'Begin kommersiële byeboerderye in Namibië'
Namibië is in verskeie opsigte ideaal vir bloubessieproduksie, maar dit beteken Namibiërs gaan op groot skaal met heuningbye moet begin boer.
Elvira Hattingh
Namibië moet dringend daaraan werk om plaaslik kommersiële byeboerderye op die been te bring.
Dit omdat beplande bloubessieboerderye teen die Kavangorivier binne enkele jare duisende heuningbykorwe vir bestuiwing wil huur.
Beleggers wil gevolglik dringend in kommersiële byeboerderye belê.
Mnr. Izak Grobbelaar, produksiebestuurder van bloubessies op Mashare Irrigation, sowat 50 km oos van Rundu teen die Kavangorivier, meen tot soveel as drie beplande bloubessieboerderye naby Rundu sal binne jare 4 000 of meer byekorwe benodig.
Mashare Irrigation self beplan om 20 ha bloubessies in September aan te plant, wat beteken teen Mei volgende jaar sal tot 350 byekorwe vir vier maande lank benodig word.
Die landerye sal jaarliks vergroot word, totdat hulle teen 2024 sowat 1 800 of meer byekorwe sal benodig.
NAMIBIË DIÉ PLEK
Mnr. Albert Basson, van die skema se beleggingsbestuurder Köningstein Capital, sê dít volg nadat hulle besluit het om op intensiewe landbou te fokus wat vir die uitvoermark produseer, en hul eerste projek is bloubessies.
“Bye is noodsaaklik vir die produksie hiervan,” sê Basson en voeg by hoewel wind ook met die bestuiwing van bloubessieblomme help, verhoog bye die bestuiwingspersentasie met tot 80% en is dus noodsaaklik.
Volgens Basson is Namibië ideaal vir die produksie van bloubessies vir internasionale markte.
“Namibië se landbouklimaat is ideaal vir die produksie van bloubessies, buiten dat die land ekonomies en polities stabiel is, die nodige skoon water het, goed ontwikkelde infrastruktuur het en op die regte breedtegraad geleë is.
“Die enigste probleem is dat ons nie grootskaal byeboere het nie, maar dit is iets wat aangespreek kan word, terwyl jy niks kan doen as daar byvoorbeeld nie water is nie,” sê Basson.
“Bye vorm 'n noodsaaklike deel van ons besigheidsplan en ons beleggingsoorweging, maar ons wil nie self byeboere wees nie.”
TANS NET 'n STOKPERDJIE
“Ons wil die kommersiële been vir byeboerdery in Namibië maak staan. Bye is noodsaaklik en ons as beleggingsbestuurders is intensief betrokke daarby om seker te maak dié bal word nie laat val nie,” sê Basson.
Hy sê Namibië het tot dusver nie werklik kommersiële byeboerderye nie, want niemand huur tans korwe nie.
“Uit 'n sake-oogpunt was daar dus nog nie werklik ekonomiese motivering om met bye te boer nie – tans word dit slegs as stokperdjie of in die vorm van pesbeheer gedoen. Ons betree egter nou die mark en skep van dag een af 'n groot vraag na byeboere.
“Ons plant September vanjaar reeds die eerste bloubessies en sal teen 2020 tussen 150 en 350 byekorwe benodig.
“Gewoonlik moet twee jaar vir so iets gegun word, maar ons wil teen volgende jaar reeds die byekorwe in die lande hê.”
Basson sê 'n byeboerdery is uiters geskik as SME-onderneming, maar ook vir bestaande kommersiële boere wat moontlik reeds grond en weiding het.
Hy sê byekorwe kos sowat N$2 000 per korf en hulle is bewus van die groot onkoste hiervan, maar beoog om 'n program van stapel te stuur om byeboere te help om op die been te kom – al beteken dit Mashare moet aanvanklik al die korwe aankoop.
SÓ WERK DIT
Grobbelaar het gesê Mashare Irrigation sal aanvanklik tussen vier en 10 byekorwe per hektaar benodig.
“Die aanvanklike aantal byekorwe per hektaar is klein omdat die plantjies in hul eerste jaar nog jonk is en oeste kleiner sal wees.
“Van jaar drie af sal ons waarskynlik tot 15 byekorwe per hektaar benodig,” sê hy.
Volgens 'n tabel van Mashare Irrigation wil die maatskappy sy bloubessielanderye jaarliks uitbrei, wat beteken hulle sal teen 2021 reeds sowat 160 tot 400 byekorwe vir 40 ha bloubessies benodig.
Die getal sal aanhou toeneem tot hulle teen 2024 tot 1 800 byekorwe kan benodig as hulle 10 korwe per hektaar gebruik.
“As die plantjies baie goed aard, sal ons tot 15 korwe per hektaar benodig,” sê hy.
Grobbelaar sê bloubessies blom tussen Mei en Augustus, wat beteken hulle sal byekorwe jaarliks vir vier maande lank moet huur.
“Oestyd begin 'n maand nadat die bye tussen die bloubessies geplaas is, en duur 'n maand ná die bye weer verwyder is voort.”
Grobbelaar sê boonop weet hy van nog twee bloubessieprojekte wat ook in die gebied beplan word en wat ook binnekort byekorwe gaan benodig.
'n Kenner in die bedryf, mnr. Johan le Roux van Suid-Afrika se vrugtebedryf, sê Suid-Afrikaanse byeboere maak meer geld uit die verhuring van hul korwe aan vrugteboere as uit heuningproduksie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie