Bejaarde vrou met Kongokoors gediagnoseer
Bejaarde vrou met Kongokoors gediagnoseer

Bejaarde vrou met Kongokoors gediagnoseer

Familielede en gesondheidswerkers wat in aanraking was met 'n vrou wat positief vir Kongokoors getoets het, word streng gemonitor.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - ‘n Bejaarde vrou is Vrydag (13 September) in die Outapi-distrik in die Omusatistreek met Kongokoors gediagnoseer.

Volgens die woordvoerder van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) het die 76-jarige vrou op 5 September by die hospitaal op Outapi om hulp aangeklop, nadat sy simptome van moegheid, diarree en swak aptyt ervaar het. Sy is behandel en huis toe gestuur.

Volgens sr. Manga Libita is sy egter dieselfde dag weer deur haar seun en dogter na die hospitaal gebring, nadat sy bloed opgebring en van pyn in haar gewrigte gekla het. Haar neus het ook gebloei en sy het aan mediese personeel gesê sy is deur ‘n bosluis gebyt. Volgens Libita kon die vrou nie sê wanneer sy gebyt is nie.

“Haar dogter het wel die bosluis op haar ma se linkerarm gesien en dit is deur die dokter verwyder,” het Libita gesê. Sy is in die hospitaal opgeneem en die volgende dag in isolasie geplaas omdat Kongokoors vanweë haar simptome vermoed is.

‘n Bloedmonster is ook na die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes in Suid-Afrika gestuur. By verdere navrae is bevestig die vrou is van die Okatwa-nedersetting in Ondombovola in Angola afkomstig. Tot op hede was die vrou in kontak met 23 gesondheidswerkers en 12 familielede. Nege gesondheidswerkers en vyf familielede is as hoërisiko-kontakte uitgesonder. Die seun en dogter wat hul ma na die hospitaal geneem het, woon onderskeidelik in die Oshiputu Sheendjamba- informele nedersetting in die Outapi-kiesafdeling en die Goreangab- informele nedersetting in Windhoek.

“Die seun, wat tans in Windhoek is, is telefonies gekontak, terwyl die Windhoek-distrik ingelig is om hom vir simptome te monitor. Die gemeenskapswerker vir die Uukwandongo-nedersetting monitor die ander kontakte op ‘n daaglikse basis.”

Volgens Libita is die toestand van die vrou stabiel en bly sy in streng isolasie sonder enige besoekers.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer