Begroting dalk 'doodsvonnis' vir konstruksie
Jo-Maré Duddy
Sowat 34% van ondernemings in die plaaslike konstruksiebedryf sal óf hul deure moet sluit óf bankrotskap moet verklaar indien 'n hupstoot in die nuwe begroting nie tot hul redding kom nie.
Nóg 40% sal hul bedrywighede drasties moet afskaal of dormant raak.
Dié waarskuwing is gister deur die Federasie van die Konstruksiebedryf van Namibië (CIF) as die laaste pleidooi vir 'n beduidende ontwikkelingsbegroting vir 2017-'18 gerig.
Mnr. Calle Schlettwein, die minister van finansies, lê vanmiddag sy begroting vir 2017-'18 in die parlement ter tafel. Volgens sy hoofbegroting wat in Februarie 2016 ingedien is, is sowat N$10,9 miljard in vanjaar se begroting vir ontwikkelingsprojekte opsy gesit.
“'n Skielike en uitermate vermindering van Namibië se ontwikkelingsbegroting sal die doodsvonnis beteken vir baie Namibiese ondernemings wat in die plaaslike konstruksiesektor werksaam is, tensy 'n reddingsboei geskep word,” sê die CIF.
Die federasie besef begrotingskonsolidering en die prioritisering van uitgawes in belang van ekonomiese volhoubaarheid is 'n vereiste gegewe die regering se fiskale beperkinge. Dit hoop egter besnoeiings van kapitaalprojekte sal die minimum wees en dat pogings eerder aangewend word om bedryfsuitgawes beduidend te sny, het me. Bärbel Kirchner, raadgewende hoofbestuurder van die CIF, in 'n verklaring gesê.
Groot verliese
Dit is van kritieke belang dat die nuwe begroting werk vir die konstruksiesektor bied, sê sy.
“Aangesien die meeste van die bedryf van regeringskontrakte afhanklik is, is dit onmoontlik vir al die maatskappye om hul markte te diversifiseer en alternatiewe inkomstebronne te vind. Dit kan gevolglik tot 'n reuse-verlies van bestaande kapasiteit in die bedryf lei, asook tot groot verliese in werkgeleenthede en hoër vlakke van werkloosheid,” sê Kirchner.
Net van 1 September tot 30 November het meer as 'n duisend mense reeds hul werk in die boubedryf verloor.
Dis tyd vir die regering om daadwerklik sy gewig agter Namibiese kontrakteurs in te gooi en te verseker hulle kry alle prioriteitsprojekte, sê die CIF.
“In tye soos dié moet die Namibiese familie eerste kom,” sê Nico Badenhorst, president van die federasie.
Schlettwein het in sy halfjaar-hersiening in Oktober die ontwikkelingsbegroting vir 2016-'17 reeds met bykans N$2,2 miljard of 24% verminder.
Verwagtinge
In hul jongste ekonomiese vooruitsig sê IJG Securities vandag se begroting sal waarskynlik 'n voortsetting van Schlettwein se Oktober-konsolidasie wees.
Lopende uitgawes behoort gesny te word sodat geld vir broodnodige infrastruktuurontwikkeling beskikbaar is, sê IJG. Tot dusver spruit byna 50% van alle besnoeiings uit die ontwikkelingsbegroting.
“Dit is presies die teenoorgestelde as wat nodig is in 'n land wat oor die jare van 'n infrastruktuursurplus na 'n –tekort beweeg het,” sê IJG. Sou die neiging van 'n toenemende bedryfsbegroting ten koste van die ontwikkelingsbegroting voortduur, kan dit die ekonomie op die lang termyn strukturele skade berokken, waarsku dié ontleders.
Hoewel hulle ook verwag Schlettwein sal nie veel van sy beleid in die huidige bestedingsraamwerk vir die medium-termyn (MTEF) afwyk nie, meen Simonis Storm die minister sal die begroting vir strategiese areas in infrastruktuurontwikkeling soos vervoer, water, krag en behuising vergroot.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie