Beide 2021-finaliste ook skuldig

Die afgelope klubrugbyseisoen het onlosmaaklik in 'n warboel van administratiewe oorsigte en dissiplinêre klagtes verstrengel geraak.
Andrew Poolman
Andrew Poolman



Die 2021 NRU premierliga-rugbyfinaal se uitslag kan heel moontlik nietig verklaar word, nadat beide finaliste deur 'n tugkomitee daaraan skuldig bevind is dat hulle spelers gebruik het wat nie ooreenkomstig met die regulasies geregistreer was, of vrystelling van vorige klubs kon wys nie.

FNB Unam het FNB Western Suburbs in die eindstryd op 20 November met 30-20 verslaan.

FNB Wanderers, wat tweede op die puntelys geëindig en sy semifinaal teen Suburbs gewen het, is enkele dae later deur Suburbs vir die gebruik van onkiesbare spelers aangekla en later skuldig bevind – wat die Khomasdallers na die eindstryd laat deurdring het.

Wanderers het later ook 'n klag by die Rugby-unie ingedien waarin hy uitgewys het dat drie spelers van Suburbs en sewe van Unam ook tevore klubrugby in die buiteland gespeel het. Wanderers het daarop aangedring dat die NRU ondersoek na hierdie spelers se vrystelling van hul vorige klubs moet instel.

Die tugkomitee se bevinding is Vrydag bekendgestel en beide Unam en Suburbs is skuldig bevind. Die tugkomitee het nog nie aangekondig watter strawwe hiervoor opgelê gaan word nie.

Die NRU se kompetisiereëls maak voorsiening dat 'n klub wat op sulke klagte skuldig bevind word, dié betrokke wedstryd se ligapunte verbeur. Uiteraard is daar in die finaal nie ligapunte op die spel nie en die feit dat beide finaliste skuldig bevind is en die seisoen nou geskiedenis is, sal die tugkomitee weinig ander keuse laat as dat die finaal se uitslag nietig verklaar word.

Die drie Suburbs-spelers in die finaal wat deur Wanderers uitgewys is, was Roderique Victor (klub in Roemenië), Diamando Tjombe (Skotland) en Mbimbo Mbai (RSA). Voordat die uitslag gelewer is, het Suburbs glo in minstens een geval skuldig gepleit.

Aan Unam-kant is die soeklig gerig op die vrystellings en kiesbaarheid van Alcino Izaacs, Chad Plato, JC Winkler, Cameron Langenhoven, Darryl Wellman en Graham April, wat almal in stadiums vir verskillende spanne in die RSA gespeel het, asook Berry Gande (Zimbabwe).

Die spelers waarop Wanderers se eerste span skuldig bevind is, is die losskakel Jan-Wessel Meyer (registrasie) en skrumskakel Dian von Solms, wat nie die minimum twee ligawedstryde gespeel het voor hy in die semifinaal in die plek van die beseerde Jacques Theron gebruik is nie.

Wanderers II is voor die reserweligafinaal uitgeskop op grond van die insluiting van Corne Esterhuizen, Allister Jacobs en Christiaan Dry. Hulle het nie elk minstens twee ligawed­stryde gespeel voor die semifinaal nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!