Bakkie op een dag gekoop én gesteel

Die geluk was Woensdag nie aan 'n vermeende motorkaper se kant nie toe hy dit met vervalste MTC-plakkers geparkeer het – juis daar waar lede van dié maatskappy 'n vergadering sou hou.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – 'n Vermeende dief wat 'n Toyota-bakkie verlede week tydens 'n “toetsrit” op Otjiwarongo gekaap het, het nie rekening gehou met uitgeslape MTC-werknemers nie.

Hy kon ook nie geweet het dat hulle toevallig Woensdag 'n vergadering sou hou by dieselfde hotel in Windhoek waar hy die gesteelde voertuig geparkeer het en boonop dadelik agterdogtig sou raak oor die nagemaakte MTC-plakkers daarop nie.

Die Windhoekse stadspolisie het intussen bevestig dat die bakkie die gekaapte een van Toyota Pupkewitz op Otjiwarongo is en dat dit eergister in die kelder van die Palm Hotel gevind is. Een verdagte is reeds in verband met die saak in hegtenis geneem en die ondersoek duur nog voort.

Die stadspolisie het die bakkie se nommerplaat en lisensieskyf op hul stelsel nageslaan en gesien dat dit aan 'n ander motor behoort. Hulle het beslag op die motor gelê.



AGTERDOGTIG

MTC se woordvoerder, mnr. John Ekongo, het gesê MTC-werknemers het Woensdag toevallig 'n ontbytvergadering by die Palm Hotel in Windhoek-Wes gehad. Dié spesifieke oggend het hulle binne die kelder geparkeer.

“Ons het toe 'n Toyota Legend 50 bakkie gesien wat met MTC-regalia gemerk is. Ons het agterdogtig geraak omdat dit die tyd van die oggend in 'n hotelkelder geparkeer staan, asook oor die manier waarop die plakkers op die voertuig aangebring is.

“MTC is baie spesifiek oor hóé ons voertuie gemerk word. Ons het dus ons vlootbestuurder gekontak en gesê hier is 'n voertuig wat soos 'n MTC-voertuig lyk, maar iets is vreemd omtrent die bakkie.”

Ekongo sê hulle motors doen veldwerk en is gewoonlik ook met 'n sleepstang, bosbuffer en met 'n spesifieke soort handelsmerk vir bande toegerus.

“Die vlootbestuurder het na die voertuig kom kyk en vasgestel dis nie op MTC se rekords nie. Ons het die polisie onmiddellik geskakel,” het Ekongo gesê.

“Ons is 'n verantwoordelike maat­skappy en wil nie hê dat enige iemand sonder magtiging met ons handelsmerk rondry nie,” het hy bygevoeg.



OP EEN DAG

Toyota Pupkewitz Otjiwarongo se mnr. Hendrik Esterhuysen sê die bakkie is op dieselfde dag gekoop én gesteel.

“Ons het verlede Maandag ook bevestiging van die bank gekry dat die motor verkoop is. Hy is dus verkoop en gesteel op dieselfde dag,” sê Esterhuysen.

“My verkoopspersoon, mnr. John Iitenge, is op dieselfde dag tydens 'n 'toetsrit' net buite die dorp met pepersproei in die gesig gespuit en met 'n geweer oor die kop geslaan. Toe is die bakkie weg.

“Die polisie het na die motor gesoek en ons het gerugte gehoor dat die bakkie in Owamboland en toe in Botswana is.

“Gister (Woensdag) het die Windhoekse stadspolisie my ­gekontak om te sê die motor staan by 'n hotel in Windhoek-Wes,” het hy gesê.

“Ons is net baie bly ons het die motor teruggekry en dat dit ongeskonde is, want nou kan ons dit aan die koper besorg,” het hy gesê. Hy sê hulle moet ekstra onkoste aangaan om die slotte en alarm te vervang, maar die hoofsaak is die motor is gevind.

Esterhuysen sê toe die bakkie Woensdag gevind is, het die polisie vasgestel die lisensieskyf en nommerplaat wat daarop aangebring is, behoort aan 'n ouer 2012-model.

“Die een van ons wat gekaap is, is 'n 2020-model. Die motor is ingesleep en Toyota het die enjinkap van onder oopgemaak.

“Ons het vasgestel die bakkie se voorruit is vervang, want op die oorspronklike kom die voertuig se identifikasie-nommer (VIN) voor. Die VIN-nommer, wat ook by die regteragterwiel op die onderstel uitgeslaan is, was toegeverf,” het Esterhuysen verduidelik.

Hy sê die bakkie se waarde is sowat N$590 000. Hy het almal hartlik bedank wat betrokke was om die motor terug te vind.

[email protected]

FOTO VERSKAF
MTC se werknemers was agterdogtig oor die manier waarop die plakkers op dié motor aangebring is.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer