Baie riool, min drinkwater

Inwoners kla oor riool wat die strate vol vloei en 'n watertekort terwyl die woordvoerder van die dorpsraad sê hy weet niks daarvan nie.
Augetto Graig
Augetto Graig



Op Rehoboth vloei die riool deur die strate en die krane is droog.

Dit ná NamWater die dorp se water afgesny het weens wanbetaling.

Volgens mnr. Johannes Shigwedha, NamWater se woordvoerder, is Rehoboth, Rundu, Katima Mulilo en binnekort ook Arandis, onder die dorpe waarmee die nasionale waterverskaffer 'n voorafbetalingsooreenkoms het.

Volgens die ooreenkoms moet die dorpe vooraf vir toegang tot water betaal weens groot skuld wat al lank ophoop.

Die dorpies moet terselfdertyd ook betalings maak om hul skuld te delg, het Shigwedha gesê.

“In die betrokke geval is geen agterstallige bedrae betaal nie, en as gevolg hiervan kon die N$500 000 se eenhede wat hulle gekoop het nie op die stelsel gelaai word nie,” het hy gister gesê.

“Rehoboth se dorpsraad moet vooraf vir hul water betaal, en ook vir die agterstand op hul rekening. Die agterstallige bedrae beloop miljoene dollars. As geen betaling gemaak word nie, word die watereenhede nie gelaai nie,” het hy gesê.

Mnr. Jeffrey Kasupi, die Rehoboth-dorspraad se woordvoerder, weet glo niks van dié verwikkeling nie.

Volgens Republikein se lesers was daar Maandag van vroegoggend tot agtuur die aand nie water nie en Sondag slegs klein stroompies uit krane.

Hieroor sê Kasupi: “Daar is geen afsny van water waarvan ek weet nie.”

Hy ontken ook dat die water wat wel vloei, bruin is.

“Selfs as die water net vir 'n kort periode afgesny word vir onderhoud, sal dit vuil wees as dit weer begin vloei,” het hy gesê.

'n Bekende Blok A-inwoner, wat al 45 jaar op Rehoboth bly, skets 'n heel ander prentjie.

Sy sê die afsny van water is nie die ergste nie - daar is nog die onhigiëniese toestande wat die geblokkeerde en oorstromende rioolpype veroorsaak ook.

“Dit loop in die straat af en dam hier voor my hekke op,” het sy gesê.

Volgens haar is die lewering van diens in Rehoboth is “uiters swak”.



krag nie afgesny

'n Ander Rehoboth-inwoner, van Blok C, het gister bevestig die riool vloei ook daar in die strate.

Teen twaalfuur was die water in haar huis ook heeltemal af.

Een brokkie goeie nuus is dat beweringe dat die dorp se krag ook afgesny gaan word, nie waar is nie.

Volgens NamPower se kommunikasie-afdeling dra hulle geen kennis van 'n opskorting van kragtoevoer na die dorp nie.

Pogings om kommentaar te kry by mnr. Chris /Uirab, die dorp se uitvoerende hoof, en me. Christina Blaauw, die burgemeester, was gister nie suksesvol nie.

Hulle was na bewering saam met ander raadslede in Windhoek vir 'n vergadering by NamWater se hoofkantoor om te onderhandel oor die vinnige herstel van Rehoboth se watertoevoer.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!