Basters suip aan die agterspeen
Basters suip aan die agterspeen

Basters suip aan die agterspeen

Dani Booysen
JACKY BRITZ SKRYF:

"Vanuit 'n Hotnos Ma en 'n Wit Pa, blêr die Hanslam op die vlakte, op soek na sy identiteit …"

Vir jare het ek getrou die gesprekke oor die Herero- en Nama-eise om vergoeding vanaf Duitsland gevolg in die dagblaaie van ons land. Tereg ondersteun ek heelhartig hul onverpooste pogings as mede-Namibiër ten spyte van geweldige teenkanting.

Wat my egter dwars in die krop steek is die volgende:

• Wie het besluit dat slegs die massamoorde van 1904-1907 van belang is as dit by pogings van totale uitwissing kom van 'n groep in ons land?

• Wie het die kriteria bepaal?

• Waarom wil dit voorkom asof die Sam Khubis-oorlog tussen die Duitsers en Rehoboth Basters in 1915 met Generaal Von Trotha weer die besluitnemer, in 'n soortgelyke situasie, van minder belang is?

• Waarom het nog geen leier in ons regering andere bedag gemaak dat dit nie die enigste groepe is wat onder Von Trotha en kie se bloedbesmeerde hande deurgeloop het nie?

• Waarom het die leiers/aktiviste uit Rehoboth-geledere, van hul tans in gesagsposisies tot nou toe, nog geen daadwerklike poging aangewend om die saak van ons mense die nodige aandag te gee nie?

• Die PDM, die amptelike opposisieparty met mnr. M. Venaani as leier, het 'n verkiesingsooreenkoms gehad met die UPM onder leiding van mnr. Jan van Wyk tydens die laaste verkiesing, maar beide het geen noemenswaardige bydrae gelewer nie in terme van die doelbewuste weglating van die Rehoboth Basters in soverre dit aanbetref die volksmoordaksie. Hoe verstaan jy dit?!

Om nie te praat van die party van Bernardus Swartbooi wat stemme kom soek het in Rehoboth onder die gejuig van “Landless People”. Selfs die party openbaar 'n stilswye oor die doelbewuste weglating van ons mense om nie eens te praat van om grondloos te wees nie.

Ek verstaan nie dat ons mense hulle steeds blindelings kan navolg nie.

• Ná die uiteindelike toetrede van die regering tot hierdie sensitiewe kwessie is ooreengekom op 'n onderhandelingsproses met die konsultasie van alle rolspelers. Dit is duidelik dat ons mense vergete is en ook nie belangrik geag word deur die regering nie, m.a.w. ons moet maar gediend wees om vir die soveelste keer aan die agterspeen van die koei te suip.

Genoeg is genoeg! Geld “One Namibia One Nation” nie ook in die opsig nie?

• Die enigste daadwerklike poging was aangewend deur wyle mnr. Theo Diergaardt in sy hoedanigheid as streeksverteenwoordiger tydens 'n vergadering met 'n delegasie van die Namibian-German Special Initiative op 31 Januarie 2008 te Rehoboth waartydens vele beloftes gemaak is deur ene V. Tjikuzu en M.T. !Omeb, maar hiervan het niks gekom nie, soos gewoonlik. Ook maar goed, want dit was 'n onding wat 'n stille dood gesterf het a.g.v. 'n miskraam.

• Nie lank gelede nie het die Duitse regering menslike oorskotte en persoonlike eiendom soos die sweep van Kaptein Hendrik Witbooi aan ons mense terugbesorg as die regmatige eienaars. Dat die Duitsers nog menslike oorskotte van ander groepe wat doelbewus uitgelaat word asook persoonlike eiendom besit, is 'n gegewe, maar hieroor later in detail.

• Die saak van die Herero's en Namas is in vele opsigte identies aan die van die Rehoboth Basters, maar miskien huldig hulle ook van die mening van die voormalige ambassadeur van Duitsland in Namibië, mnr. Wolgang Massing, wat in 2006 opgemerk het, en ek haal hom aan: “The Baster German incident in comparison with the Nama Herero incident is a minor one and not so complicated.”

Hierdie woorde moes hy onmiddellik sluk, want dit het ons deurmekaar bloed verder omgekrap. Het het toe beloof dat hy namens die Duitsers om verskoning sal kom vra op die Sam Khubis-terrein, net om ter elfder ure weer gat om te swaai en te verdwyn uit Namibië.

• Dit is 'n feit dat getallegewys meer Namas en Herero's gesterf het aan die hand van die Duitsers, asook dat hulle op vele ander vlakke meer verliese gely het as die Rehoboth Basters, maar om dit te gebruik as 'n meetsnoer of hulle in dieselfde kategorie val of kwalifiseer onder die vaandel van totale uitwissing sal enige dwaas sy kop laat skud.

Kom ek kwalifiseer my standpunt. Om die Nama- en Herero-insident te vergelyk met die uitwissing van miljoene Jode deur Hitler is net so vergesog. Die punt is: pogings tot totale uitwissing, hetsy van 'n groot of klein groep, is dieselfde daad en nie debateerbaar nie.

Tereg was Von Trotha se bevel baie duidelik “Vernichtung” van die Rehoboth Bastervolk. Professor Raphael Lemkin beskryf “genocide” deur die Griekse woord “genos" (race or tribe) te kombineer met die Latynse woord “cide" (killing) en dit is presies wat dit is.

• Die Sam Khubis-terrein, waar die belangrikste en finale slagveld plaasgevind het, is 'n sirkelvormige bergketting met slegs een opening.

Die Duitsers het die ingang versper met die doel dat nie een lewendig daaruit moes kom nie en van verskeie punte op ons weerlose mense losgebrand met kanonne en meksims (masjiengewere). Die doelbewuste optrede van die Duitsers was niks anders nie as om seker te maak dat die Rehoboth Basters uitgewis word.

Dank die Vader die God van Sam Khubis was groter.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!