Basiese rekordhouding vir verhoogde wins

Die opvatting bestaan in die vleisbeesbedryf dat slegs stoettelers voordeel trek uit prestasietoetsing. Dit is egter ver van die waarheid.
Ronelle Rademeyer
Dr. Ben Greyling en Frans Jordaan, Landbounavorsingsraad - Om kommersiëel winsgewend te wees, moet die optimale getal en gewig speenkalwers per aantal koeie gepaar, teen die laagste moontlike koste per teeldier geproduseer word. Terselfdertyd moet speenkalwers weer teen die optimum gewig en so ekonomies moontlik direk ná spening bemark word.

Om dit so doeltreffend moontlik reg te kry, is die vrugbaarheid van die koeikudde belangrik, asook die kalwers se groeivermoë van geboorte tot spening en selfs ná spening, en wel tot voordeel van die voerkraalbedryf.

Goeie rekordhouding vorm die basis van goeie reproduksiebestuur van die koeikudde en dit stel die teler in staat tot ingeligte seleksiebesluite. Die Nasionale Vleisbeesaantekening- en Verbeteringskema se Fase A en Fase B bied kommersiële telers ‘n platform om met behulp van prestasietoetsing belangrike teeldoelwitte te formuleer met ‘n gevolglike verbetering in wins.

Bestuurspraktyke

Sekere bestuurspraktyke moet gevolg word vir die sinvolle verwerking van data. Standaardbestuurspraktyke soos die weeg van koeie en kalwers word reeds as roetinetake op baie plase gedoen en bykomend moet die prestasiedata na die sentrale databasis, ook bekend as die INTERGIS (Integrated Recording and Genetic Information System), gestuur word om geberg en verwerk te word. Die data word op die INTERGIS verwerk tot nuttige inligting en aan die boer teruggestuur. Die inligting word omgeskakel in maklik verstaanbare verslae wat die boer in staat stel om beter ingeligte seleksiebesluite te neem.

Teelseisoene

‘n Vaste teelseisoen moet gevolg word oor ‘n maksimumtydperk van drie maande en, afhangende van die streek se reënseisoen, so beplan wees dat die piek produksietydperk van natuurlike weiding optimaal benut kan word. Indien die teelseisoen reg gekies word, sal vroulike diere se kondisie en gewig by paring ideaal wees. Die periode direk ná kalwing is ook voordelig omdat die voedingsbehoeftes van die koei op die hoogste vlak is ses weke nadat sy gekalf het.

Fase A

Alle kalwers gebore moet aangeteken word deur middel van ‘n aanvaarbare identifikasiestelsel. Die kalwers se geboortedatums en geboortegewigte moet binne drie dae ná geboorte aangeteken word. Dit is belangrik dat doodgebore kalwers ook aangeteken word sodat akkurate tussenkalfperiodes vir elke koei in die kudde bereken kan word.

Koeigewigte kan by die geboorte van die kalf of by die speen van kalwers geneem word. Dit is gewoonlik ‘n meer praktiese tyd om die koei se gewig te neem. Die winsgewendheid van ‘n speenkalfproduksiestelsel word bepaal indien die optimale speengewig teen die laagste moontlike koste per teeldier geproduseer word.

Om dié rede moet volwasse koeigewigte beperk word om insetkoste te beperk, en seleksie en bestuur moet daarop gemik wees om uitset of produksie te optimaliseer. Die ideaal is om ‘n kalf te speen van ten minste 45% van die koei se eie liggaamsgewig.

Voordat die boer besluit om sy kalwers te speen, wat normaalweg tussen sewe en nege maande oud is, kan hy ‘n speen-weeglys aanvra van die INTERGIS af, waarop al sy kalwers wat in die voorafgaande kalfseisoen gebore is, verskyn.

