UPM besoek president
UPM besoek president

UPM besoek president

Die UPM-president het pres. Hage Geingob aan sy vroeëre beloftes herinner.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die United People's Movement (UPM), politieke arm van die Rehoboth Baster-gemeenskap (RBG), het verlede week by Staatshuis besoek aan pres. Hage Geingob gebring.
Die beweging se president, mnr. Willem Biscmarck van Wyk, het gesê die regering se weiering om die Baster tradisionele owerheid te erken, is ongrondwetlik.
Volgens dié Baster-leier is ander tradisionele owerhede goedgekeur sonder om aan alle voorwaardes te voldoen en moet Rehoboth se mense ook die geleenheid kry om hul kultuur en geskiedenis uit te leef.
Hy het 'n sterk afvaardiging na die besoek na die staatspresident gelei, wat mnr. Piet Junius as UPM visepresident, die parlementariër mnr. Jan van Wyk, die nasionale voorsitter van die party, die sekretaris-generaal, me. Thelma Kunze, streeksraadslid vir die Rehoboth-Wes-kiesafdeling, me. Laurena Christ, me. Erica Windstaan, ds. Leonard Pienaar, me. Emma Farmer asook me. Ida Owoses ingesluit het.
Van Wyk het Geingob verseker dat die UPM met die regering wil saamwerk om kwessies op te los.
“Die noodsaaklikheid van tradisionele owerhede moet dringend bekyk word,” het hy gesê.
Te klein toelae aan erkende owerhede is reeds 'n kwelpunt, en dié wat nie amptelik erken word nie, kry nie kans om betrek te word by nasionale kwessies of besluite oor ontwikkeling nie, het Van Wyk gesê.
“Die praktyk om sommige gemeenskappe onder die jurisdiksie van tradisionele owerhede te plaas aan wie hulle nie behoort nie, is van groot kommer. Sulke gemeenskappe word ontneem van die geleentheid om hul eie kulture en gebruike te beoefen,” sê Van Wyk.
Van Wyk het vir Geingob herinner aan beloftes wat voeër aan wyle kaptein Hans Diergaardt gemaak is.
“Lede van die RBG wag steeds op die implementering van beloftes wat deur u gemaak is, veral aangesien u nou in staat is om dit na te kom,” het hy aan die staatspresident gesê.
Die vaderlike wette was tot onafhanklikheid op Rehoboth in gebruik ná Basters eers teen Duitsers en later teen Suid-Afrikaners geveg het.
“Dit is jammer dat hul bydraes om te veg vir die onafhanklikheid wat ons vandag het, nie erken word nie,” het Van Wyk gesê.
Ander kwessies wat die gemeenskapsleiers onder die staatspresident se aandag gebring het, sluit in die onvermoë van plaaslike owerhede om bekostigbare grond of behuising te verskaf.
Die ministerie van grondhervorming is ook 'n kwelpunt.
Volgens Van Wyk is die ministerie se hervestigingsprogram 'n mislukking omdat “inheemse minderheidsgroepe aan selektiewe kriteria onderwerp is".
Hy het ook oor die veterane-wet gekla wat volgens die UPM diskrimineer en ook teen die grondwet is.
Die UPM versoek dat die president intree om korrupte munisipale amptenare te laat boet, om die kraak in die Hardapdam te herstel en om voedselsekuriteit vir Namibiërs te waarborg.
Geingob het gesê hy sal die kwessies oorweeg, met die betrokke ministers onderhandel en later weer met die groep vergader.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer