BBC-prys vir Mboma welverdiend
BBC-prys vir Mboma welverdiend

BBC-prys vir Mboma welverdiend

Atletiek
Die onvergeetlike internasionale deurbraakseisoen vir die 18-jarige Namibiese naelloper Christine Mboma het haar die eerste vroulike wenner van die BBC se Afrika-sportpersoonlikheid van die jaar vir 2021 gemaak.

Mboma se verowering van 'n Olimpiese silwermedalje in 'n sterbelaaide 200-meterfinaal in Tokio het die verbeelding aangegryp. In die gesogte jaarlikse BBC-kompetisie het sy meer stemme as Kenia se Olimpiese marathonkampioene Eliud Kipchoge en Faith Kipyegon, Suid-Afrika se Paralimpiese verspringer Ntando Mahlangu, Senegal en Chelsea se doelwagter Edouard Mendy en die Suid-Afrikaanse swemmer Tatjana Schoenmaker verwerf.

“Dit voel wonderlik en ek is baie trots om 'n Namibiër te wees,” het Mboma tydens haar aanlyn ontvangs van die toekenning aan die BBC gesê.

“Ek dra hierdie toekenning aan alle Namibiërs op. Hierdie is 'n beloning vir al die harde werk wat ek gedoen het.”

Mboma, die eerste Namibiese vrou wat 'n Olimpiese medalje gewen het, is die tweede Namibiese wenner van die BBC se Afrika-sportpersoonlikheid van die jaar, ná Frank Fredericks se verering in 1993.

“Dis altyd wonderlik om my land op die kaart te kan plaas en my landgenote trots te maak. Ek bedank alle Namibiërs wat vir my gestem het. Hulle sal seker mal gaan as hulle hiervan hoor,” het Mboma aan die BBC gesê.

“My vertoning sal jong atlete van Afrika motiveer, asook hier in Namibië, om hul bes te doen en hard te werk aan hul drome.”

Benewens die Olimpiese silwer was Mboma ook die Diamantliga se kampioen en onder 20-wêreldkampioen in die 200 meter. Sy het verlede jaar ook ver­skeie kere die o.20-wêreldrekord in die afstand oortref.

Ná die wêreldbeheerliggaam se besluit kort tevore dat sy vanweë haar natuurlike hoë testosteroonvlak nie aan die 400 meter mag deelneem nie, was die voormalige middelafstandatleet se internasionale sukses in die 200-naelloop inderdaad verstommend.

Henk Botha, afrigter van Mboma en haar ewe belowende wêreldklas oefenmaat Beatrice Masilingi, sê: “Die BBC Afrika-finaliste was 'n baie sterk veld wat in my siening almal supersterre is. Ons is dus baie verras.

“Om deel van enige BBC-prys te wees, is vir iemand van 'n klein plek soos Namibië iets besonders – veral nog 'n jong meisie wat kaalvoet in die sand gehardloop het en eers drie jaar gelede vir die eerste keer spykerskoene aangetrek het.”

Mboma het verlede week ernstige besering vrygespring toe sy, Botha en Masilingi vanaf Grootfontein na Windhoek vir deelname aan die QSB-oefenkamp gereis het. Botha sê 'n tarentaal het deur die voorruit gevlieg en glasstukke het Mboma in die gesig getref.

“Ek moes die glasstukke een vir een uit haar gesig haal. Dit kon ernstig gewes het, maar ons is baie geseënd om veilig en oukei te wees.”

Kommentaar

Republikein 2024-09-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Celta Vigo 0 vs 1 Atletico Madrid | Espanyol 1 vs 2 Villarreal | Las Palmas 1 vs 1 Real Betis | Barcelona 1 vs 0 Getafe | Girona 0 vs 0 Rayo Vallecano | Real Madrid 3 vs 2 Deportivo Alaves | Valencia 0 vs 0 Osasuna | Sevilla 2 vs 1 Real Valladolid SerieA: Atalanta 2 vs 3 Como #N/A Currency: GBP to NAD 22.83 | EUR to NAD 19.08 | CNY to NAD 2.44 | USD to NAD 17.1 | DZD to NAD 0.13 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.26 | EGP to NAD 0.34 | KES to NAD 0.13 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.64 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.14 | RUB to NAD 0.18 | INR to NAD 0.2 | USD to DZD 131.75 | USD to AOA 940.1 | USD to BWP 13.08 | USD to EGP 48.31 | USD to KES 128.48 | USD to NGN 1666.22 | USD to ZAR 17.1 | USD to ZMW 26.37 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index Same 0 | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1920.41 Up +0.02% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 14449.05 Up +0.55% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 31276.91 Up +0.08% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI 9653.37 Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 649.43/OZ DOWN -0.0087 | Copper US$ 4.56/lb DOWN -0.011 | Zinc US$ 3 089.80/T DOWN -0.37% | Brent Crude Oil US$ 72.29/BBP UP +1.00% | Platinum US$ 1 002.93/OZ DOWN -0.0044 #N/A