Banke, beleggers keer rug op fossiel-brandstof
Banke, beleggers keer rug op fossiel-brandstof

Banke, beleggers keer rug op fossiel-brandstof

Francois Williams – Die grootste noodsituasie wat die mensdom nóg in die gesig gestaar het, is klimaatsverandering, het Ian Dunlop, voorsitter van Safe Climate Australia en ’n lid van die Club of Rome, Woensdag gewaarsku.

Hy het op die jaarvergadering van die Club of Rome gesê as gemiddelde temperature in die wêreld met 3 °C styg, is wydverspreide chaos die gevolg. Dit kan teen 2050 dié vlakke haal as niks gedoen word nie, en die wêreld is op koers om teen 2030 al ’n gemiddelde verhoging van 1,5 °C te haal.

Die een belangrikste oplossing wat nodig is, is om op te hou om fossielbrandstowwe te gebruik, sê Dunlop.

“Beleggers en banke weier toenemend om in projekte vir fossielbrandstof te belê, terwyl oliemaatskappye steeds lyk asof hulle vasbeslote is om voort te gaan met uitbreiding hierin, ondanks die gevolge vir die klimaat.”

Ekonomieë wat ryk is aan fossielbrandstof staan die stryd teen klimaatsverandering teen, soos Amerika, Kanada en Australië. Daardie lande wil nie die klimaatkrisis as ’n noodgeval beskou nie, sê Dunlop.

Dhesigen Naidoo, uitvoerende hoof van die Waternavorsingskommissie in Suid-Afrika, het egter in ’n paneelbespreking gewaarsku kolonialisme is steeds lewend. Afrika beheer nie sy eie hulpbronne nie. “Die fossielbrandstof-ekonomie is baie goed ingegrawe. Almal wat pensioenfondse het, is finansiers van dié ekonomie.”

Naidoo meen die watersektor gebruik te veel energie. Rioolstelsels kan veel doeltreffender bestuur word en watersuiweringsaanlegte kan hul eie energie opwek deur biogas op te vang, benewens uitgedroogde rioolslik wat as brandstof gebruik kan word.

Wie is die Club of Rome?

Die Club of Rome is ’n gesaghebbende internasionale dinkskrum-organisasie wat op die omgewing en die wêreldekonomie se impak daarop fokus.

Dit is die eerste keer sedert die Club of Rome se ontstaan in die 1970’s dat dié organisasie sy jaarvergadering in Suid-Afrika hou, saam met die Universiteit Stellenbosch se Instituut vir Toekomsnavorsing.

Verstedeliking

Edgar Pieterse, direkteur van die African Centre for Cities, sê net 40% van Afrika se bevolking is verstedelik, maar dit sal toeneem, terwyl stede in Afrika nie byhou met die nodige dienste om die groter verstedeliking te hanteer nie.

Dit impliseer ekonomiese kwesbaarheid en afhanklikheid.

Pieterse waarsku regerings in Afrika is hoogs gesentraliseer en weerstaan pogings om groter mag aan plaaslike regerings te gee om hul omstandighede te verbeter.

Afrika se verstedeliking groei die vinnigste van alle streke in die wêreld, maar dit gebeur te midde van beperkte nywerheids- en vervaardigingsgroei. Saam met bevolkingsgroei lei dit tot ’n ontsaglike groot arbeidsmark vir wie daar nie werk is nie.

Maar Pieterse meen dis debatteerbaar of industrialisering die regte oplossing is. Die druk van verstedeliking lei soms tot grandiose en duur stadsbeplanningsprojekte wat net investering insuig en glad nie aan die ware behoeftes van die bevolking voldoen nie.

Die staatsgedrewe beleidsagendas wat voorgehou word as oplossing, is volgens Pieterse nie voldoende en van toepassing op die werklike probleme in Afrika nie.

Daar is beperkte demokratiese desentralisering en fiskale devolusie.

Hy meen ’n meer volhoubare verstedelikingsplan vir Afrika sluit in werkskepping in alle sektore, omgewingsvolhoubaarheid, maatskaplike insluiting, en bekwaamheid in sowel staats- as private instellings.

Ekonomie in diens van kultuur

Prof. Soitsjiro Foekoetake, president van Benesse Holdings en ’n adviseur vir die Club of Rome, het op die jaarvergadering vertel van sy projek by ’n paar klein Japanse eilandjies wat weens mynbedrywighede teen die 1950’s erg geskaad is en as nywerheidstortingsterreine misbruik is. Foekoetake het dit help omskep in ’n natuur-lushof en ’n omvattende opelug-kuns- en argitektuurprojek.

Foekoetake sê die ekonomie moet die dienskneg van kultuur wees, en nie andersom nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!