Gedurende die speenseisoen is dit belangrik om die speendatum en speengewig van elke kalf aan te teken. Sodoende kan kalwers se gemiddelde daaglikse toename (GDT) van geboorte tot spening bereken word en kan standaard- 205 dae gewigte vir die volledige speengroep bereken word.

Aangesien die teelseisoen oor drie maande strek, beteken dit ook ouderdomsverskille binne dieselfde speengroep van drie maande tussen jou jongste en oudste kalf. Daarom is die diere se speengewigte nie direk vergelykbaar met mekaar nie en het die ouer kalwers ‘n voordeel bo jonger kalwers, en bulkalwers weer bo verskalwers. Die ouderdom van die hele kalf-speengroep word om dié rede gestandardiseer na 205 dae en daarvolgens word 205 dae-gewigte en speenindekse bereken. ‘n Speentoetsverslag is weer beskikbaar aan die teler met speenindekse vir elke kalf in die speengroep. Sodoende kan kalwers se groeivermoë direk met mekaar vergelyk word.

Hoe word die speenindeks per dier bereken?

As voorbeeld: Gestel ‘n bulkalf het 40 kg by geboorte geweeg en weeg 280 kg aan die einde van die speenseisoen, 200 dae later.

Stap 1: Totale gewigstoename in kg van geboorte tot by spening:

280kg – 40kg

= 240 kg

Stap 2: Gemiddelde toename per dag:

240 kg/200 dae

= 1,2 kg per dag



Stap 3: 205-dae speengewig

205 x 1,2 kg

= 246 kg + (40 kg geboortegewig) = 286 kg



Stap 4: Speenindeks van die dier;

286/250 x 100 (indien die gemiddelde 205 dae-gewig vir bulkalwers in die speengroep 250 kg was)

= 114

Dit beteken die dier het ‘n groeitempo van 14% beter as die gemiddeld van die bulkalwers in die betrokke speengroep.



Speentoetsverslag

Die speenindeks is die dier se prestasie uitgedruk as ’n persentasie van die groepsgemiddeld.

Die groepsgemiddeld word gelyk gestel aan 100%. Al die diere met speenindekse van > 100 sal dan as bogemiddeld gereken word en < 100 as ondergemiddelde presteerders ten opsigte van speengewig.

Die speentoetsverslag bevat die volledige speengroep met speengewigte, 205 dae-gewigte en speenindekse sodat speenkalfgewigte vergelykbaar is binne die volledige groep. Dit stel die boer in staat om kalwers met die beste groeivermoë binne die groep te identifiseer en sodoende kan hy verse identifiseer, ook op groeivermoë, as moontlike vervangingsverse in sy koeikudde. Die kalf se speengewig is ‘n aanduiding van sy eie genetiese vermoë vir groeitempo asook ‘n aanduiding van die ma se melkproduksie.

Fase B

Die algemene praktyk in ‘n speenkalfproduksiestelsel is die bemarking van alle bulkalwers ná spening en die voorlopige seleksie van verse. Dis hoofsaaklik die verse wat in Fase B op die plaas getoets word vir ná-speense groei onder ekstensiewe toestande, tot hulle op 18 maande of vroeër as vervanging in die koeikudde opgeneem word.

Produksieverslae ná spening

Produksieverslae soortgelyk aan die speentoetsverslag word ook verwerk vir 12 maande en 18 maande ouderdomme en dien as riglyn vir die seleksie van vervangingsverse. Die verse op die veld is ‘n toets vir die vers se eie groeivermoë en aanpasbaarheid, sonder die ondersteuning van haar ma se melkproduksie wat haar ondersteun het tot die speenseisoen.

Reproduksieverslag

Die verslag staan bekend as die teelkudde-seleksieverslag, waarop al die aktiewe koeie en verse ouer as 24 maande in die kudde gelys word. Reproduksie-inligting soos die aantal kalwings, ouderdom-eerste-kalf, tussenkalf-periode en die gemiddelde speenindeks per koei van haar volledige produktiewe lewe.

