Baie soek nou na stukkies van asterou00efed
Baie soek nou na stukkies van asterou00efed

Baie soek nou na stukkies van asteroïed

Die vuurbal is onder meer in Gauteng, Noordwes, die Noord-Kaap, Botswana en Namibië waargeneem.
Dit was 'n asteroïed van 2 m tot 5 m in deursnee wat Saterdag oor Botswana die atmosfeer binnegekom en gelukkig meestal uitgebrand het.

Indien dit nie uitgebrand het in 'n vuurbal nie en 'n stuk van 2 m in deursnee het die grond getref, sou dit groot skade aangerig het.

Tim Cooper van die Suid-Afrikaanse Astronomievereniging het gesê daar is reeds bepaal die energie van die asteroïed was 0,3 tot 0,5 kiloton.

Die asteroïed het die aarde se atmosfeer teen 61 155 km/h binnegekom.

Cooper verduidelik wat 'n mens sien in die video van Vicus van Zyl, wat tussen Hartbeesfontein en Ottosdal in Noordwes boer. Dit is met 'n veiligheidskamera afgeneem.

Die asteroïed begin brand 100 km bo die aarde se oppervlak en dit bly brand tot sowat 30 km of 40 km bo die oppervlak. Dan sien 'n mens die vuurbal, wanneer hy ontplof of disintegreer, vertel Cooper.

Daarna gee hy nie meer lig af nie en het hy dalk heeltemal uitgebrand of dalk kon klein stukkies oor 'n baie groot gebied na die aarde geval het.

“'n Klomp mense dink dit is sommer hier ­anderkant wat dit gebeur indien jy dit sien. Dit is egter baie hoog en baie ver. Dit is in 'n groot gebied ­waargeneem, onder meer in Gauteng, Noordwes, die Noord-Kaap, Bo­tswana en Namibië,” het Cooper gesê.

Hy het gesê hulle het nog nie inligting ontvang dat iemand 'n reuseontploffing gehoor het nie. Daar is reeds mense wat soek na fragmente.

Cooper sê dit is sowat agt ure voor dit in Suid-Afrika gesien is, deur die Catalina-­­teleskoop in Arizona, Amerika waargeneem.



DERDE KEER

Dit is nog net die derde keer dat 'n asteroïed opgespoor is voordat dit die atmosfeer binnedring, het dr. Paul Chodas van Nasa se sentrum wat soek na voorwerpe na aan die aarde, gesê. En dit is die tweede keer dat die plek van impak redelik lank voor die tyd voorspel kon word.

Asteroïde is rotsagtig en oorblyfsels van toe die sonnestelsel 4,6 miljard jaar gelede gevorm het. Hulle kom voor in 'n gebied bekend as die asteroïdegordel tussen die wentelbane van Mars en Jupiter. Op 15 ­Februarie 2013 het 'n asteroïed van 20 m in deursnee 30 km bo die oppervlak in Rusland ontplof. Dié ontploffing was 20 tot 30 keer kragtiger as die atoombom­ontploffing in Hirosjima en die lig helderder as die son. Die skokgolf het 1 500 mense beseer.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!