Baie stu00e9u00e9ds lugtig vir kouevleis
Baie stu00e9u00e9ds lugtig vir kouevleis

Baie stééds lugtig vir kouevleis

’n Kosprodusent sê teen Augustus verlede jaar het hy slegs 80% van die volume hoenderpolonie en -worsies verkoop wat hy vóór die epidemie verkoop het.
Hanlie Stadler – ’n Jaar nadat Enterprise-polonie geïdentifiseer is as die bron van die listeriose-epidemie waarin 183 mense dood is en 674 siek geword het, bly Suid-Afrikaanse verbruikers lugtig vir kouevleise.

Die kosprodusent RCL Foods, wat Rainbow besit, sê teen Augustus 2018 het hy slegs 80% van die volume hoenderpolonie en -worsies verkoop wat hy vóór die epidemie verkoop het. Die epidemie het sy hoogtepunt in Desember 2017 beleef, maar dit het eers in Maart 2018 bekend geword dat die Enterprise-fabriek in Polokwane die bron daarvan was.

Enterprise behoort aan een van RCL se mededingers, Tiger Brands, wat nou deur ’n groepsgeding in die gesig gestaar word.

Rainbow het in Maart verlede jaar sy Wolwehoek-aanleg in die Vrystaat, waar Weense worsies en polonie uit hoender vervaardig word, as ’n voorkomende maatreël toegemaak en alle produkte aan winkels onttrek. Dit was voordat die departement van gesondheid die bron van die spesifieke bakterie opgespoor het.

RCL het sedertdien R22,5 miljoen in hoëdruk-verwerkingstoerusting belê om voedselveiligheid te verhoog. Hy bestee ook heelwat geld aan bemarking, het sy polonie in ’n nuwe verpakking bekend gestel en gaan later vanjaar ’n nuwe verpakking vir sy hoenderworsies bekend stel. Danksy dié ingrypings is die groep vol vertroue dat hy verkope tot vlakke van voor dié epidemie sal kan herstel.

Die maatskappy het Maandag sy resultate vir die ses maande tot einde Desember uitgereik. Sy inkomste het met net 3,5% tot R13,3 miljard gestyg, maar sy wesensverdienste (’n maatstaf van wins wat eenmalige items uitsluit) het met 26,3% tot R475,1 miljoen geval.

Ondanks dié daling het RCL se aandeelprys Maandagoggend met tot 8% tot R13,90 opgeskiet voordat dit teen middagete tot R13,85 teruggesak het.

In syfers

RCL Foods se syfers vir die ses maande tot einde Desember 2018, vergeleke met dieselfde helfte van 2017:

· Inkomste styg met 3,5% tot R13,3 miljard

· Ebitda (wins voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywings) daal met 9,9% tot R1,08 miljard

· Wesensverdienste daal met 26,3% tot R475,1 miljoen

· Wesensverdienste per aandeel daal met 26,4% tot 54,8c

· Tussentydse dividend van 15c per aandeel

Die groep se suiker- en hoenderafdeling is albei deur die storting van goedkoop oorsese produkte in Suid-Afrika geraak.

“Ons hou aan om met die regering in gesprek te tree ten einde die weg te baan vir ’n gelyke speelveld in die hoender- en suikermark,” sê Miles Dally, uitvoerende hoof.

RCL Foods oorweeg ook nou alternatiewe gebruike vir suikerriet, insluitend etanolproduksie, kragopwekking en bioplastiek.

RCL Foods doen verslag in drie afdelings: verbruikersgoedere (onder meer hoender, kruideniersware en pasteie), suiker en meulenaars (suiker, meel en gebak, asook dierevoer) en logistiek (vervoer en koelbewaring).

Verbruikersafdeling

Dié afdeling sluit in hoender (Rainbow en Farmer Brown), kruideniersware (Ouma-beskuit, Yum Yum-grondboontjiebotter en Nola-mayonnaise), pasteie (Pieman’s), drinkgoed (Mageu) en spesialisprodukte (voorbereide disse, biltong en pizzas).

