Basadi-operasie bekamp geweld teen vroue en kinders
Basadi-operasie bekamp geweld teen vroue en kinders

Basadi-operasie bekamp geweld teen vroue en kinders

Francoise Steynberg
'n Veldtog om die vermindering en bekamping van geweld teen vroue en kinders te versterk en terselfdertyd die operasionele vermoë en selfvertroue van vroulike polisiebeamptes te verhoog, het vanaf 23 tot 25 November in Namibië plaasgevind. Die veldtog, bekend as die Basadi-operasie, is ingevolge 'n besluit van 15 polisiehoofde van die Samewerkingsorga­nisasie van Streekpolisiehoofde vir Suidelike Afrika (SARPCCO) aangebied.

Die Basadi-operasie, in samewerking met die Nasionale Vrouenetwerk, moes lidstate aanmoedig om in hul verskeie streke soortgelyke veldtogte van stapel te stuur.

Onder meer is die inhegtenisneming van verdagtes, individue wat deur die polisie vir gevalle van geweld teen vroue en kinders gesoek word, ontvoering en seksuele mishandeling en uitbuiting van kinders op die internet en mensehandel geteiken.

Altesaam 2 632 deelnemers, van wie 2 152 vroulik en 480 manlik is, het aan die operasie deelgeneem. Hulle het onder meer die Namibiese weermag, die Windhoekse stadspolisie, mans- en vrouenetwerkgroepe teen geweld, en die ministeries van binnelandse sake en immigrasie; landbou, water en bosbou ingesluit.



SUKSESSE

Adj.komm. Edwin Kanguatjivi , hoofwoordvoerder van die Namibiese polisie, het hom soos volg uitgelaat: “Die operasie in geheel was baie suksesvol en die doelwitte is bereik. Al die belanghebbendes het aktief deelgeneem en die publiek het hulle samewerking gebied.”

Altesaam 55 bewusmakingsveldtogte van onder meer geslagsgeweld, die onderhoudswet en die wet op die bekamping van verkragting en 15 bewusmakingsveldtogte rakende maatskaplike toelae en kinderverwaarlosing, veral by sjebeens, is gehou.

Vier gevalle van verkragting is aangemeld en verdagtes is in al vier gevalle in hegtenis geneem.

"Die uitdagings het egter gekom met die 50 lasbriewe vir inhegtenisnemings wat uitgereik is, omdat baie van dié verdagtes nie 'n straatadres het nie en dit die opsporingsproses bemoeilik het. Terselfdertyd is sommige minderjarige en gestremde kinders gevind wat nog nie geregistreer is om die toelae te ontvang nie," het Kanguatjivi gesê.

Tydens die nasionale oorsig van die Basadi-operasie is vasgestel dat 88 verdagtes tydens die operasie in hegtenis geneem is. Van hulle is 22 mense wat aangekeer is in verband met aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Tydens dié operasie is beoog om 'n meer ingeligte publiek daar te stel en 105 vergaderings en inligtingsessies is by skole, plase, openbare gebiede, gevangenisse, nedersettings, en tradisionele owerhede gehou. Hoewel die fokus op geweld teen vroue en kinders was, is ander suksesse ook behaal. Altesaam 172 drankverkooppunte is besoek en 63 hiervan is vanweë oortredings van die drankwet gesluit.

“Soortgelyke projekte wat fokus op geweld teen vroue en kinders moet meer gereeld plaasvind en bewusmakingsveldtogte in skole, die gemeenskap en die tradisionele owerhede moet gehou word,” sê Kanguatjivi (foto regs).

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer