Band met Tsjeggiese rugbyklub gevestig
Rugby
Andrew Poolman – Die eerste twee Namibiese baanbrekers vertrek moontlik reeds hierdie week na die Tsjeggiese Republiek om tot die einde van die jaar in dié land se rugbyliga te gaan speel.
Die senter van FNB Western Suburbs, Peter-John (PJ) Walters) en die flank Peter Diergaardt van FNB Unam is beide op pad om by Sparta-rugbyklub in die hoofstad Praag te gaan aansluit.
Walters (28) was 'n lid van die 2019 Wêreldbekerspan na Japan, waar hy as 'n plaasvervanger teen Italië opgestuur is en die toets teen die Springbokke begin het. Sy ander twee toetse was in Julie vanjaar in Abidjan, teen die Ivoorkus en teen Madagaskar.
Die stewig geboude Walters (102 kg, 1.87 m) het tevore ook Varsitybeker-rugby vir die Universiteit van Johannesburg gespeel en die Leeus op Vodacom- en Curriebekervlak verteenwoordig. Hy was in Hoërskool Upington.
Op sy beurt het die jonger Diergaardt (22) hom reeds op elke vlak sover bewys as 'n losvoorspeler wat geen span in die steek sal laat nie.
Een van sy beste individuele vertonings was in September 2018 in Boekarest, op die derde wedstryddag van die Wêreldrugby Onder 20 Trofee-toernooi. Nadat die Namibiërs reeds met oorwinnings teen die gasheerland Roemenië en Hongkong afgeskop het en rustyd teen die swaargewig Samoa voorgeloop het, was Diergaardt een van die min manne wie se verdediging en werktempo nie afgeneem het nie, ondanks die verloorwedstryd met 41-28.
Diergaardt, wat vanuit Windhoek Gimnasium 'n lid van die laaste span by die o.18 Cravenweek was voordat Namibië uit die provinsiale skoletoernooi weggelaat is, het ná skool 'n junior kontrak by die Blou Bulle beklink en was vir die volgende seisoene in hul o.20-groep.
Sedert sy terugkeer na Windhoek het hy eers premierliga-rugby vir Wanderers gespeel en vanjaar dieselfde vir FNB Unam gedoen. Hy was ook 'n lid van die Namibiese sewesspan wat in November 2019 by die Afrika-toernooi in Johannesburg meegeding het.
Rohan Kitshoff, tans afrigter van Wanderers, sê die Sparta-klub in Praag het by Wanderers navraag gedoen oor die moontlikheid om twee voorspelers en 'n agterspeler van hier te verkry.
“Ons het die geleentheid aan die Wanderers-spelers voorgelê, maar die meeste kandidate kon weens werkverpligtinge nie die kans gebruik nie. Ons wou nie die geleentheid ongebruik laat verbygaan nie en hoewel Peter intussen van ons klub af na Unam oorbeweeg het, is hy 'n verdienstelike speler met potensiaal om op 'n hoër vlak te kompeteer.
“Peter het belang gestel om oorsee te gaan speel en ons het sy CV ingedien. Sparta het feitlik dadelik belang gestel en dit klink my die visumproses en vliegkaartjies is feitlik reeds gereël.
“Van Wanderers se kant sien ons hierdie as 'n goeie geleentheid om toenemend sterker verhoudings met oorsese klubs op te bou. Ons glo daar is heelwat spelers wat enige dag so 'n kans sal wil aangryp om deur rugby die wêreld te sien.
“Ons glo dat ons waardige spelers behoort te stuur wat as ambassadeurs op en van die veld en as 'n goeie uitvoerproduk die oorsese profiel van Namibiese rugby kan ophef en die deur nog groter oopmaak vir meer van hul landgenote.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie