Bangladesj wys klas teen o.19's

Krieket
Die krieketvernuf van Bangladesj was Saterdag te veel vir Namibië in die openingswed­stryd van groep C by die onder 19 Wêreldbeker in Nieu-Seeland.

Reënerige toestande het veroorsaak dat die wedstryd by die Bert Sutcliff-veld in Lincoln verkort is tot 20 boulbeurte per span, eerder as die normale vyftig.

Volgens Namibië se afrigter, die Guyanees gebore Engelsman Robbie Joseph, was hy met tye in sy skik met die energie wat die boulers en veldwerkers getoon het om Bangladesj te probeer beperk. As toetsspelende nasie was Bangladesj volgens hom egter die meer afgeronde en beter voorbereide span.

Die aggressiewe kolfwerk van die Asiate se kaptein, Saif Hassan, was deurslaggewend toe hy 84 lopies van net 48 balle gemoker het. Hy het vyf sesse geslaan en sodoende grootliks bygedra om sy span se formidabele totaal van 190 vir vier te help opstel.

Nadat Dewald Nell die eerste slag geslaan het om Pinak Ghosh op 26 deur Gerhard Lottering te laat uitvang met Bangladesj se totaal op 33/1, het die groen-en rooi kolwers ten volle beheer oorgeneem.

Saif het as kolwer nommer drie aangesluit by die aanvangskolwer Mohammad Naim (60 van 43 balle, 8x4 1x6) en hul vennootskap van 97 lopies was die doodsteek.

Petrus Burger (1/31 in 4 boulbeurte), Dewald Nell (1/22 in 3 bb), Ben Shikongo (1/36 in 3 bb) en Shaun Fouché (1/35 in 4 bb) het paaltjies platgetrek.

Namibië is 'n gevoelige slag toegedien toe sy kaptein Lo-han Louwrens met die laaste bal van die tweede boulbeurt uitgevang is vir net 4 lopies. Toe Jurgen Linde (4) boonop in die volgende boulbeurt uitgehardloop is, het die druk nog erger begin oplaai.

Shaun Fouché (1) en Erich von Mollendorff (0) het beide in die vierde boulbeurt hul paaltjies verloor.

'n Vasberade vyftigtal deur Eben van Wyk was die hoogtepunt van die Namibiese kolfbeurt. Met 55 lopies van 52 balle het hy verantwoordelikheid vir die situasie geneem, terwyl hy ook 'n bruikbare kolfmaat in Nicol Loftie-Eaton (24 van 26 balle, vier viere) gevind het. Die twee het vir tien boulbeurte saam gekolf om die telling vanaf 12/4 tot 81/5 te voer.

Die Namibiërs het egter hul 20 boulbeurte op 103/6 afgesluit.

Van Wyk, wat ten tyde van die span se vertrek uit Windhoek nog 'n beskermende skut gedra het nadat hy 'n paar dae tevore teen die hand raakgeboul was, is een van vier oorblywende spelers wat in hul tweede WB-toernooi in aksie is. Saam met Louwrens, Linde en Burger is hy een van die senior figure in die span en sy terugkeer tot goeie kolfvorm is welkome nuus vir die Namibiese aanslag in die toernooi.

• Namibië se tweede wedstryd is vandag op dieselfde veld teen die ewe gedugte Engeland – 'n uitslag wat vanweë die tydverskil reeds vanoggend bekend behoort te wees.

Vandag se ander wedstryd in groep C is Bangladesj teen Kanada.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!