Bejaardes se munisipale skuld word afgeskryf

Tydens pres. Hage Geingob se laaste stadsaalvergadering is 'n oorsig oor droogtehulpuitreike, asook toekomsplanne vir die streek gegee.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Die Windhoek-munisipaliteit het amptelik 'n beleid onderskryf om bejaardes van munisipale skuld vry te skeld.

Dit kom daarop neer dat sowat 1 209 bejaardes se agterstallige rekeninge, oftewel sowat N$2,2 miljoen, jaarliks afgeskryf sal word.

Die spesiale raadgewer vir die president, me. Inge Zaamwani-Kamwi, het gister tydens pres. Hage Geingob en kabinetsministers se laaste stad­saalvergadering, met die Khomasgemeenskap, dié aankondiging in Windhoek gemaak.

Sy het terugvoering gegee oor ver­skeie kwessies wat gemeenskapsgroepe tydens landswye stadsaalvergaderings in 2015 gelug het.

Zaamwani-Kamwi het gesê die regering takel die gebrek aan ervaring onder graduandi deur self intern­skappe aan te bied wat sowat N$200 miljoen per jaar kos, en soortgelyke programme bestaan in die private sektor.

Oor versoeke dat sentrums vir beroepsopleiding, asook biblioteke op Groot Aub opgerig word, het Zaamwani-Kamwi gesê die nedersetting vorm deel van Windhoek waar al die fasiliteite reeds beskikbaar is. Groot Aub se sportveld sal wel geleidelik opgegradeer word.

Sy het ook gesê N$50 miljoen is vir die formalisering van informele nedersettings in Khomas toegestaan .



SAKEKWESSIES

Na aanleiding van sakelui se versoeke­ van 2015 het Zaamwani-Kamwi gesê 'n komitee is in 2012 onder voorsitterskap van die ministerie van myne en energie gestig. Die komitee het twee haalbaarheidstudies oor voorstelle vir die plaaslike verwerking van minerale gedoen.

“Die komitee is besig om 'n gepaste strategie vir Namibië te formuleer,” het Zaamwani-Kamwi gesê.

Sy het ook gesê die wet op beleggingsbevordering wat tans hersien word, sal voorsiening maak dat sekere ondernemings, soos onder meer haarsalonne en kleinhandelaars, plaaslik net deur Namibiërs gestig mag word.

Volgens haar het die munisipaliteit die afgelope jare ook talle erwe gediens en by die aktekantoor geregistreer, wat 209 erwe in Otjomuise uitbreiding 5, 180 erwe in Khomasdal, asook die goedkeuring van 213 erwe in Academia uitbreiding 1 insluit.

Zaamwani-Kamwi sê hepatitis E in informele nedersettings kan slegs oorwin word as sanitasie verbeter word. Dienooreenkomstig is 142 toilette van 233 (64%) reeds gebou, terwyl nog 67 toilette tans op Plaas Areb, Ongombo West en Arovlei gebou word.



DROOGTEHULPUITREIKE

Die Khomasstreek se goewerneur, me. Laura McLeod-Katjirua, het tydens die geleentheid gesê 'n ernstige water- en voedseltekort heers in Khomas. Voorts is lewende hawe se toestand swak tot gemiddeld.

Volgens haar was 1 229 huishoudings in Windhoek aanvanklik vir voedselbystand geregistreer, maar eindelik het 1 842 aangedui hulle benodig hulp.

Sy het gesê in die Khomasstreek is altesaam 271 boere geïdentifiseer wat voer moet ontvang.

Verder is N$1,5 miljoen toegestaan om water aan die weerloosste gemeenskappe te verskaf en altesaam 68 405 mense is tans in Windhoek se sewe kiesafdelings as permanente begunstigdes van die voedselbank geregistreer.

Die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, het tydens die geleentheid weer 'n beroep op Namibiërs gedoen om 2% van hul jaarlikse inkomste tot die regering se droogterampfonds by te dra. Dit omdat hul skattings van die aantal mense wat droogtehulp sou moes ontvang, glo heeltemal te laag was.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!