Beast Master pak onoorwonne Bulgaar
Die deurwinterde Namibiër sê hy dink nie Tervel Pulev is ’n spesiale bokser nie.
Andrew Poolman
Sy loopbaan het alle stoom verloor met vyf nederlae in sy laaste ses gevegte, maar Vikapita Meroro sê hy is hard aan die oefen vir sy komende internasionale geveg.
Die 35-jarige Namibiese bokser se afspraak wag op 29 Januarie teen die onoorwonne Tervel Pulev van Bulgarye, wat 15 beroepsgevegte gewen en 12 daarvan met uitklophoue beëindig het.
Die twee is bestem om mekaar in Dar es Salaam, Tanzanië, oor tien rondes in die junior swaargewigklas (tot 90.72 kg) te takel. Die Bulgaar plaas sy WBA internasionale gordel op die spel.
Tevore het Pulev as amateur die Olimpiese Spele van 2008 se halfeindronde gehaal, voordat sy opmars deur die hoogs talentvolle Oleksandr Usyk van die Oekraïne beëindig is.
Die 38-jarige Tervel Pulev is die jonger broer van die geharde Kubrat Pulev (39), een van die gevaarlike manne op die swaargewigtoneel wie se andersins skoon beroepsrekord net deur twee wêreldkampioene, Wladimir Klitschko in 2014 en Anthony Joshua verlede maand, bederf is.
Meroro het gister aan Republikein gesê hy het reeds die hele Desember geoefen onder die wakende oog van sy afrigter, Andreas Duran.
Oor sy siening van die kragmeting het Meroro, wat die vegnaam Beast Master het, gesê hy het hier en daar na video’s met hoogtepunte van Pulev se vorige gevegte gekyk.
“Hy lyk nie vir my na enigiets spesiaal nie. Ek moet net reg wees om hard te werk en te doen wat ek moet doen.”
Op 35-jarige leeftyd is die dae waarskynlik lankal verby dat Meroro hom in gerekende boksgeselskap, of op ’n merkbare pad boontoe bevind. Hy is lankal nie meer in die stal van MTC Nestor Sunshine Promosies nie, maar sê hy is nou “op my eie”.
Meroro was tevore die WBO Afrika-kampioen in die ligswaargewigklas (79.38 kg), maar het nederlae gely in die beslissende kragmetings wat vir hom die deur na die hoogste vlak kon oopmaak.
Eenparige puntenederlae op vreemde bodem teen Isaac Chilemba van Malawi, Briamah Kamoko van Ghana en die Duitser Jürgen Braehmer het hom in 2011 en 2012 aansien laat verloor, maar hierna het hy weer ’n oplewing getoon deur sy volgende sewe gevegte te wen.
Tussen 2015 en sy laaste geveg in 2019 het hy egter vyf uit ses verloor, almal buite die landsgrense.
Dmitry Kudryashov (Rusland), Kevin Lerena (Suid-Afrika) en Maxim Vlasov (Rusland) het hom almal in die vroeë rondes uitgeslaan; die Suid-Afrikaner Akani Phuzi het hom eenparig met punte oorheers en in November 2019 het hy in Accra tydens die derde ronde die handdoek ingegooi teen Olanrewaju Durodola van Nigerië.
Tussendeur was daar gedurende 2018 ook die onvleiende drama van ’n bestemde geveg teen die Namibiese voormalige wêreldkampioen Harry Simon, wat egter deur die mat geval het toe Meroro nie naby die ooreengekome gewigsperk van 92.7 kg kon haal nie.
Meroro se beroepsrekord sedert sy debuut in 2005 staan dus tans op 29 gewen (14 uitklophoue) en nege verloor (vier met uitklophoue).

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie