Basjan van Niekerk sterf
Weens die Covid-19-pandemie se inperking kan sy begrafnisreëlings eers later getref word.
Francoise Steynberg
Die bekende oudkolonel Basjan van Niekerk van Hentiesbaai het Maandag gesterf.
Naas sy bekendheid as weermagkolonel en volkekundige, was hy ook 'n gewilde storieverteller wat sy interessante staaltjies met wyle dr. Jan Spies op die destydse TV-program Spies en Plessis gedeel het.
Van Niekerk het op 2 Junie 79 jaar oud geword. Sy vrou Sarie (82) is op 29 Januarie aan kanker oorlede en sy skoonseun (ook aan kanker) ses weke voor haar.
“My pa het verlede jaar 'n ligte beroerte gehad en my ma se kankerstryd en afsterwe het ook 'n tol op hom geëis,” het een van sy dogters, me. Maret Malan, gister uit Walvisbaai aan Republikein gesê.
Sy sê haar pa se begrafnisreëlings sal weens die Covid-19-inperkingsreëls eers later bekend gemaak word.
“Ons wag eers om te hoor of die Erongostreek ná die naweek steeds onder inperking gaan wees. My ouer broer Bartu, tweelingsuster Sanel en my pa se oudste suster Stienie bly in Suid-Afrika en sal weens die grense wat toe is, nie die begrafnis kan bywoon nie,” het Malan gesê. Van Niekerk word ook oorleef deur sy broers, Andries en Albie, en vier kleinkinders.
'n Jarelange vriend uit hul weermagdae in die destydse Kaokoland en Caprivi en Kavango, mnr. Klaas de Wet van Tsumeb, sê Van Niekerk het 'n baie interessante lewe gehad.
“Toe genl. Jannie Geldenhuys (die voormalige Suid-Afrikaanse Weermaghoof) sy boek Basjan geskryf het, het Geldenhuys spesiaal Hentiesbaai toe gekom om sy toestemming oor die boek met sy naam te kry.”
De Wet vertel Van Niekerk was ook betrokke by die verfilming van 'n TV-program oor die skeepswrakke langs die Namibiese kus en die masjinerie wat in diamantmyne in die Namibwoestyn gebruik is.
Van Niekerk is met 'n Afrikaanse Kultuur- en Taalvereniging (ATKV) Pluimpie-prys vir sy bydrae tot Afrikaans vereer.
Hy is op Springbok gebore en het in die Suide by Warmbad op 'n skaapplaas grootgeword.
“Basjan het skool in standerd 7 verlaat om skaap op die plaas op te pas, maar hy wou graag predikant word. Hy het later sy matriek aan 'n landbouskool op Kakamas voltooi en is eers op so 23 universiteit toe,” vertel De Wet.
Aan die Universiteit Stellenbosch het hy sy BA-graad in volkekunde voltooi. “Nadat hy Grieks en Hebreeus geslaag het, is Basjan kweekskool toe, maar ná twee weke het hy gesê hy hy gaan geskors word. Hy het toe nooit predikant geword nie, maar wel volkekundige.”
De Wet sê Van Niekerk het 'n meestersgraad in volkekunde verwerf en was 'n volkekundige in 'n museum in Bloemfontein, waarna hy by die Suid-Afrikaanse weermag aangesluit het. Hy was vlot in Otjiherero.
Malan sê met Namibië se onafhanklikwording wou haar pa nie 'n Suid-Afrikaanse weermagpos in Pretoria aanvaar nie en hy het op Hentiesbaai afgetree. Hy was baie betrokke by die NG Kerk.
Op die Facebook-blad Boshoed Buddies word hulde aan Van Niekerk gebring: “Opuwo se gebied was sy area. Sy taak was om die hele gebied strategies te karteer vir gebruik deur die soldate. Hy het die plek soos sy hand geken.”- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie