Basterpoeding vir ons siel

'n Pennevrug uit Rehoboth bied 'n blik op weerloosheid, hartseer en vreugde, pyn en heling.
Henriette Lamprecht
ont face="Verdana" >

Henriette Lamprecht - As skrywer wou sy ‘n nuwe genre probeer en wel dagstukkies wat besiel en inspireer. Met die Amerikaanse skrywer en motiveringspreker Jack Canfield se blitsverkoper Chicken Soup for the Soul in gedagte, het me. Clarice Theys probeer dink aan ‘n plaaslike dis wat dieselfde konnotasie vir Namibiërs het. Wat dan anders as basterpoeding?

“Almal in dié land weet dit beteken aartappelslaai en dat dit een van die mees veelsydige disse in Namibië is. Dit kan as heerlike bykos informeel saam met 'n braai geniet word, maar net so formeel op 'n selfdientafel by 'n galageleentheid pryk en ook heel knus op 'n koue wintersaand as 'n warm hoofdis bedien word,” sê Clarice.

Die pennevrug Basterpoeding vir die siel is ‘n mengelmoes van diep, eg menslike stories wat 'n kykie gee in ons weerloosheid, hartseer, vreugde en pyn en heling, som Clarice die boek op.

“Baie is ware stories en ander is fiktief en ja, daar is vertellings uit die gemeenskap. Hier verwys ek na mede-skrywer Norman Dentlinger wat heelwat historiese stories in en buite Rehoboth geskryf het.”

Clarice het in April 2016 ‘n skryfskool op Rehoboth aangebied en aspirantskrywers uitgenooi om deel te neem.

“Ek sou aanvanklik die genre alleen aanpak, maar het die groot behoefte raakgesien vir mense wat hul stories wil vertel.”

Met die uitsondering van een vrou het almal wat die skryfskool bygewoon het, onderneem om saam te skryf.

“Aanvanklik sou dit dagstukkies wees - een vir elke dag per maand - maar dit het nie so uitgewerk nie. Ek het die harte van die skrywers raakgesien en besluit om 'n kompromis aan te gaan en hulle toe te laat om hul harte uit te stort. Dus is dit nou net kort stories en gedigte.”

Die boek het nie ‘n oorhoofse tema nie en is “regtig net ‘n mengelmoes”, sê Clarice.

Dit bevat historiese feite uit die Bastergeskiedenis, stories oor die Basters se ryk kultuur, terwyl voorsiening ook vir ligter stories, ernstige stories en selfs amusante staaltjies gemaak is.

“Net so uniek soos die Bastervolk! Ek glo ook dit is die eerste Namibiese boek wat deur soveel skrywers, elk met ‘n unieke skryfstyl, saamgestel is.”

Clarice beklemtoon dit is “ontsettend belangrik om die kultuur van 'n gemeenskap te behou”.

“Stories gaan vir ons nageslag verlore as ons dit nie boekstaaf nie. Daar is 'n diamantmyn van pragstories wat ontgin moet word.”

Met haar debuutboek, Rehoboth - Waar my Hart is, wou Clarice aanvanklik die stories van die ouer geslag vaslê.

“Ek was vir 'n maand in Rehoboth om dit te doen, maar ná 'n paar onderhoude het ek besef ons ouer garde kan wel die stories onthou, maar kan dit nie meer oordra nie. Dis hoekom ek toe maar my eie kinderjare neergepen het.”

Basterpoeding vir die siel is so gewild en die terugvoer so “geweldig positief”, daar is reeds 'n vraag na ‘n opvolg.

“Dit blyk dat die boek dalk dieselfde paadjie as Chicken Soup for the Soul gaan volg!”

Volgens Clarice was Basterpoeding vir die siel ‘n “geweldige leerskool”.

“Daar was dae wat ek gesweer het ‘nooit weer nie’, maar noudat die reis verby is, kan ek nie help om weer planne vir die opvolg te maak nie. Ek glo daar gaan verskeie opvolge wees. Ek hoop net die span gaan uitbrei en dat ons gaan toepas wat ons geleer het!”

Die skrywers het reeds ‘n ATKV-Pluimpie vir die boek in die sak en met die terugvoer van beoordelaars, “as ons dit toepas”, is Clarice vol vertroue dat hulle volgende keer ‘n Veertjie gaan losslaan.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!