Beeskarkas in minibus

Boere op die Hochfeldpad in die Okahandja-distrik het wéér onder veediefstal deurgeloop.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Twee mans het in die landdroshof op Okahandja vir veediefstal verskyn nadat hulle verlede Donderdag met 'n beeskarkas in 'n minibus op die Hochfeldpad betrap is.
'n Polisiepatrollie was verlede Donderdag omstreeks 19:20 op die C31-pad tussen Okahandja en Hochfeld toe twee verdagte voertuie opgemerk is. Vir 'n op en wakker polisieman van Okahandja het 'n klein sedanvoertuig wat 'n minibus sleep, verdag gelyk en hy het ondersoek ingestel.
Volgens die skakelhoof van die Namibiese polisie, adj.komm. Edwin Kanguatjivi, het 'n Toyota Pesso-sedanvoertuig met registrasiemerk N 4535 OH 'n Toyota Hi Ace-minibus met registrasiemerk N 76863 W gesleep.
"Toe die polisie hulle voorkeer, het twee verdagtes op die vlug geslaan en twee is in hegtenis geneem. 'n Beeskarkas is in die minibus gevind, asook 'n .303-jaggeweer," het Kanguativi gesê.
"Die Hi Ace-minibus behoort glo aan 'n polisieman, maar dit is nog nie bevestig nie. Die polisie se ondersoek duur voort."
Twee verdagtes, mnre. David Gariseb (32) en Richard Swartbooi (25), het reeds in die hof verskyn en die saak is tot 27 Junie uitgestel.
"Die polisie is nog op soek na die ander twee verdagtes wat gevlug het," het Kanguatjivi gesê.
Volgens mnr. Arend Brink van die plaas Schnabelsfelde is die bees op die plaas Otjombali geslag.
Dit is die buurplaas van mnr. Burkart Rust se plaas Otukaru Nr. 43.
Rust is die pa van mnr. Kai Rust, wat daarvan aangekla word dat hy 'n vermeende wildstroper, mnr. Andreas Ukandanga, in Januarie 2016 doodgeskiet het.
Rust is nog in aanhouding in Windhoek se sentrale gevangenis se hospitaalselle nadat hy sy borgtogaansoek laat vaar het. Sy moordsaak volg later vanjaar.
In Oktober verlede jaar het die Rusts se plaas weer onder veediewe deurgeloop toe vier beeste gesteel is.
'n Maand daarna is twee beeste op Schnabelsvelde geslag en 35 beeste gesteel.
Boere in die omgewing glo dit is 'n georganiseerde veediefstalsindikaat wat hulle telkens teiken.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!