Basiese inkomstetoelae dadelik haalbaar
Basiese inkomstetoelae dadelik haalbaar

Basiese inkomstetoelae dadelik haalbaar

Kenners meen Namibië het in die huidige ekonomiese toestande steeds die finansiële kapasiteit om BIG in te stel.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith – Ondersteuners van basiese inkomstetoelae (BIG) vir Namibië sê die onmiddellike instelling daarvan is nie net uitvoerbaar nie, maar waarsku dat die afwesigheid van BIG die land se huidige ekonomiese stand waar vlakke van armoede, misdaad en ander verlammende maatskaplike kwessies reeds kommerwekkend is, sal vererger.

“Ons moet die koste vir die land oorweeg indien BIG nie ingestel word nie.

“Dit sluit in die stygende vlakke van armoede, ongelykheid, werkloosheid en misdaad sowel as algemene maatskaplike spanning. Dit blyk dus, ondanks of miskien as gevolg van die haglike ekonomiese omstandighede, sou 'n nasionale BIG 'n noodsaaklike ingryping wees,” waarsku die arbeidskenner mnr. Herbert Jauch.

Me. Rinaani Musutua van die BIG Coalition of Namibia en Jauch voer aan dat hoewel sommige skepties is oor die koste van die instelling van BIG en dit as “wensdenkery” beskryf, is daar realistiese maniere om 'n BIG onder huidige omstandighede te finansier.

“Daar is talle maniere waarop Namibië BIG kan finansier. Die eerste en belangrikste ding om oor die koste te verstaan, is dat dit veel goedkoper is as wat dit klink. As ons die aanvank­like koste van BIG oorweeg, moet mens verstaan dat die netto koste aansienlik laer is,” het Musutua verduidelik.

Indien sowat N$500 maandeliks toegeken word aan Namibiërs tussen die ouderdom van 18 en 59 wat vir die toelaag kwalifiseer, sal die reële koste van 'n BIG-skema jaarliks ongeveer N$4 miljard beloop.

Volgens Jauch en Musutua kom dit neer op ongeveer 5.5% van die ­begroting.

Hierdie berekening is gebaseer op ongeveer 1.14 miljoen ontvangers.



STRATEGIEË

“Dit lyk finansieel moontlik met 'n paar skuiwe in die nasionale begroting sowel as nuwe maatreëls, byvoorbeeld 'n hulpbronbelasting en die stigting van 'n soewereine welvaartsfonds om te verseker dat nasionale hulpbronne die publiek as geheel bevoordeel en nie net enkele individue nie,” het Jauch gesê.

Musutua voeg by: “Ondanks Namibië se huidige ekonomiese probleme kan 'n BIG-skema onmiddellik bekostigbaar wees en kan 'n werklikheid word na gelang van die politieke wil van die regering.”

Volgens haar sal BIG nie net voedsel direk in die mond van duisende voedselonsekere Namibiërs plaas nie, maar “sal die broodnodige ekonomiese stimulus en 'n doeltreffende verligting teen armoede bied”.

Hulle sê een manier om BIG se koste te herwin, is deur BTW, aangesien die ontvangers van toelae geld sal bestee op goedere en dienste waarop BTW gehef word.

“Ongeveer 10% van die BIG-betalings sal dus deur BTW verhaal word,” het Jauch verduidelik.

“Die mees ooglopende oplossing vir die regering om die ongelykheid in Namibië effektief te verminder, is om die inkomstebelastingkoerse vir mense wat hoë inkomste verdien te verhoog as deel van BIG-finansiering,” het Musutua verduidelik.

Sy merk op dat ongeveer 300 000 Namibiërs meer as die persoonlike inkomstebelastingdrempel van N$50 000 per jaar verdien, en hoewel BIG aan almal betaal sal word, kan die geld verhaal word deur aanpassings in inkomstebelasting.

“Mense wat hoër inkomste verdien, word effens hoër belas om 'n herverdelende effek ten gunste van lae inkomste te bewerkstellig.”

'n Aanbeveling deur kundiges is om 'n gedeelte van die SACU-inkomste vir die finansiering van BIG te gebruik, en om 'n natuurlike hulpbron-dividendfondsmodel te oorweeg deur die inkomste uit mynbou en vissery se belasting as finansieringsinstrument te gebruik.

Jauch wys daarop dat 'n BIG waar­skynlik ingrypings soos die voedselbank en rampverligting grootliks oorbodig sal maak.

Jauch en Musutua beklemtoon die voordele van die onmiddelilke instelling van 'n BIG as 'n kritieke maatstaf om sikliese armoede, voedselonsekerheid en ander maatskaplike dilemmas te takel waarmee die land reeds dekades worstel.

Jauch sê daar moet nie net op die koste van implementering van 'n BIG gefokus word nie, maar ook die langtermynvoordele daarvan – “Verminderde armoede, verbeterde onderwysuitslae, beter gesondheidstandaarde, verlaagde misdaadvlakke, groter maatskaplike samehorigheid.”

Die twee benadruk dat BIG 'n direkte ekonomiese stimuleringspakket sal wees deur die plaaslike vraag na basiese verbruikersgoedere te skep en dat dit dus 'n ingryping teen die ekonomiese siklus sal wees om die ekonomiese agteruitgang in Namibië en ander lande tydens die Covid-era stop te sit.

Musutua kom tot die gevolgtrekking dat BIG 'n “belegging in menslike ontwikkeling” is.



VOEDSELONSEKERHEID

Volgens die Komitee vir Suider-Afrika Streekkwesbaarheid se programverslag vir plaaslike kwesbaarheidsassessering (RVAA) staar voedselonsekerheid meer as 50 miljoen mense in Suider-Afrika in die gesig as gevolg van uitdagings wat deur die coronavirus meegebring is.

Volgens die wêreldwye verslag oor voedselkrisisse van 2020, wat deur die Verenigde Nasies uitgereik is, word geraam dat 400 000 mense in Namibië voedselonsekerheid ervaar, terwyl 800 000 in 'n ernstige voedselsituasie is.

Musutua het gewys op 'n verslag van die Verenigde Nasies se ontwikkelingsprogram (UNDP) in Julie 2020 wat die onmiddellike instelling van tydelike BIG-skemas aanbeveel in die wêreld se armste lande waar honger hoogty vier en die pandemie inwoners se kwesbare inkomste en lewenstandaarde vererger het.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!