Balie ontstoke oor aanval op regbank
Balie ontstoke oor aanval op regbank

Balie ontstoke oor aanval op regbank

Die Namibiese balie het heftig gereageer op uitlatings deur die waardeerder-generaal, mnr. Protasius Thomas, wat die regbank se grondwetlike onafhanklikheid glo ondermyn.
Denver Kisting
Denver Kisting - Die genootskap van ­advokate het hom op president Hage Geingob beroep om die Grondwet te beskerm en om die regering amptelik van die adjunk-waardeerder-generaal, mnr. Protasius Thomas, se onverantwoordelike uitlatings te laat afstand doen.

Die genootskap het skerp te velde getrek teen wat hulle noem 'n ongeoorloofde aanval op die ­integriteit van 'n regter.

Dít kom nadat Thomas verlede week adjunk-regter-president Hosea Angula van partydigheid beskuldig het.

Die vereniging sê by monde van sy visepresident, ­advokaat Gerson Narib: “Hoewel reg­ver­dige kritiek van 'n hofuitspraak toelaatbaar is, is 'n ­ongeregverdigde aanval op die integriteit van 'n regter nie.”

Volgens Narib sien hulle dié “skandalige aanval deur die adjunk-­waardeerder-generaal op die integriteit van die adjunk-­regter-president in 'n baie ­ernstige lig”.

“Dit is nie net 'n skending van die grondwetlike gewaarborgde onafhanklikheid van die regbank nie, maar 'n poging deur 'n senior regeringsamptenaar om die ­onafhanklikheid van die regbank te ondermyn,” sê hy.

'n Hofuitspraak wat die betaling van grondbelasting ten bedrae van nagenoeg N$80 miljoen uitstel, plaas ­grondhervorming op die spel. Só het Thomas verlede week aangevoer.

In die eerste plek, het Thomas uitgevaar, moes adjunk-regter-president Angula nie op die bank gewees het nie.

Thomas beweer die regter was nie onpartydig nie en moes homself verskoon het.

Daarnaas bring voorverlede week se uitspraak in die hoërhof in Windhoek 'n aantal regs­prosesse in die gedrang, sê hy.

Sonder 'n belastingklaring­sertifikaat kan die regering geen plaas vir hervestiging koop nie.

Boonop kan 'n boedel, wat kommersiële landbougrond insluit, nie afgehandel word nie, maan Thomas. Daar kan selfs nie om finansiering van grond aansoek gedoen word sonder sodanige ­dokument nie, het hy gesê.

“As daar nie spoedig opgetree word nie, sal daar geen mark vir grond wees nie. Die mark is ­verwring.”

Angula het voorverlede week gelas grondbelasting mag nie gehef word weens die ­vermeende onregmatighede van en onge­rymdhede met die ­berekening van grondwaardes, en die ­redelike veronderstelling dat boere daardeur skade sal ly nie.

Hy het 'n interdik uitgereik teen enige aanslag van grondbelasting op kommersiële landbougrond wat ingevolge die omstrede voorlopige hoofwaardasierol van 1 April 2012 betaalbaar is.

Dit is hangende hersienings­prosedures oor besware wat verlede jaar in die waardasiehof aangeteken is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!