Bankrot Toys R Us herleef dalk in VSA
Bankrot Toys R Us herleef dalk in VSA

Bankrot Toys R Us herleef dalk in VSA

Amerikaanse kinders moes dalk net een Kersfees sonder die speelgoedreus Toys R Us verduur.

Net meer as ’n jaar nadat die groep se Amerikaanse winkels in Maart verlede jaar bankrot gespeel het, word beplan om weer sowat ses winkels en ’n aanlyn winkel te open.

Richard Barry, ’n voormalige bestuurder van die groep wat nou die nuwe entiteit, Tru Kids, se uitvoerende hoof is, het verlede week op ’n konferensie vir die speelgoedbedryf sy idee aan speelgoedvervaardigers voorgelê. Tru Kids besit die handelsnaamregte vir Toys R Us en Babies R Us.

Die winkels gaan net sowat ’n derde so groot as Toys R Us se vorige reusewinkels wees. Die winkels gaan ook speelplekke bevat.

Die plan is om speelgoedvervaardigers te oortuig om speelgoed op ’n konsessiegrondslag te verskaf, wat beteken die winkel betaal nie vir die voorraad totdat verbruikers dit koop nie.

Tru Kids is nog nie bereid om sy planne openbaar te maak nie en Bloomberg het met mense met binnekennis daarvan gepraat.

Toys R Us het nagenoeg $7 miljard se verkope by meer as 700 winkels, insluitend Babies R Us-takke, gehad voordat die groep weens skuldprobleme gelikwideer is.

Speelgoedverkope daal wêreldwyd soos wat kinders al hoe minder met fisieke speelgoed speel en al hoe meer videospeletjies verkies.

Die sluiting van Toys R Us het groot geleenthede vir Walmart, Target en die aanlyn winkel Amazon geskep. Hulle het almal hul speelgoedversameling uitgebrei. Amazon het selfs ’n speelgoedkatalogus gedruk.

Talle speelgoedvervaardigers het geld verloor toe Toys R Us gelikwideer is en dit wil voorkom of daar steun is vir die nuwe plan.

MGA Entertainment, wat onder meer Bratz-poppe, Little Tikes en die LOL Surprise!-speelgoed vervaardig, is gretig om met die nuwe Toys R Us sake te doen.

“Die mark het ’n alleenstaande speelgoedwinkel nodig, dis seker,” sê Isaac Larian, MGA se uitvoerende hoof.

Toys R Us in Australië en Brittanje het ook gesluit. Filiale in Asië en Kanada is deur nuwe eienaars verkry.

Die nuwe plan sluit in om Toys R Us en Babies R Us weer na Australië te neem met die hulp van ’n vennoot.

In Suid-Afrika word die lisensie vir die handelsname Toys R Us en Babies R Us deur Amic Trading besit en die winkels is nie geraak deur die Amerikaanse bankrotskap nie. Die winkels word heeltemal onafhanklik bedryf. – Bloomberg, verkort en bygewerk – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!