· Inkomste styg met 0,8% tot R6,7 miljard

· Ebitda styg met 5% tot R624,1 miljoen

· Ebitda-winsgrens styg met 0,4 van ’n persentasiepunt tot 9,3%

· As die R105 miljoen wins op die verkope van dormante hoenderplase en ander eenmalige items uitgelaat word, het die afdeling se ebitda met 17,2% tot R485 miljoen gedaal.

Die storting van goedkoop hoender uit Brasilië en Amerika druk steeds pryse af, sê RCL. Daarteenoor het insetkoste skerp gestyg.

Suiker en meulenaars

Dié afdeling sluit in suiker, meel en gebak, asook dierevoer.

· Inkomste styg met 6,9% tot R7,6 miljard

· Ebitda-winsgrens daal met 2,4 persentasiepunte tot 4,7%

· Ebitda daal met 28,5% tot R358 miljoen

Die groep se produksie van suiker het met 12,7% tot byna 430 000 ton gestyg, maar die ebitda van die suikerafdeling het met byna 70% tot R63,5 miljoen gedaal en die ebitda-winsgrens het van 7,1% tot net 2,2% gedaal.

Gee ons krag

RCL wek 25% van sy kragbehoefte by suikeraanlegte self uit biogas en sonkrag op en mik daarna om dit op mediumtermyn tot 50% te verhoog. Hy behaal ook groot sukses met sy anaërobiese-verteringsaanleg in Worcester en gaan ’n soortgelyke aanleg in Rustenburg bou. Anaërobiese vertering is wanneer organiese afval in tenks gehou word en die biogas wat uit die vertering ontstaan, gebruik word om krag mee op te wek.

Plaaslike verbruik van suiker het met tot 10% gedaal sedert die inwerkingstelling van die suikerbelasting in April 2018. Meer ongeraffineerde suiker is uitgevoer, maar uitvoerpryse is heelwat laer as plaaslike pryse weens laer wêreldwye suikerpryse.

Die departement van handel en nywerheid het in Augustus sy dollar-verwysingsprys vir suiker met 19,5% verhoog en invoertariewe verhoog, wat volgens RCL tot ’n “merkbare daling” in suikerinvoer gelei het. Daar is egter nog ’n groot voorraad ingevoerde suiker in die mark.

RCL het ’n versoetervervaardiger aangeskaf om sy produkreeks uit te brei.

Logistiek

Dié afdeling doen verspreiding en koueberging deur sy filiaal Vector.

Vector het in die halfjaar ’n langtermynkontrak met Pick n Pay gesluit om bevrore kos, insluitend roomys, te vervoer.

· Inkomste styg met 7% tot R1,077 miljard

· Ebitda daal met 16,3% tot R88,5 miljoen

· Ebitda-winsgrens daal met 2,3 persentasiepunte tot 8,2%

Die daling in ebitda word toegeskryf aan hoër bedryfskoste – onder meer die styging in brandstofpryse. Die prys van diesel het in Oktober die hoogte vlak tot nog toe behaal.

RCL het in die halfjaar ’n 45%-belang bekom in die Zambiese firma L&A Logistics, wat die kontrak het om produkte soos Cadbury, Dentyne en Bavaria in dié land te versprei.

Vooruitsigte

RCL Foods verwag dat die uitdagende handelstoestande in Suid-Afrika weens die trae ekonomie sal voortduur. Die algemene verkiesing in Mei “gaan na verwagting ’n lang tydperk van onsekerheid meebring”.

Die groep is ook bekommerd oor die hoë risiko van arbeidsonstabiliteit. Die afgelope halfjaar het die groep onder stakings by sy Rustenburg-bakkery en sy Centurion-aanleg deurgeloop, waar produksie selfs na ander plekke verskuif moes word.

Grondhervorming

RCL hou sy grondoordragprogramme in die Nkomazi-streek van KwaZulu-Natal voor as ’n werkbare model vir grondhervorming.

“Ons bemagtig en ondersteun plaaslike gemeenskappe as vennote in die suikerrietkweekbedryf en ondersteun kleinskaalse suikerrietkwekers met finansiering en ander vaardighede wat vereis word om hul ondernemings volhoubaar te maak.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!