Bejaardes by Farm Windhoek aangeval

Mariselle Stofberg
Mariselle Stofberg- Jare lange huisvriende se laatmiddag uitstappie by Farm Windhoek het Saterdag traumaties geëindig toe ’n egpaar en hul vriendin deur twee gewapende rowers oorrompel en erg beseer is.

Tussen 19:00 en 19:30 het me. Heidrun Lucks (75), haar man, mnr. Dieter Lucks (78), me. Anna-Louise Redecker (73) en haar man, mnr. Manfred Redecker (78), en nóg twee familielede van die Redeckers, me. Raghilt Redecker (60) en me. Christine Redecker (76), oudergewoonte gaan stap.

Heidrun en Anna-Louise is deur die rowers aangeval en beseer, en Manfred het ook deurgeloop toe hy hulle te hulp gesnel het.

Die groep van ses mense het in groepe van twee ongeveer 20 m uitmekaar gestap, met Raghilt en Christine voor, Dieter en Manfred in die middel en Heidrun en Anna-Lousie agter, toe twee mans Heidrun en Anna-Louise na bewering van agter oorval het.

Die vroue het elk ’n rugsak met waterbottels gedra, en die rowers het hulle na wat verneem word van agter aan die sakke gegryp.

“Ek het eers gedink iemand wou my verras, maar dit was nie die geval nie,” het Anna-Louise gesê.

Mnr. Heiko Lucks (45), Heidrun en Dieter se seun, het aan Republikein gesê die twee mans het Heidrun en Anna-Louise herhaaldelik teen die grond neergegooi en aangerand.

“Hulle het probeer om Anna-Louise se ring af te kry, en toe die ring nie wou afkom nie het hulle gedreig om haar vinger af te sny.”

Dieter en Manfred het dadelik na hul vrouens gehardloop toe hulle die gille hoor, maar die rowers het glo messe uitgepluk en gedreig om beide mans dood te maak indien hulle nader sou kom.

“Ek het probeer om die twee vroue te bevry, maar die rowers het my neergegooi, my horlosie van my arm afgeruk en dit in die proses verskriklik seergemaak,” het Manfred vertel.

Die rowers het glo Manfred se iPhone, al sy kaarte en sy bril gesteel.

“Hulle wou my met die mes bydam, maar ek het probeer om soveel moontlik teenstand te bied. My arms is vol bloukolle en kneusplekke,” het hy gesê.

“Toe ek my man daar op die grond sien, wou ek hom net help, maar toe gryp hulle my weer en gooi my neer op die grond dat my been en voet heeltemal gedraai was. Dit was ontsettend seer, en ek het gedink ek gaan dit nie uithou nie,” het Anna-Louise gesê.

Die rowers het glo probeer om Anna-Louise se trouring af te ruk, maar die ring wou nie van haar vinger af nie. Daarná het hulle na bewering probeer om haar horlosie hardhandig af te ruk.

“Ek het gesê ek sal dit vir hulle afhaal, maar hulle wou niks weet nie en het net verder geruk tot hulle dit afgekry het.”

Dieter wou ook probeer help, en het op die mans geskree, waarna die rowers glo messe uitgeruk het.

“Hulle het vir my gesê ‘nou is jou lewe op ’n einde’. Hulle het my omsingel, en ek het besef ek gaan niks verder kan doen om te help nie. Ek het stadig wegbeweeg, en my vrou het versigtig na my toe terugbeweeg.”

Dieter het probeer om sy vrou moed in te praat en aangesê om deur die pyn aan te hou beweeg.

“Ek het vir haar gesê sy moet net vasbyt en op haar tande byt sodat sy kan wegkom van die toneel af.”

Raghilt, wat heel voor gestap het, sê sy het agter ’n bos gaan skuil en dadelik die buurtwag en ambulans ontbied.

“Ek het vir Eric Strauss van die buurtwag in Pionierspark gebel, wat weer die buurtwagte in Kleine Kuppe en Auas Hills ingelig het. Hulle was amper onmiddellik op die toneel en het 'n ambulans ontbied," vertel Raghilt, 'n bekende verpleegkundige en vroedvrou.

Anna-Louise en Heidrun is na die Lady Pohamba Private Hospitaal geneem, waar hulle behandel is.

“Ek het aanvanklik gedink my vrou se oog is uit, want daar was verskriklik baie bloed aan haar gesig. Toe hulle haar gesig skoongemaak het, het ek gesien dit was net ’n groot sny aan haar kop,” het Dieter gesê.

Met beide vrouens gaan dit beter, maar die gesinne verwerk nog die emosionele trauma.

“Dit gaan beter met my vrou en fisiek sal hierdie ding ook verbygaan, maar die sielkundige trauma gaan altyd daar wees,” het hy gesê.

Die Redeckers het 'n klag van roof en aanranding by die polisie ingedien.

Adj.komm. Edwin Kanguatjivi, nasionale polisiewoordvoerder, het aan Republikein gesê tot dusver is niemand in hegtenis geneem nie, maar die polisieondersoek duur voort.

Kanguatjivi het 'n beroep op die publiek gedoen om te alle tye waaksaam te wees, veral in afgeleë gebiede.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!