Bastion, koel oase vir lafenis

Moenie Bastion Farmyard met sy padstal en koffiewinkel misry nie.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Tussen die groen koring- en lusernlande by die Hardapskema is ’n oase waar menige moeë reisiger lafenis vind, en inwoners van Mariental en omtes dikwels sommer vir die lekker daarvan gaan uitspan.

Ons is steeds besig met ons reeks artikels oor padstalle in die land, en dié keer het ons suid gery.

Bastion Farmyard naby Mariental bied nie net ’n oulike padstal en koffiewinkel met watertand gebak nie, maar ook vyf mooi selfsorgkamers met lugreëling en vier goed ingerigte kampeerplekke. In totaal kan hulle 45 gaste huisves – 21 in die kamers en 24 by die kampeerplekke.

Eienaar Salomé Schoeman het ’n kunstige stempel op elke keurige stukkie detail in die koffiewinkel, padstal, asook in die kamers, die kampeerplekke en die netjies versorgde tuin en werf afgedruk.

Sy is ’n versamelaar, vertel Salomé, wat graag ou goed vergaar wat sy op kunstige wyse uitstal. Só byvoorbeeld het sy een buitemuur met ou geroeste plaasimplemente soos saag- en snylemme versier.

Dit help natuurlik dat manlief Deon, wat met gewasse boer, se hande vir niks verkeerd staan nie.

Bastion Farmyard is 14 km noord van Mariental en 9 km vanaf die Hardapdam geleë. Omdat dit aan die B1-geleë is, is dit ‘n ideale stilhou- of oornagplek vir Namibiërs onderweg na die Kaap, of vir mense in die Suide wat na Windhoek of die sentrale kus onderweg is.

Salomé sê hulle is gewoonlik in die winter baie besig wanneer groot getalle Suid-Afrikaners tydens die skoolvakansie deur Namibië toer, asook in Desember wanneer hulle aan die Namibiese kus kom hengel en vakansie hou.

Bastion Farmyard is ook gewild by oorsese toeriste wat die land op eie stoom verken. Soos vir almal in die toerismebedryf, is 2020 weens die Covid-19-pandemie hul moeilikste jaar ooit.

Tydens die grendeltyd was daar geen buitelandse besoekers nie en moes die Schoemans steun op plaaslike besoekers. Sy moes van haar werknemers aflê en het tans net een skoonmaker oor.

Die Saterdag toe Die Boer besoek afgelê het, was Salomé al vroegoggend op om gereed te maak vir ’n teepartytjie wat daar aangebied is. As sy nie koek bak of quiches maak vir sulke funksies nie, kook sy konfyt van vars produkte uit haar tuin om in die padstal te verkoop. Die tuisgebakte koekies en beskuit op die rakke koop sy egter by ander kranige baksters aan, want sonder personeel kom sy nie nog daarby ook uit nie.

Die padstal hou buiten geskenke, kunshandwerk en oulike huisware, ook alles aan wat kampeerders nodig het soos hout, braaipakke en ys. Die padstal en koffiewinkel is ook gelisensieer om drank te verkoop.

Vir meer inligting, bel vir Salomé by +264 81 274 5574. Gaan loer gerus by www.bastionfarmyard.com as jy wil weet hoe die selfsorgkamers en kampeerplekke lyk.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!