Baie reën lê nog vir nat Namibië voor
Ronelle Rademeyer – Die Nautedam by Keetmanshoop het gister die eerste dam in Namibië geword waarvan NamWater die sluise getrek het.
Dit het om 12:30 geskied toe die dam sowat 97% vol was. Water het in daardie stadium teen 461 kubieke meter per sekonde ingevloei. Die situasie is noukeurig gemonitor om die sluise groter oop te maak namate groter volumes water die dam binnevloei.
Dié dam was 'n week gelede 85,4% vol. Die Hardap- en Neckartaldam se vlakke het die afgelope week vanaf onderskeidelik 37,4% en 25,9%, tot 42% en 28,5% gestyg.
Die sentrale gebied se drie groot opgaardamme (Von Bach, Swakoppoort en Omatako) is nou saam 56,7% vol, teenoor die 55,5% wat dié damme se gesamentlike inhoud 'n week gelede beloop het. In die ooreenstemmende tyd verlede jaar was hulle saam net 18,4% vol.
Intussen het die weerkantoor in Windhoek wydverspreide reën vandag in die Hardap-, ||Kharas-, Kavango-Oos- en -Wes- asook die Omahekestreek voorspel.
Dit volg ná die nat Nuwejaarsweek wat meegebring het dat vele riviere in die land kant tot wal loop.
Groot riviere soos die Löwen, Warmbakkies, Gurugab en Konkiep oos en wes van Keetmanshoop was gister opnuut in vloed.
Berigte is ook ontvang van 'n laagwaterbrug by Warmbad wat gedeeltelik weggespoel en die pad onbegaanbaar gemaak het.
Talle grondpaaie soos die een tussen Aroab en Keetmanshoop was 'n modderbad.
Selfs die Tsauchabrivier in die droë suidweste het geloop en het Sossusvlei vir die eerste keer in jare bereik. Die Kuisebrivier, grootste rivier in die sentrale Weste, het ook geloop.
Mnr. Johan van der Berg, weerkonsultant vir die landboubedryf wat in Bloemfontein woon, sê dit is moeilik om te voorspel of Namibië hierdie seisoen 2011 se rekordhoë reënvalsyfers gaan ewenaar, maar voeg by: “Dit lyk asof ons ver bogemiddelde reën gaan kry.”
Die 2010-'11-seisoen was van die natste seisoene op rekord.
Hy sê die matig tot sterk La Niña-weerverskynsel, wat in suidelike Afrika tot natter toestande lei, het sy piek bereik.
“Interessant is dat Australië, waar die reënpatrone baie met ons s'n ooreenstem, een van sy tien natste Desembers op rekord beleef het. Hul reënseisoen is so 'n maand of wat voor ons s'n, en wat daar gebeur, is 'n aanduiding dat ons nog baie reën kan verwag,” sê Van den Berg.
Hy waarsku omdat die grond reeds baie versadig is, is die kans op vloede en oorstromings groot.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie