Bek-en-klouseer: Verbod op SA-invoere geld steeds
Bek-en-klouseer: Verbod op SA-invoere geld steeds

Bek-en-klouseer: Verbod op SA-invoere geld steeds

Die Namibiese regering het gister bevestig die land se verbod op sekere invoere is nog nie sedert Januarie se uitbreking gelig nie.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die Namibiese direktoraat veeartsenydienste (DVS) sê die verbod op invoere van vleis en vleisprodukte van Suid-Afrika af staan steeds, soos ingestel tydens die vorige uitbreking van bek-en-klouseer in Januarie vanjaar.

Dit kom nadat die Suid-Afrikaanse departement van landbou, bosbou en visserye verlede week bevestig het die siekte het opnuut uitgebreek, en ’n geval van bek-en-klouseer is op 1 November in Limpopo se Molemole-distrik geïdentifiseer.

Namibië se ministerie van landbou, water en bosbou se woordvoerder, mnr. Jona Musheko, het gister bevestig die land se verbod op sekere invoere is intussen nog nie gelig nie.

“Die verbod sluit in dat Namibië slegs diereprodukte van Suid-Afrika af kan invoer wat met hitte behandel is, asook melk en melkprodukte. Varkvleis word ook ingevoer van die dele in die buurland wat vry is van bek-en-klouseer,” het Musheko gesê.

Die invoerverbod raak ook gebaalde ruvoer vir vee.

Die DVS het vroeër vanjaar maatreëls in die verband verslap. Solank gebaalde gras, lusern en kuilvoer afkomstig is van afgekampte plase in enige provinsie buiten Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal, mag dit na Namibië ingevoer word, is toe besluit.

Dié plase moet egter sonder enige vee of wild met gesplete hoewe wees.

Die vergunning is gemaak omdat Namibië tans in die droogte se knelgreep verkeer. Dit beteken veevoer kan steeds vanuit ses provinsies in Suid-Afrika ingevoer word.

Verder mag vars en gevriesde varkvleis van goedgekeurde varkplase buite Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal ook na Namibië ingevoer word.

Suid-Afrika het vroeg in Januarie aangekondig bek-en-klouseer het in die Vhembe-distrik naby die Krugerwildtuin uitgebreek.

Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in Suid-Afrika het verlede week in ’n nuusverklaring gesê die nuwe geval van bek-en-klouseer in die Molemole-distrik wek groot kommer.

“Dit het nie net ’n negatiewe uitwerking op die rooivleisbedryf nie, maar ook op die landbousektor as ’n geheel,” het die RPO gesê.

“Ná die uitbreking in Januarie 2019 is hard daaraan gewerk om Suid-Afrika se status as bek-en-klouseervrye sone te herstel. Dié jongste verwikkeling is ’n ernstige terugslag. Dit is noodsaaklik dat die omvang van die probleem dringend bepaal word.”

Die RPO sê dié uitbreking onderstreep weer eens die noodsaaklikheid van ’n naspeurbaarheidstelsel in die buurland se lewendehawebedryf.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!