Beesboere se winsgewendheid onder druk
Beesboere se winsgewendheid onder druk

Beesboere se winsgewendheid onder druk

Tydens die afgelope Brahman-simposium en nasionale veiling is onder meer oor winsgewendheid gepraat en vir die eerste keer ook bulsaad opgeveil.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die duurste bul by die Nasionale Brahmanveiling wat onlangs in Windhoek plaasgevind het, is vir N$190 000 aan Tielman Neethling verkoop.

Dit was ook die eerste keer dat bulsaad op 'n Namibiese veiling opgeveil is.

Die bul ERP10-71 is deur die gesamentlike eienaars Günter Hellinghausen van Kupferberg Brahman en Ryno van der Merwe van Wetmer Brahman verkoop. Hellinghausen sê die bul het die afgelope vier jaar 'n uitsonderlike diens in die eienaars se stoeterye gelewer en dat hulle nou na nuwe, aanvullende teelmateriaal soek.

“Ons het nou 'n groot genoeg nageslag van hom,” het­ Hellinghausen aan ­Republikein gesê.

Dit was ook die eerste keer dat semenstrooitjies van Brahmane op die veiling verkoop is. Van die vier bulle wat se saad opgeveil is, is slegs 'n bul (WB 06 50), van Wokuma Brahman wat aan Ebbi en Heide Fischer behoort, se saad verkoop.

TOPBUL SE SAAD VERKOOP

Die Brahmanteler Rynand Mudge het al die saad teen N$200 per strooitjie gekoop.

“Dié bul is verlede jaar tydens die Aldam Stockman-vleisskool as die Suider-Afrikaanse Beproefde Brahmanbul van die jaar benoem. Dit is 'n mediumraambul met besondere bespiering en strukturele korrektheid,” het die Brahmantelersgenootskap se president, mnr. Mecki Schneider, Vrydag aan Republikein gesê.

Schneider sê die bul het ook uitstekende teelwaardes.

“Sy geboortegewig val in die laagste 97% van die ras, sy groeiteelwaarde in die boonste 92%, sy volwasse koeimassa in die beste oftewel laagste 12% van die ras. Dit is dus'n kurweknakker-bul. “Hy is 'n leier as dit kom by eienskappe soos geboortegewig asook ­groei-, skrotum- en karkasgewigteelwaardes. Sy teelwaarde vir dae-tot-kalwing val in die boonste 1% van die ras, so ook sy oogspieroppervlakte-teelwaarde. Al drie van sy seleksie-indekse, wat in dollar (N$) uitgedruk word, val ook in die boonste 1% van die ras. “Die bul is in ses kuddes gebruik, het 'n nageslag van 262 beeste waarvan 260 prestasiegetoets is en 200 ultrasoniese skandering vir karkaseienskappe ondergaan het.”


BEESBOERE MAAK MIN WINS

Voor die veiling het die nasionale simposium ook plaasgevind waar sprekers soos onder meer dr. Mike Fair van die Universiteit van die Vrystaat, die veearts dr. Martin Ferreira, Christo du Plessis, 'n voedingskundige van Feedmaster, asook die kommersiële boer Pieter Zensi aan die woord gekom het.

Zensi het tydens die geleentheid gesê beesboere se winsgewendheid is onder druk, maar dat die huidige goeie pryse wat vir onder meer speenkalwers betaal word, verligting gebring het.

“Volgens die jongste AgriStat-syfer maak 'n beesboer sowat N$100 per hektaar per jaar. Ons uitgawes is 50% van ons bruto inkomste,” het hy gesê.

Volgens hom moet beesboere hul winsgewendheid verhoog deur beeste, wat markgereed is, op die regte plekke te verkoop. “Ons het baie min invloed op die prys van beeste en ook min op ons uitgawes. Ons is prysnemers.

“As jy jou produksie met 5% verhoog, het dit dieselfde uitwerking op jou wins as jy jou uitgawes met 10% sou verlaag. Dis makliker om jou produksie te probeer verhoog as wat dit is om jou onkoste te sny.

“Ons grootste uitgawe is egter arbeid – dit is bykans 23% van al ons uitgawes. 'n Verdere 23% gaan aan voer en lekke en 'n verdere 15% aan brandstof en elektrisiteit.

“As boere hul uitgawes probeer beperk, moet hulle liefs op die drie grootstes bespaar.”

Zensi het verder gesê produksie is 'n funksie van bestokking, reproduksietempo, groei en verliese. Hy het gesê daar is 'n korrelasie van 33% tussen wat boere bestok en produseer.

“Vir elke 100 kg wat jy bestok, produseer jy sowat 33 kg. Dis egter nodig om optimaal te bestok. As jy te laag bestok, groei individuele diere dalk goed, maar word daar in totaal min op die plaas geproduseer. Oorbestokking beteken diere kompeteer vir kos en tel minder gewig op. Die kuns is om 'n punt te vind waar jy baie kilogramme produseer en die beeste steeds vet en markgereed kan wees,” het hy gesê.

Hy het gesê daar is bevind dat digte bestokking 'n probleem in die noordelike kommunale gebiede is, wat lei tot lae produksie, swak groei en bykans soveel beeste as wat gebore word, vrek ook.

Lees in Desember Die Boer vir meer nuus oor die simposium.

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer