Beesvleis: SA boere vryf hul hande vir uitvoer
Beesvleis: SA boere vryf hul hande vir uitvoer

Beesvleis: SA boere vryf hul hande vir uitvoer

Suid-Afrika voer maar sowat 5% van beesvleis word na veral China, Asië en die Midde-Ooste uit en wil uitvoermoontlikhede beter ontgin.
Ronelle Rademeyer
Liana Mocke - Die plaaslike beesvleisbedryf kan nog baie munt slaan uit ’n groot, onontginde uitvoermark na lande waar verbruikers maar al te graag hul vleistande in Suid-Afrikaanse snitte sal sink.

Goeie landboutoestande en die bedryf wat goed staande gebly het tydens die Covid-19-pandemie, inperkings ten spyt, skep geleenthede vir beesboere en uitvoerkrale in internasionale markte.

Maar daar is sekere struikelblokke wat die bedryf eers moet oorkom voordat die gapings in uitvoermarkte aangegryp kan word.

“Suid-Afrika het ’n groter rol te speel in die internasionale uitvoermark, maar om dit ’n werklikheid te maak moet die regering werk maak daarvan en help om nuwe markte vir die Suid-Afrikaanse beesvleisbedryf te ontgin,” sê Roelie van Reenen, hoof van die verskaffingsketting van die Beefmaster-groep. Die gebrek aan toegang tot meer markte bly die grootste uitdaging.

Suid-Afrikaners eet die meeste van die land se beesvleis. Net sowat 5% van beesvleis word na veral China, Asië en die Midde-Ooste uitgevoer. Dit kom neer op tussen 3 000 ton en 4 000 ton beesvleis.

Suid-Afrika het al sy staal in handelsooreenkomste met lande soos Mauritius en Egipte gewys. Dit kan dus gedoen word as die politieke wil en samewerking bestaan.

“Suid-Afrika het al sy staal in handelsooreenkomste met lande soos Mauritius en Egipte gewys. Dit kan dus gedoen word as die politieke wil en samewerking bestaan.”

Hy sê die droogte wat Suider-Afrika tot onlangs in ’n wurggreep gehad het, het wel daartoe bygedra dat boere hier en in die buurlande Botswana en Namibië eers fokus om kuddes op te bou.

“Verreweg die grootste struikelblok bly egter toegang tot meer markte. Dit gaan afhang van hoe vinnig en hoe goed die regering en betrokke partye kan saamwerk om geleenthede op die internasionale front te skep wat Suid-Afrikaanse beesvleis sal help om uit te staan.”

Brasilië en Argentinië is die grootste verskaffers van beesvleis aan internasionale markte, maar daar is steeds baie geleenthede vir Suid-Afrikaanse beesvleis.

“Ons vleis het ’n goeie reputasie wêreldwyd vir top-gehalte . . . Brasilië en Argentinië voer hoë volumes beesvleis uit, maar die kwaliteit is laer en kan nie met Suid-Afrikaanse kwaliteit vergelyk word nie.

“Lande waarmee ons eerder kan meeding, is Nederland, wat vleis in lae volumes maar van hoë gehalte uitvoer,” sê Van Reenen.

Johan Willemse van Agrimark Konsultante het aan Netwerk24 gesê die regering is daarvoor verantwoordelikheid om met spesifieke uitvoermarkte te onderhandel sodat die regte protokolle ingestel word. Uitvoer verg die nakoming van baie regulasies.



Dewald Olivier, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Voerkraalvereniging, sê ook Suid-Afrika se beesvleisbedryf vaar goed op die oomblik. Hy reken daar is potensiaal om 20% van die beesvleis uit te voer. Volgens hom hou lande soos Rusland, Indonesië en Maleisië groot geleenthede in.

GOEIE NUUS VIR BEESBOERE, VOERKRALE ÉN VLEISETERS

Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking van FNB Landbou, sê sake lyk goed vir die landboubedryf en die vooruitsig vir die res van die jaar is positief.



Beeste teen sononder in die Vrystaat. As meer uitvoermarkte oopgaan, sal boere meer vleis produseer, wat pryse plaaslik in toom sal hou. Foto: Theresa Senekal

“Die gunstige weervooruitsigte en ’n sterk internasionale aanvraag na landbouprodukte sal produksie steeds help groei.

“Landbou is op die herstelpad ná byna twee uitmergelende jare. Produsente kan nou die kans aangryp om hul skuldlas te verlig en selfs oorweeg om uit te brei.”

Landbou het in 2020 met 13,1% gegroei – die enigste bedryf wat gegroei het. Die ekonomie as geheel het met 7% ingekrimp.

Maree sê die veebedryf het staande gebly ten spyte van Covid-19-regulasies wat restaurante se deure tydelik gesluit en die gasvryheidsbedryf geknou het.

“Vleisprodukte wat vir die plaaslike mark bestem was, is uitgevoer, wat gehelp het om pryse op betreklike hoë vlakke te hou,” sê Maree.

Die plaaslike mark se lus vir vleis het ook sterk gebly. “Die verwagting sou eerder wees dat die aanvraag na vleisprodukte in moeilike tye beïnvloed sou word en dit eerder druk op pryse sou plaas om afwaarts te neig. Vleispryse het egter betreklik stabiel gebly, en selfs versterk vir sommige produkte.”

Hy sê vir produsente is daar goeie nuus met die pryse van beesvleis wat gemiddeld 10% hoër op ’n jaargrondslag is. Vir skaapvleis is dit 15% hoër en vir varkvleis en pluimvee effens hoër met 5%.

Dit was ’n goeie jaar vir boere wat met beeste, skape en bokke boer. “Goeie reënval het vir goeie weiding gesorg wat voerkoste vir produsente verlaag het.”

Sy raad aan beesboere is om nou skuld te delg, kuddes uit te brei en die genetika van kuddes te verbeter. “Boere met groot kuddes kan dit selfs oorweeg om by slagpale of slaghuise betrokke te raak.”

IMPAK OP PLAASLIKE PRYSE

Kenners is nie bekommerd dat verbruikers meer vir beesvleis sal moet opdok as uitvoer toeneem nie.

“’n Groter uitvoermark sal beesboere aanmoedig om hul produksie te verhoog, wat meer lonend sal wees vir die boere en dus ook voordelig vir verbruikers.

“Omdat net sekere snitte uitgevoer word, sal groter uitvoer-hoeveelhede eerder die mark verbreed vir beesboere met steeds voldoende vleis vir die plaaslike mark,” sê Willemse.

Suid-Afrikaanse beesvleis is aansienlik goedkoper gemeet aan wat dit oorsee kos. Suid-Afrikaners betaal tot 30% minder vir beesvleissnitte. -Netwerk24

KASSIE

WAAR KOM DIE VLEIS VANDAAN?

Een belangrike aspek waaraan hier plaaslik aandag gegee kan word, is die instelling van ’n internasionaal aanvaarde naspeurbaarheidstelsel vir die land, volgens Willemse.

Voerkrale wat beesvleis uitvoer, sal byvoorbeeld moet kan bewys dat speenkalwers vir 120 dae op kraal was en in dié tyd ook vir sekere siektes gemonitor is. So ’n stelsel sal ook kan bewys uit watter gebiede kalwers kom en of dié gebiede vry van gevreesde siektes is.

“Hoewel daar aan so ’n stelsel gewerk word, is dit nog nie voltooi nie,” sê Willemse.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!