Behati help renosters

Grootfontein se supermodel het in haar geboorteland kom kuier en veg nou saam in die stryd om dié bedreigde diere van uitwissing te red.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Die Namibiese supermodel, Behati Prinsloo, het by die Save The Rhino Trust (SRT) Namibia aangesluit in die stryd om renosters te bewaar.

Dié Victoria's Secret Angel-­model, oorspronklik van Grootfontein, is besig om 'n internasionale veldtog oor renosterbewaring van stapel te stuur.

Sy het vandeesmaand haar geboorteland besoek om meer oor die beskerming van die bedreigde swartrenoster te leer.

“Namibië is my huis. Dit is Moeder Afrika se versteekte juweel. Dit is een van die ongelooflikste plekke in die wêreld en renosters dra by tot hierdie wonder,” sê Behati.

“Ek het hier grootgeword en my ouers bly steeds hier. Dit is waarom hierdie saak my so na aan die hart lê.”

Behati het vir die eerste keer in sewe jaar vir haar ouers, pastoor Boet en me. Magda Prinsloo, op Grootfontein kom kuier.

“Die geleentheid om huis toe te kom, die mense te ontmoet wat na die renosters omsien, en om saam met die renosterspoorsnyers, bewaarders en gemeenskappe te werk en bewustheid te bevorder, is baie belangrik vir my,” sê sy.

“Eendag wil ek my kinders die geleentheid gee om diere in die wildernis te ervaar. Hulle het ons vir geslagte geïnspireer; dit is nou tyd om hulle te help.”

Behati is getroud met die Amerikaanse rockster Adam Levine en hulle het twee dogtertjies, Dusty Rose en Gio Grace.

Sy het tydens haar besoek die ruwe terrein van die Noordweste te voet saam met spoorsnyers van die SRT en renosterbewaarders van die bewaringsgebiede aangepak om renosters te soek.

“Behati het die gevolge van wildmisdaad en die droogte eerstehands ervaar,” lui 'n mediaverklaring van die SRT.

“Met drie renosters wat daagliks vir hul horings in Afrika afgemaai word, is swartrenosters in ­ernstige gevaar. Gemeenskapsgebaseerde en regeringsprogramme takel die kwessie van uitwissing.”

Die SRT meen Behati het nou 'n beter begrip van watter toewyding dit verg om hierdie kritiek bedreigde diere te beskerm.

“Sy kan nou die storie van hierdie ongelooflike diere met die wêreld deel, en van hoe gemeenskappe om renosters se oorlewing veg.”

Behati se pa het op sy Facebook-blad geskryf sy dogter gaan einde Mei 'n gas op die Ellen ­DeGeneres Show wees om oor haar rol as ­ambassadeur vir die SRT en oor Namibiese renosters te gesels.

Sy het op haar eie Facebook-blad geskryf Namibië het die grootste bevolking swartrenosters in die wildernis.

“Ek is hartstogtelik daaroor om dit so te hou. Om in Afrika te kon grootword, was ongelooflik. Ek droom daarvan om hierdie pragtige diere aan my kinders te wys.”

Mnr. Simson Uri-Khob, die SRT se uitvoerende hoof, is verheug om Behati by hul span te verwelkom.

“Ons weet haar betrokkenheid sal 'n groot verskil vir renosterbewaring en Namibië maak.”

Volgens me. Ginger Mauney, ­SRT-woordvoerder, het hul vennote in bewaring, B2Gold, Mount Etjo Safari Lodge, Ongava Game Reserve, WestAir Aviation en ­Wilderness Safaris Namibia gehelp om Behati se reis moontlik te maak.

Mauney het die vennootskap tussen die Wêreld- Natuurfonds (WWF) en Namibië se Rhino ­Innovation Fund van stapel gestuur.

Kommentaar

Republikein 2024-11-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 39° Rundu: 24° | 36° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 24° | 32° Ruacana: 22° | 32° Tsumeb: 22° | 31° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 22° | 31° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 23° | 36° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 22° | 37° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 23° | 31° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 17° | 31° Maseru: 14° | 29° Antananarivo: 15° | 32° Lilongwe: 21° | 31° Maputo: 22° | 34° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 26° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 34° Harare: 20° | 33° #REF! #REF!