Barok is poeding vir die oog
Pedro Vorster - Op Ljubljana se Presenter-plein speel ’n straatmusikant Bob Dylan, Paul Simon en die Beatles, glad nie te vals nie. Oorkant hom staan ’n middeljarige man in tradisionele drag wat ou deuntjies op ’n trekklavier speel. Sy tradisionele musiekklank eggo terug van die omringende ou geboue. Hy pas meer op die dorpsplein as sy jong kompetisie in jeans, maar popkultuur, doof vir sentimentele tradisie, wen gemaklik en die munte val een tot tien in hul aparte hoede.
Uit ’n tradisie van vlamme, verdagte brandstigting en nogmaals vuur, rys die katedraal van Ljubljana. Barok-argitektuur is nie behoorlik Barok as dit nie oordadig is nie. Ljubljana se katedraal het dit. Die kerk is te mooi om voor nee te sê en smelt getrou die Barok-boustyl, -beelhouwerk, -skilderkuns en -argitektuur saam.
In Spaans is een betekenis van Barok “onreëlmatige pêrel”. Kenners meen die boustyl is ook sinoniem met uitspattigheid, verwrongenheid, ongewoonheid en absurditeit.
Ljubljana se katedraal is nou nie so groot soos die Notre Dame, of so somber soos Edinburgh se Sint Giles nie, maar nogtans is die belewenis binne vir die oog soos ouma se krismispoeding: hopeloos te veel, te soet en ongesond, maar verstommend heerlik.
Kan die koor kloekende Japannese toeriste, meestal vroue, wat vergader voor die bronsreliëf-hoofingangsdeur verkeerd wees?
Ou Europese kerke word nie sonder erge struweling gebou nie. So was dit ook met dié katedraal.
In 1262 word die eerste keer geskryf oor die kerk. In 1361 brand dit af en word herstel in die Gotiese boustyl. Een eeu later brand die kerkgebou weer af. Ná herstelwerk in 1461 volg die instelling van die bisdom van Ljubljana en verkry dit katedraal-status. Dit neem ’n skamele 8 jaar vir vandale om weer eens die gebou aan die brand te steek. Hierdie keer word die Turke verdink.
Dekaan Thanitscher neem in 1700 die inisiatief en die monnik Ponnensis, vermoedelik van Milan, word genader om planne op te trek.
Hy ontwerp ‘n nuwe Barok-saalkerk. Skaars ’n jaar later, toe konstruksie reeds aan die gang was, word die planne verander deur die Jesuïet-argitek, Pozzo. Die nuwe ontwerp is ’n basilika met ‘n bygevoegde dom. Die bouers pas egter die plan in sy afwesigheid aan, want hy is nie gevra om toesig te hou nie en. . . so gaan dit aan tot, eindelik na 6 jaar, in 1841, die dom voltooi word en die kerk tot almal se verbasing klaar staan. ’n Wonderwerk op sigself!
Binne is die spel van teksture, lig en donkerte voltyds aan die gang. Die kunswerke en goue, swierige versierings roep oordadig onbeskaamd in glorie uit. Foto’s kan vrylik geneem word, maar gee ten beste ‘n gefragmenteerde geheelbeeld. Die gewyde stilte binne moet beleef word, toegang is gratis.
Slowenië is ’n gebied wat afgestig het van die destydse Tsjeggo-Slowakye. ‘n Groot dankie aan bedagsame politici wat ‘n naam gekies het wat makliker is om te spel. Tot dusver is Slowenië die enigste deel van die vorige Tsjeggo-bedeling wat toegelaat is in die Europese Unie.
My toets vir ’n kuierland is, sal ek weer wil teruggaan? Het ek genoeg ervaar? Hier is die antwoord beide “ja” én “nee”. Die Sloweense platteland lê nog onontdek. Slowenië grens aan Oostenryk, Italië, Kroasië en Hongarye en in die omringende Alpe is verskeie ski-oorde. Die Kamnik-kasteel en Romaanse kapel, teen kranse opgerig, is ’n skamele 20 km van Ljubljana af. Bled lê 54 km weg en het ’n strandbeboude eiland in ‘n helder meer.
Was my verblyf aangenaam? Ja, die Ljubljaners is opgevoed, hoflik en hier is omtrent geen misdaad nie. Ja, soos in géén misdaad nie! Die plaaslike bier en wyn is lekker en die kos vreemd genoeg om die tong te interesseer. Verblyf is billik en bied waarde vir jou geldjie al maak die euro van ons dollar kaf.
Slowenië se Ljubljana is ‘n Barok-poeding. Byna te soet om waar te wees tot jy die eerste skeppie proe.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie