Beampte, wag in skietvoorvalle
Beampte, wag in skietvoorvalle

Beampte, wag in skietvoorvalle

Saterdag om 04:30 is 'n 18-jarige man by 'n kroeg in Donkerhoek in Katutura glo deur 'n veiligheidswag raakgeskiet en beseer.

Die slagoffer het na ­bewering geweier om die perseel te verlaat.

Hy was na wat verneem word voor die voorval by 'n geveg in die kroeg betrokke.

Die man is glo deur 'n veiligheidswag uit die kroeg ­vergesel, maar het herhaaldelik terug­gekeer.

Buite die kroeg het hy toe glo 'n bottel gebreek waarmee hy die veiligheidswag wou steek.

Hierop het die wag hom in die been geskiet.

Die man is hospitaal toe geneem.

Niemand is in hegtenis geneem nie en die polisieondersoek duur voort.

Vrydag om 21:00 is 'n man (26) geskiet en gewond toe hy na ­bewering 'n ander man en twee meisies met 'n tradisionele mes gedreig het. Die voorval het by Talismanus plaasgevind.

Die verdagte is glo 'n lid van Windhoek se stadspolisie en het na bewering 'n waarskuwing­skoot afgevuur, wat die man ­geïgnoreer het.

Die verdagte het toe na wat verneem word 'n tweede skoot afgevuur en die man gewond.

Hy is na 'n kliniek geneem.

Beslag is op die verdagte se gelisensieerde pistool gelê.

Niemand is in hegtenis geneem nie en die polisieondersoek duur voort.

“'n Volwasse man het glo Saterdag om 01:30 by Stampriet 'n ­polisieman aangerand wat hom in hegtenis wou neem. Die verdagte moes op 'n klag van roof in hegtenis geneem word. Hy het die klaer glo met 'n gebreekte bottel gedreig en sy beursie met N$9 000 kontant en sy selfoon gesteel. Die verdagte is in hegtenis geneem.”

Dit volg ná 'n polisiebeampte glo op 1 Desember omstreeks 22:00 'n jong man in Windhoek se ­Damara-nedersetting na bewering in die bors geskiet het.

Mnr. Johnny Doëseb (18) het later aan sy wonde beswyk.

Die drie polisiebeamptes wat na bewering by die voorval betrokke was, is nie geskors nie.

Die woordvoerder van die Namibiese polisie, hoofinsp. Kauna Shikwambi, sê: “Die ­onlangse ongelukkige voorval waarin 'n jong man sy lewe verloor het, kon vermy gewees het as die nou oorlede verdagte met die polisie saamgewerk het. Die verdagte in hierdie spesifieke voorval was 'n gesoekte persoon en die polisie het wettige redes gehad om hom in hegtenis te neem.”

Volgens Shikwambi was Doëseb 'n verdagte in verskeie sake, wat gewapende roof, die besit van gesteelde eiendom, huisbraak, aanranding, poging tot roof en poging tot moord insluit.

Die gemeenskapsaktivis mnr. Mervin Claasen het gesê die ­Doëseb-familie betwis inligting wat die polisie oor die voorval uitgereik het.

“Die polisie het valse inligting verskaf. Die nuus is verkeerd. Die geheime polisiebeamptes het dronk hier aangekom. Hulle het die jong man geslaan, blykbaar oor hy 'n week gelede 'n kar met 'n klip gegooi het.

“Sonder om hulself voor te stel, het hulle hom gegryp en begin slaan. Sy suster en sy antie het probeer keer, maar die antie is in die mond geslaan en hulle het die suster onder die ken geskop. Hulle het mekaar getrek en iemand het 'n bottel gegooi, wat die polisieman getref het. Johnny en die een man was saam geboei, maar toe skiet hy hom in die bors en stoot die mannetjie weer grond toe,” het Claasen gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!