hy steeds deel sal bly van sy geliefde land. Die land waar ons albei gebore is en grootgeword het.

Wanneer verskillende mense 'n herinnering aan iemand moet neerpen, sal daar noodwendig perspektiewelike verskille, sowel as ooreenkomste wees. In my geval omdat ons uit dieselfde genepoel kom en omdat ek hom as 'n broer beskou het, aangesien ek nie broers gehad het nie.

Dis moeilik om 'n besliste lyn te trek tussen die openbare mens en die persoonlike verbintenis. Waarom juis so? Moontlik omdat ons baie tye saam deurgebring het waar die openbare figuur nie gegeld het nie.

Nou sal ek my intuïsie gebruik om hulde te bring met 'n vermenging van die mens en die mylpale.

Dis 'n lang pad van 82 jaar. Vroeg in ons samesyn, toe hy ongeveer tien jaar oud was, het ek besef die stil kind is anders en die stilte het my geval. Ingetoë en trots, maar nederig. Beslis 'n besondere mens met 'n wyer denkpatroon as die gemiddelde – moeilik omskryfbaar, want dit was bloot kinderlike indrukke.

Nogtans was dit in die kol en so het hy gebly, en dit het my opgeval selfs toe ek hom die laaste keer gegroet het.

Dirk kon mense stip beskou. Iemand het my op 'n dag vertel dat hy 'n meningsverskilletjie met Dirk gehad het waarna hy woordeloos geluister het. Toe hy kans kry om te antwoord was sy woorde: “Jy weet – jy sal my nooit ken nie, maar die eerste dag toe ek jou ontmoet het, het ek dwarsdeur jou gekyk.” Daarmee was die geskil opgelos en vergete.

Hy het sonder uitsondering geweet met wat hy te doen het. Baie selde daaroor enige opmerking gemaak. Hy het goed geluister na die gesprekke van ander en sodoende het sy ingebore wysheid gegroei. Dan was hy ook pligsgetrou en het altyd woord gehou en aangeneem dat ander ook sou woord hou.

In 1950 het die Nasionale Party van Suid-Afrika ook aan 'n verkiesing in Suidwes-Afrika deelgeneem. Dit het toe reeds 'n verandering in die plaaslike regering veroorsaak en in die laat 1950's het die jong Dirk Mudge 'n setel in die noorde van die land verower en as ek reg onthou die jongste lid van die Wetgewende Vergadering geword.

Ons jeugjare het verbygegaan. Ek het na die ou Transvaal verhuis en slegs die politieke gebeure op radio en in koerante gevolg.

Dirk se bedrywige en veeleisende loopbaan as politikus het meer en meer bedrywig geword en lei later tot 'n verwydering tussen hom en die Nasionale Party en die Demokratiese Turnhalle kom tot stand.

In die 1980's kom ek uit Pretoria om 'n onderhoud met hom te voer in sy kantoor in Windhoek. Ons was besig by 'n filmmaatskappy om 'n dokumentêre rolprent oor die komende onafhanklikheid te maak en ek was verantwoordelik vir die draaiboek.

Die onderhoud was interessant, maar ek kon aflei dat hy ernstig ingeperk voel en altyd onder beskermende sekuriteit moes beweeg. Nie maklik vir iemand wat die vryheid van die plaas en die veld gewoond was nie.

Hy was toe 'n leidende politieke figuur en op die wêreld se verhoë bekend en dis nie altyd so maklik soos dit vir die buitestander lyk nie.

1990 sien die langverwagte onafhank­likheid van Suidwes-Afrika en van toe af is dit bekend as Namibië. Die bydraes op verskeie gebiede waarvoor Dirk Mudge in Namibië verantwoordelik was, is uiteenlopend van aard, maar sy menslikheid en naasteliefde staan vir my as durende monumente.

Dirk, ek salueer jou en sal jou onthou.

Now cracks a noble heart:

Good night, sweet prince;

And flights of angels sing thee to thy rest.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!