‘Bedanking is nie berou’

Ofskoon die eertydse onderwysminister vol selfvertroue vertoon, meen ’n terapeut sy trap dalk emosioneel klei.
Denver Kisting
Denver Kisting – Op die kop 10:48 gister het Katrina Hanse-Himarwa met kopdoek punt-in-die-lug in die beskuldigdebank haar lot gehoor.

Vir ’n totaal van nagenoeg 43 minute het sy sittend na regter Christie Liebenberg geluister terwyl hy uit sy 20 bladsy lange vonnisoplegging voorgelees het.

Hoewel talle mense – veral in die sosiale media – dié liefling van Mariental oor haar oënskynlik windmakerige gedrag voor en ná hofverrigtinge geroskam het, meen ’n kenner die impak van veral ’n hoëprofielhofsaak gaan sit nie in ’n mens se klere nie.

‘Emosioneel vermoeiend’

Dr. Shaun Whittaker, ’n Windhoekse kliniese sielkundige, het by navraag aan Republikein gesê: “Dit moes emosioneel vermoeiend vir oudminister Katrina Hanse-Himarwa gewees het om op korrupsieklagte in die hof te verskyn.”

Vanweë die oudgoewerneur van die Hardapstreek se lang geskiedenis as ’n politieke leier in die land moes die regsproses emosioneel baie van haar geverg het, meen Whittaker.

“So, dit is nie so maklik om haar lyftaal by tye te peil nie. Sy kom dikwels vol selfvertroue voor en is ’n bedrewe openbare spreker.”

Volgens die kenner verteenwoordig Hanse-Himarwa se lyftaal waarskynlik ’n mengelmoes van emosies: tipiese selfvertroue, ’n borrelende geaardheid, moontlik ’n sin van minagting en waarskynlik een van angs.

“Dit is uiteraard nooit maklik om in ’n plek van hoë angs, soos ’n hof, te wees nie.”

Volgens hom is dit ook moontlik dat die 52-jarige Swapo-grootkop en LP in haar veilige ruimtes anders opgetree het as dít wat in die openbare domein geblyk het.

Staat bestudeer vonnis

Intussen het mnr. Salomon Kanyemba, die staatsaanklaer, gister gesê die staat sal die vonnis bestudeer voor hy besluit om daarteen appèl aan te teken al dan nie.

Kanyemba het vir adjunk-aanklaer-generaal Ed Marondedze bygestaan tydens die verhoor.

Aanduidinge was reeds vroeër dat mnr. Sisa Namandje namens Hanse-Himarwa teen die skuldigbevinding van 8 Julie sou appelleer.

Namandje se N$1,4m-faktuur het ook gister in die vonnisoplegging ter sprake gekom.

Regter Liebenberg het nie vir Marondedze gelyk gegee dat tronkstraf ’n gepaste vonnis is nie.

Hy het gelas sy moet ’n boete van N$50 000 opdok. Sou sy dit nie kon betaal nie, sou twee jaar gevangenisstraf wel haar voorland gewees het.

Aanvullend is sy vir een jaar tronk toe gestuur. Dié been van die vonnis is in sy geheel opgeskort vir vyf jaar mits Hanse-Himarwa in daardie tydperk nie aan ’n soortelyke oortreding skuldig bevind word nie.

Omdat Hanse-Himarwa nog in die parlement dien en in ’n stadium dalk weer kan skeeftrap, het regter Liebenberg gemeen ’n opgeskorte vonnis sal haar genoegsaam in haar pasoppens laat bly.

Onseker oor diep sakke

Regter Liebenberg het egter gesê die hof koop nie haar weergawe dat sy finansieel noustrop trek nie – veral in die lig van ’n berig van Republikein se susterskoerant Namibian Sun waarin sy te kenne gee haar sakke is diep.

Hanse-Himarwa se regspan het nie die berig weerlê nie, het die regter gesê. Trouens, sy was die enigste wat daarop lig sou kon werp, het die regter gesê.

Boonop het die hof met Marondedze saamgestem dat sy waarskynlik nie oop kaarte gespeel het oor hoe welgesteld sy werklik is nie.

Eweneens, het Liebenberg gesê, Hanse-Himarwa het nie ter strafversagting getuig oor haar beweerde berou oor haar dade van Desember 2014 nie.

Haar bedanking op 9 Julie – ’n dag ná haar skuldigbevinding – kan nie as ’n teken van berou beskou word nie, het die regter gesê.

Teen 10:30 het Hanse-Himarwa haar tot ’n slukkie water gewend oomblikke voor Liebenberg gesê het haar gedrag het daartoe gelei dat die samelewing nie net in haar, maar ook in die regering vertroue verloor het.

Dit het sy reggekry deur die regering se pogings om ’n dak oor die kop van armes te help sit, in omstredenheid te dompel, lui die vonnisoplegging.

Tog het hy gemeen sy verdien ’n tweede kans. Op 52 is dié haar eerste skuldigbevinding en sy het oor drie dekades ’n produktiewe bydrae tot die samelewing gelewer, het die hof gemeen.

Boonop het sy geen geld verduister nie en ook nie self by haar misdaad gebaat nie.

Hanse-Himarwa se onlangse skuldigbevinding en vonnis kom nadat sy in die somer van 2014 beveel het ’n lys van begunstigdes onder die massabehuisingkema moet verander word sodat minstens een van haar familielede op Mariental daarby kon baat.

Sy was toe die goewerneur van die Hardapstreek.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!