Bek-en-klou: Nog 'n variant dreig
Zambië het 'n uitbreking van 'n tweede nuwe variant van bek-en-klouseer opgemerk in gebiede wat teenaan Namibië en Angola grens.
Elvira Hattingh
Kommer heers dat 'n tweede nuwe variant van bek-en-klouseer vanaf Zambië na Namibië kan versprei, indien stappe nie gedoen word om die onwettige oorsteek van vee oor die grens hok te slaan nie.
Dit volg nadat die uitbreking van serotipe-O vir die eerste keer in Namibië se geskiedenis in Augustus deur laboratoriums bevestig is. Sowat 5 000 beeste is reeds deur die nuwe variant besmet, terwyl 150 al gevrek het.
Die minister van landbou, water en grondhervorming, mnr. Calle Schlettwein, het die inligting Donderdag in die parlement bekend gemaak.
Schlettwein sê die serotipe-O-variant het waarskynlik na Namibië gekom deur die onwettige oorsteek van vee tussen die Zambezistreek en Zambië.
“Bo en behalwe die variant, het Zambië 'n voortslepende uitbreking van serotipe-A opgemerk in gebiede wat teenaan Namibië en Angola grens.
“Dit beteken daar bestaan 'n groot risiko dat serotipe-A in Namibië ingebring kan word en in die noordsentrale dele van die land kan versprei, indien die huidige oorgrensbeweging van vee voortgaan,” het hy gesê.
“Dis belangrik om daarvan kennis te neem dat beide serotipes-A en -O nuwe variante in Suider-Afrika is.
“Daar bestaan 'n behoefte vir samewerking onder SADC-lande, veral met direkte buurlande, om die variante te beheer en te voorkom omdat dit 'n bedreiging vir die lewendehawebedryf in Namibië inhou,” het hy gesê.
ENTSTOF
Schlettwein het gesê 340 000 dosisse entstof teen serotipe-O is intussen vir sowat N$6 miljoen aangekoop, wat reeds teen 17 September afgelewer is.
“Inentings het reeds begin en is nog aan die gang, met die Zambezistreek se bevolking van 170 000 beeste as die teiken. Boere word versoek om al hul beeste na die naaste beeskraal vir inenting te bring,” het hy gesê.
Ander maatreëls vir die bekamping van die virus, sluit in dat vyf padblokkades in die streek opgestel is om die beweging van vee en rou produkte te bekamp, terwyl siekte-monitering streng uitgevoer word.
Schlettwein het gesê die 150 beeste wat reeds gevrek het, is aan die siekte se komplikasies dood soos dors en hongerte omdat die erge sere in hul bekke en aan hul hoewe veroorsaak dat hulle nie kan eet of water drink nie.
“Dis belangrik om daarvan kennis te neem dat serotipe-O ook kliniese gevalle onder bokke en skape veroorsaak, wat die siekte verder na vatbare diere kan versprei.”
ONTDEKKING
Schlettwein sê die ministerie het reeds op 28 Mei 'n uitbreking van bek-en-klouseer by die Kasenu-nedersetting in die Kabbe Suid-kiesafdeling in die Zambezistreek ontdek.
Die Sentrale Veterinêre Laboratorium (CVL) het op 3 Junie bevestig die uitbreking is deur serotipe-SAT 1 en -SAT 2 veroorsaak.
Dié uitbreking het intussen na die Kabbe Noord-kiesafdeling asook Katima se landelike kiesafdelings versprei en altesaam sowat 5 000 beeste besmet.
“Maatreëls om die uitbreking te beheer, is onmiddellik geïmplementeer, insluitend beperkings op die beweging van vee, intensiewe siekte-toesig asook die inenting van beeste teen die bek-en-klouseer serotipe-SAT- 1, -2 en -3.
“Ten spyte van dekking van inentings onder besmette kuddes, het ons waargeneem die infeksiekoers het hoog gebly onder die ingeënte diere, wat 'n aanduiding gee 'n ander variant is teenwoordig.
“Dis intussen deur verdere veld- en laboratorium ondersoeke bevestig, wat die nuwe serotipe-O op 9 Augustus geïdentifiseer het. Dis die eerste keer in Namibië se geskiedenis dat dit gebeur. Dit verduidelik ook die swak reaksie op die entstof,” het Schlettwein gesê.
“Genetiese ontledings om die oorsprong van die nuwe variant vas te stel, dui aan dit kan verbind word met die voortdurende serotipe-O-uitbreking in Zambië, wat reeds sedert 2018 daar voorkom.”
Schlettwein sê daar is sewe variante van bek-en-klouseer virusse, naamlik A, O, C, die Suid-Afrikaanse SAT-1, -2 en -3, asook Asië-1.
In Namibië se geskiedenis is uitbrekings egter altyd deur die SAT-1, -2 en -3-serotipes veroorsaak.
RAMPSPOEDIG
“Die uitbreking van die siekte het die potensiaal om die land se ekonomiese aktiwiteite asook boere en hul afhanklikes se lewensbestaan lam te lê en voedselsekuriteit op nasionale en huishoudelike vlak te belemmer,” het die minister gewaarsku.
Hy sê die uitbreking van die siekte het 'n negatiewe uitwerking op die handel van vee en veeprodukte omdat verskeie wêreldlande vry van die siekte is en nie vleis van 'n besmette land sal aanvaar nie.
“Daar moet kennis van geneem word dat sodra 'n uitbreking in die noordelike kommunale gebied ontdek word, dit enige vordering sal platvee wat deur die ministerie binne die beskermingsone gemaak is om vry van die siekte te wees.
“Dit sal ook handelsooreenkomste belemmer wat onlangs met lande soos Ghana onderteken is om vleis en vleisprodukte vanaf ons kommunale gebiede uit te voer.”
Hy het 'n beroep op die polisie se steun gedoen om die grens te patrolleer en te keer dat dit onwettig deur vee oorgesteek word.
“Ek versoek veeboere en -handelaars om nie vee of potensieel besmette vee onwettig oor die grense van buurlande te bring nie.”
Hy het 'n beroep op goewerneurs en boereverenigings gedoen om te help om boere hieroor in te lig.
Schlettwein het aan die begin van die uitbreking verskeie maatreëls afgekondig om die situasie te beredder, wat insluit dat vyf padblokkades opgestel is om die beweging van vee en rou produkte te voorkom. Die ministerie monitor die gebied vir enige tekens van siekte onder vee.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie