Bedryf slag Meatco oor afleggings

Ofskoon die vleisbedryf saamstem Meatco moet herbelyn word, heers kommer oor die verlies aan “intellektuele kapitaal”.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Meatco se besluit om al sy werknemers van 55 jaar en ouer af te lê, kan ’n doodskoot vir die nasionale vleisverwerker wees aangesien die verlies aan kundigheid produsente se vertroue kan skend en dié uitvoerder se internasionale mededigendheid benadeel.

Dít was gister die mening van belanghebbendes in die vleisbedryf.

Werknemers van Meatco is Dinsdag tydens ’n massavergadering by die fabriek ingelig dié besluit sal op almal van toepassing wees, insluitend die topbestuur. Meer as 80 van die 710 werknemers word geraak.

Drie van die sewe topbestuurslede het reeds gister hul afleggingsbriewe ontvang. Hulle is die operasionale hoof, mnr. Jannie Breytenbach, die uitvoerende bestuurder vir bemarking en verkope, mnr. André Mouton, asook mnr. George Kotze wat as uitvoerende bestuurder vir lewendehaweproduksie en waardetoevoeging verantwoordelik is.

Mnr. Thinus Pretorius, voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO), sê hoewel dié liggaam in die verlede sy kommer uitgespreek het oor Meatco se onvolhoubare kostestruktuur en saamstem ’n totale herbelyning is nodig, is hy baie bekommerd “oor die proses wat gevolg is en die stragiese beginsels wat toegepas is”.

Dit is naamlik om slegs ouderdom as maatstaf vir die herbelyning te gebruik.

“Enige besigheid is so goed soos die intellektuele kapitaal, ervaring en vaardighede wat dit besit. Dit is internasionale besigheidspraktyk in ’n herbelyningsproses om eers vas te stel watter kernkundigheid en -ervaring behoue moet bly alvorens ’n afleggingsproses begin word.”

Hy sê as die intellektuele kapitaal verlore gaan, bly die suksesfaktore wat die besigheid se internasionale mededigendheid moet verseker, in die slag.

“Die besluit beteken die meerderheid van die uitvoerende bestuur gaan afgelê word, wat ’n groot risiko vir Meatco se volhoubaarheid inhou,” sê hy. Pretorius meen verder dit kan produsente wat beeste lewer, asook Meatco se klante en die handelsbanke se sakevertroue skend, wat onberekenbare skade aanrig in ’n tyd wat deurset ’n kritieke laagtepunt bereik het.

Mnr. Paul Strydom, hoofbestuurder van die Vleisraad, is net soos Pretorius bekommerd oor die impak wat die verlies aan kundigheid op Meatco se uitvoere na gesogte hoëpremiemarkte in die buiteland sal hê.

Mnr. Rainer Ritter, onafhanklike ontleder, het verlede jaar gewaarsku Meatco staar likwidasie in die gesig as koste nie radikaal gesny word nie.

Sy verslag was die resultaat van ’n ondersoek in opdrag van mnr. Leon Jooste, minister van staatsondernemings (SOE’s), na die stand van ondernemings in staatsbesit.

Ritter se aanbeveling was dat Meatco geen bykomende finansiering van die regering moet ontvang nie en op dié wyse gedwing word om moeilike skuiwe te maak.

Hy het die vleiskorporasie se benarde finansiële situasie aan jarelange swak bestuur toegeskryf.

Ritter het benadruk dat ’n uitvoerabattoir uitvoerende direkteurs met ervaring in vleisverwerking en internasionale vleiswaardekettings benodig. Dit is volgens hom ’n voorwaarde om langtermyn lewensvatbaarheid te verseker en mededingendheid te verbeter.

“Die uitvoerende direkteurs moes ook vooraf ervaring in die vleisbedryf opgedoen het – iets wat sedert die aanstelling van mnr. Kobus du Plessis in 2007 nie geskied het nie.

“In die afgelope ses jaar het Meatco vyf uitvoerende direkteurs en vyf finansiële bestuurders gehad,” het Ritter gesê.

Nóg Jooste, nóg mnr. Johnnie Hamman, voorsitter van die direksie, het teen druktyd gister op skriftelike vrae oor die afleggingsbesluit gereageer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!