Behuising en infrastruktuur op agenda

Plaaslike owerhede en streekrade het 'n betekenisvolle rol om te speel wat die lewering van huise betref, sê rolspelers.
Denver Kisting
Denver Kisting



Politieke rolspelers en ontleders meen plaaslike owerhede en streekrade het 'n verantwoordelikheid om dakke oor mense se koppe te help verseker.

Mnr. Mike Kavekotora, leier van die RDP, sê: “Hulle het 'n baie beduidende rol om te speel mits alles gelyk is.”

Omdat dié liggame op 'n plaaslike vlak met kiesers se behoeftes te make het, beskik hulle oor beter insig oor wat die behoeftes van hul onderskeie gemeenskappe is – spesifiek wat behuising en infrastruktuurontwikkeling betref, sê dié opposisieleier.

“Om geheimsinnige redes het die Swapo-regering egter versuim om ten volle te desentraliseer en die regering op plaaslike en streekvlak van die geleentheid beroof om sy verantwoordelikhede na te kom. Die argument wat Swapo voorop stel, is dat Namibië 'n eenheidstaat is en nie ten volle kan desentraliseer nie.”

Maar, sê Kavekotora, “dis 'n goedkoop argument daardie, omdat plaaslike en streekregerings grondwetlike bepalings is. Hulle behoort daardie rol te speel, maar doen dit nie vanweë bovermelde redes en ook weens begrotingsbeperkings. As alles gelyk was, sou hulle eintlik in die beter posisie gewees het om daardie rolle te vertolk.”

Syns insiens sal desentralisering ook die druk op die sentrale regering verlig. “'n Tipiese voorbeeld is die massabehuisingsprojek waar huise gebou is waarvoor daar geen aanvraag was nie. Dit sou vermy kon gewees het indien daardie projek bestuur is deur mense wat met die plaaslike omstandighede vertroud is.”



DRIE VLAKKE VAN REGEER

Die bestuurder van programme by die Namibiese Instituut vir Demokrasie (NID), mnr. Panduleni Nghipandulwa, sê dis belangrik om te benadruk dat Namibië drie regeringsvlakke het, naamlik sentrale, streek- en plaaslike regering. “Elke vlak van regering het sy unieke rol, funksie en pligte.”

Wat die sentrale regering betref, sê dié ontleder, bestaan dit uit die president, die kabinet en twee parlementshuise – die Nasionale Vergadering (NV) en die Nasionale Raad (NR). “Die sentrale regering beskik oor politieke mag en die gesag om die staatsdiens te beheer. Sy funksie behels hoofsaaklik om die welstand van die land te ontwikkel en te bevorder.”

Nghipandulwa sê die streekregering beslaan streekrade en goewerneurs. “Sy funksie is om die welstand van die streek waarin hy diens doen, te bevorder en te ontwikkel. Daar word in die algemeen na die streekregering verwys as die gedesentraliseerde, verteenwoordigende regering – met algemene en spesifieke magte aan dit toegeken deur die sentrale regering.”

Namibië het 14 streekrade – een in elk van die politieke streke – wat uit 121 kiesafdelingsraadslede bestaan.

Op plaaslikeregeringsvlak bestaan dié liggame uit demokraties verkose individue wat elkeen 'n politieke party, 'n organisasie of 'n vereniging verteenwoordig.

Dié mense, sê Nghipandulwa, woon in die betrokke plaaslike owerheid en is verantwoordelik vir die ontwikkeling van die owerheid.

Plaaslike owerhede is onder meer gemoeid met die lewering van water, krag, riool- en ander dienste.

Op 'n vraag of streekrade en plaaslike owerhede genoeg doen, sê Nghi­pandulwa: “Ek glo daar is soveel meer wat streekrade en plaaslike ower­hede kan doen om noodsaaklike dienste aan mense op voetsoolvlak te lewer. Soveel mense trek steeds van landelike na stedelike gebiede op soek na werksgeleenthede en om basiese dienste te ontvang.”

Gevolglik, sê hy, groei informele nedersettings in stedelike gebiede en skole en hospitale bars uit hul nate. “Dit is 'n duidelike aanduiding dat desentralisering in Namibië nie so suksesvol was soos dit kan wees nie.”

Nghipandulwa sê daar is 'n behoefte vir 'n nasionale hersiening van desentralisering met die oog op die bespoediging van dié proses, die stel van duidelike teikens en om beleidsrigtings in te span om verantwoordbaarheid en dienslewering te verbeter.

Dr. Panduleni Itula, leier van die Independent Patriots for Change (IPC), sê al hul voornemende kandidate wat aan die verkiesings op 25 November deelneem, moet verstaan wat hul posbeskrywings behels. “Ons het klem geplaas op die behoefte dat hulle 'n ontleding moet doen van die skuld in hul plaaslike owerheid om met 'n ware en beskermde ontwikkelingsplan vorendag te kom vir die inwoners van hul regsgebied.”

Hy sê die fokus moet eweneens ver­skuif na die ontginning van “alternatiewe inkomste” om die lewering van dienste te verseker.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer