'Balans terug' in wildbedryf
Aldi Schoeman - Die prys van wild van sekere kleurvariante kan vanjaar verder verswak nadat dit die afgelope twee jaar reeds skerp gedaal het.
Goue wildebeeste is byvoorbeeld in 2015 vir gemiddeld R1 007 031 per bul verkoop. In 2017 was die gemiddelde prys maar R23 190, volgens veilingsyfers van Vleissentraal.
Dr. Flippie Cloete, 'n senior lektor in landbou-ekonomie aan die Noordwes-Universiteit (NWU), sê die pryse van skaarser kleurvariante, soos koningswildebeeste, saalrugblesbokke en Zambiese swartwitpense, is steeds hoog en kan vanjaar verder daal.
Die pryse van onder meer goue wildebeeste, swart rooibokke en blesbokvariante het reeds sedert Augustus verlede jaar nie veel beweeg nie. Cloete verwag dié pryse sal vanjaar stabiel bly.
Een van die redes waarom die pryse aanvanklik begin daal het, was die droogte.
Pleks daarvan dat boere nog diere gekoop het, het hulle voer gekoop, sê Cloete.
“Van 2016 af het ons weer begin reën kry, maar ons sit nou in 'n konsolidasiefase.”
Mense wat in die droogte moes skuld maak, betaal dit nou af.
Die gewasprodusente wat begin diversifiseer het na wild, het weens die droogte minder geld gehad om diere te koop.
Verder was meer diere te koop omdat meer diere geteel is, wat pryse verder laat daal het. Die dalende pryse het veroorsaak dat nóg meer diere verkoop is, want mense moes meer verkoop om dieselfde inkomste te kry om al die rekeninge te betaal.
Boonop het baie mense wat wild gekoop het, dit bloot as 'n belegging beskou, en baie van hulle was buitelanders, sê Cloete.
BELEGGERS ONSEKER
“Die dalende pryse en vrae oor waar dit gaan eindig, het hierdie beleggers onseker gemaak.”
Beleidsonsekerheid oor moontlike grondonteiening het beleggers ook afgeskrik.
Cloete sê omdat baie van dié faktore vanjaar steeds geld – boere is steeds in 'n konsolidasiefase, beleidsonsekerheid duur voort, die aanbod bly hoog – gaan pryse vanjaar onder druk bly.
In die jagbedryf is daar egter “nuwe lewe”.
“Toe die telery so winsgewend word, het baie mense daarop gefokus. Die balans kom stadig terug.”
Die pryse van trofeejagspesies, soos koedoes, blouwildebeeste, waterbokke en elande – veral die bulle – sal hierby baat vind.
Toe die kleurvariante se pryse nog hoog was, het Fred Camphor, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV), al geglo dat 'n prysborrel ontwikkel wat die een of ander tyd sou bars.
Camphor sê die buitensporige pryse van kleurvariante het ook die pryse van spesies wat verbruiksjagters jag, opgestoot. Dit sluit in rooibokke, koedoes, springbokke en blesbokke.
Dit is omdat mense veral ooie gekoop het vir die teel van die kleurvariante.
Dié pryse het nou gestabiliseer en baie jagplase doen nou weer meer moeite met verbruiksjagters. Ook Camphor sê die droogte het 'n groot impak op pryse gehad.
Eerstens moes mense mooi dink voordat hulle nuwe diere koop omdat hulle moes seker maak hulle kan dit bekostig om daardie diere te voer.
Tweedens wil baie mense nie hul diere voer en hulle dan terselfdertyd jag nie.
“As jy die trekker aansit, hardloop die diere na die voerbakke toe vir kos.”
Dikwels word dieselfde voertuie gebruik om kos en jagters mee te vervoer. “Dit is vir my eties verkeerd om dan te jag.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie