Baie om te vier by Unam se aand van kampioene

Klubrugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die goeie spangees van die FNB Universiteit van Namibië se rugbyklub was opnuut een van die opvallende kenmerke toe sy jaareindfunksie en prysoorhandiging Vrydagaand afgehandel is.

Die skrumskakel Cameron Klassen is as die klub se sportman van die jaar bekroon.

“Die waarheid is dat ek rêrig geseënd is om met sulke opleibare, gewillige, nederige, talentvolle spelers te werk,” het afrigter Johan Diergaardt gesê by die geleentheid waar Unam se twee kampioenspanne (NRU premierliga en NRU reserweliga) vereer is.

Sy eerste span, wat vir FNB Wanderers in die eindstryd geklop het, het ná twee vroeë nederlae 14 wedstryde op ’n streep gewen op pad na hul tweede titel in twee jaar.

“Hulle is nog jonk en ek glo dis ’n Godgegewe voorreg om met hulle te werk. Baie dankie vir die harde werk wat julle deur die jaar ingesit het.

“Ongelukkig is dit nou reeds in die verlede. Aanstaande Maandag (7 November) begin ons met die eerste fiksheidstoetse vir ons voorseisoenprogram.

“Dít is hoekom ons kampioene is – omdat ons vroeg genoeg begin en hard genoeg werk. Dit kan vir die volgende tien, twintig jaar vir ons werk,” het die afrigter gesê.

Diergaardt self sou vandeesweek in Kaapstad sy opleiding as vlak 3-afrigter gaan aanpak in die opbou na die nuwe seisoen.

Skrumskakel Klassen het die topprys vir die jaar voor drie ander benoemdes weggeraap, naamlik Lesley Klim, Helarius Kisting en Leneve Damens.

Klassen het in die afgelope jaar sy debuut as toetsspeler gemaak toe hy van die reserwebank af teen Zimbabwe opgestuur is. Stut Hauta Veii, slot Muniovita Kasiringua en agtsteman Leneve Damens was die ander Unam-spelers wat vanjaar op die hoogste vlak gespeel het.

Op Curriebeker-vlak was al vier die laasgenoemde spelers, asook Tjino Tjirare, Max Katjijeko, Thomas Khali, Lesley Klim, Silvano Beukes en Chess Lawrence die klub se verteenwoordigers.

Verder het Helarius Kisting, Sunday Haitembu, Shareave Titus en Mbimbo Mbai vanjaar vir die nasionale sewesspan by die Afrika-kampioenskap in Nairobi uitgedraf.

Unam was ook ’n voedingsbron vir die nasionale o.20-span waar Obert Nortjé, Rheinhardt Carelse, Mogamat Emamdien, Jerome Beukes, Henrique Olivier, Milaan van Wyk en Unomasa Kavita uit die rooies se geledere gekom het.

Ander wenners van toekennings vir 2016:

Lang diens toekennings: Marques Bezuidenhout, Chrisbunn Blom, John Drotsky, Ricardo Japhta, Cameron Klassen, Bradley Klazen, Clarence Visagie.

Meeste drieë: Lesley Klim (13).

Meeste punte: Lorenzo Louis (165).

Mees waardevolle speler: Bradley Klazen, kaptein van die eerste span.

Spelers se speler van die jaar: Dario Vries.

Christie Windvogel voorsitterstoekenning: Ricardo Japhta.

Ben Naobeb toekenning: Mahepisa Tjeriko (vir sy veggees om beserings en operasies te oorkom om na die speelveld terug te keer).

Mees veelsydige spelers: Sunday Haitembu en Chess Lawrence.

Mees invloedryke spelers: Camlo Martin en Desidarius Sethie.

Beste vordering: Obert Nortjé en Barry Gande.

Beste junior voorspeler: Rheinhardt Carelse.

Beste junior agterspeler: Arnon van Wyk.

Beste senior voorspeler: Max Katjijeko.

Beste senior agterspeler: Helarius Kisting.

Spesiale hulde is ook gebring aan die stut Hauta Veii, wat sy uittrede aangekondig het nadat hy die laaste twee seisoene ’n staatmaker in die opeenvolgende premierliga-oorwinnings was.

Trofeë is ook aan die afrigter- en bestuurspanne van die klub se twee kampioenspanne oorhandig. Eerste span: Johan Diergaardt, Russell van Rooi, Gregory Olivier, Ryno Visagie, Werner Jeffery junior, Donatha Ngunovandu, Christie Windvogel. Tweede span: Werner Jeffery senior, Lorenzo Koppers, Kenny Bessinger.

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!