'Begin beplan vir vloede'

Terwyl dit nog nie bekend is hoeveel skole in die Noorde tydelik weens ­vloede gesluit het nie, is nóg reën op pad.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die Namibiese Hidrologiese Dienste sê gebeurlikheidsbeplanning vir moontlike vloede moet nou in werking tree.

Gemeenskappe wat in gebiede woon wat geneig is tot vloede, moet die nodige maatreëls instel.

Dit volg nadat sommige skole in die Noorde se Ohangwena- en Omusatistreek moes sluit nadat swaar reën klaskamers oorstroom het.

Gister teen druktyd was die verslag oor hoeveel leerlinge en skole geraak is, nog nie be­skikbaar nie.

Terselfdertyd word meer reën tot die naweek vir die groter dele van die land voorspel.

Die Hidrologiese Dienste het Woensdag gesê satellietbeelde toon goeie reën het oor die sentrale noorde van die land, asook in die suide van Angola voorgekom.

Terselfdertyd styg watervlakke by die Cuvelai Iishanas, en die hoogste vlak is tans 1,03 m by die Shaneheke-hidrologiese stasie.

“Die huidige vloedvlakke van die Iishanas wat verby Shanalumono, Endola en Oshakati beweeg, vergelyk met dié van 2008, 2009 en 2011,” lui die vloedbulletin.

Tog is die Zambezirivier se vlakke by Katima Mulilo tans 2,60 m, wat laer as normaal vir hierdie tyd van die jaar is. Die Kavango-rivier se vlakke by Nkurenkuru bly by 2,34 m en vloei 5,18 m by Rundu, maar is ook laer as verlede jaar dieselfde tyd.

Die Oranjerivier se vlakke by Blouputs het met 12 cm gedaal en staan tans op 0,74 m.

Volgens die Namibiese weerkantoor het dit Woensdag 75 mm by Omambuubuu gereën, terwyl onderskeidelik 42 mm en 38 mm op Omuthiya en ­Oshakati ontvang is.

Die plaas Garettes het 30 mm ontvang, gevolg deur Outjo wat 9,6 mm gehad het. Dit het ook sowat 7 mm op Walvisbaai gereën.

Dinsdag het Oshikango 94,6 mm reën ontvang en toe het dit ook 50 mm op Garettes gereën. Khorixas het 45,5 mm ontvang, Oshakati 44,6 mm en Okaukuejo 21 mm. Eenhana en Keetmanshoop het beide 19 mm ontvang, Grootfontein 18 mm, Rundu 13 mm en Nuadubib en Okongo onderskeidelik 12 mm en 10 mm.

Op die Facebook-groep “Reën in Namibië” het lesers gistermiddag gesê dit reën al sedert Woensdagmiddag onophoudelik op Kamanjab, terwyl Ronnie Robberts van 'n plaas daar naby gesê het hy het Woensdag 81 mm gehad. Die Huabrivier het ook begin vloei.

José Martins het Woensdagaand foto's geplaas van Walvisbaai se strate wat onder water was ná 'n halfuur se reën.

Frauke von Hatten sê sy het 8 mm Woensdagaand naby die strandmeer gemeet.

Uis het ook 16 mm Woensdag gehad. Die Hoanibrivier was gisteroggend in vloed en Khowarib het 40 mm reën gehad.

Oshakati se strate het Woensdagoggend soos rivierlope gelyk. Anne-Marie Marais sê sedert Maandag het 106 mm by Eunda in Ovamboland geval, terwyl Ogongo tussen Oshakati en Outapi toe onder die water was.

Rolus Cloete het Woensdag gesê Ongwediva kry al van die oggend vieruur af reën, terwyl Hester Kötting toe gesê het daar het reeds 51mm die afgelope dae geval.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!