Dit stel die teler in staat om ondoeltreffende koeie te identifiseer en uit te skot. Ouderdom- eerste-kalf is ook ‘n reproduksie-eienskap wat koeie identifiseer wat geneig is om vroeër in die kalfseisoen te kalf en dit bied die koei die voordeel van ‘n langer herstelperiode tot die volgende teelseisoen. Die tussenkalf-periode is ‘n goeie aanduiding of koeie oorslaan of nie en of sy in staat is om elke jaar ‘n kalf te produseer. Sodoende kan seleksiedruk ook op vrugbaarheid toegepas word. ‘n Bykomende vrugbaarheidseienskap is dae-tot-kalwing, maar benodig inligting soos byvoorbeeld die datum wanneer die bul by die koeie gesit is.

Die gemiddelde speenindeks per koei oor al haar kalwers is ‘n aanduiding van haar eie vermoë (wat hoofsaaklik melkproduksie is), om kalwers met ‘n bogemiddelde gewig te speen.

Voordele wat prestasietoetsing bied:

- Prestasietoetsing verbeter bestuur wat ekonomiese voordele inhou,

- Teelseisoene verseker die optimale benutting van natuurlike weiding wanneer lakterende koeie se voedingsbehoeftes op die hoogste vlakke is met besparing op byvoeding,

- Reproduksierekords van elke koei word opgedateer en die produksiedoeltreffendheid van elke koei kan op gereelde basis geëvalueer word,

- Data word op ‘n veilige sentrale databasis gestoor sonder die risiko van diefstal of skade aan ‘n persoonlike rekenaar,

- Dienste word bekostigbaar deur die Landbounavorsingsraad (LNR) se Vleisbeesprestasie-toetsskema aangebied met streekspersoneel in elke provinsie vir ondersteuning,

- ‘n Unieke lidnommer met kuddekenmerk word aan elke teler toegeken en ‘n gebruikersnaam wat elke teler in staat stel om in te skakel op die INTERGIS om weeglyste ensovoorts te genereer soos benodig,

- Bystand kan deur LNR-streekspersoneel verleen word in al die provinsies, asook leiding by die koop van geregistreerde bulle vanaf die veilingskatalogus gegrond op BLUP-waardes wat by die teler se unieke teeldoelwitte inskakel, en;

- LNR-tegnici wat inspekteurskursusse gedoen het, kan telers bystaan met seleksies vir funksionele doeltreffendheid van manlike en vroulike teeldiere.



Finansiële voordele met verhoogde produksie

Dis nie altyd so eenvoudig om in opeenvolgende jare meer doeltreffend te boer nie, aangesien reënval variëer van jaar tot jaar en die omgewingstoestande nie altyd in die boer se hande is nie. Nogtans moet seleksie vir genetiese verbetering altyd deel van ‘n teler se doelwitte te wees.

Gestel ’n kuddegrootte van 100 koeie met huidige 65 % kalfpersentasie en gemiddeld 180 kg speengewig.

Teen R20 per kg as speenkalfprys is die bruto inkomste R234 000.

Deur slegs die kalfpersentasie met gemiddeld 10% te verbeter en gemiddelde speengewig met 10 kg is die verhoogde inkomste:

R285 000 – R234 000

= R51 000

Opsomming

Aangesien prestasietoetsing die teler in staat stel om teeldoelwitte te formuleer vir sy eie kudde, maak dit die aankoop van die beste genetika moontlik. Geregistreerde bulle met BLUP-syfers wat inskakel by die boer se teeldoelwitte is nou ‘n moontlikheid. Die LNR bied kursusse aan wat BLUP en ook die interpretasie van die veilingskatalogus insluit.

Rig jou navrae hier

Navrae aangaande die Nasionale Vleisbeesskema kan gerig word aan Frans Jordaan by [email protected], +27 12 672 9085, of aan dr. Ben Greyling by [email protected], +27 12 672 9052.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!