Bekamp vermorsing vir beter voedselsekuriteit
Bekamp vermorsing vir beter voedselsekuriteit

Bekamp vermorsing vir beter voedselsekuriteit

Multidimensionele benadering nodig
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher - Die 2019 Wêreldvoedseldag-vieringe is agter die rug, maar die kommer oor voedselsekuriteit en die mate waartoe daar wêreldwyd geslaag word om honger te verlig, bly ’n brandpunt.

Die bedoelings met so ‘n geleentheid is velerlei, maar die klem bly op metodes om meer mense toegang tot voedsel te gee. In dié oorwegings was voedselverliese en kosvermorsing weer onder die vergrootglas.

Daar is duidelik botsende belange tussen die verskillende groeperinge waarvan die een pleit vir verminderde vermorsing as die aangewese middel tot die doel, teenoor hulle wat ‘n sterk saak uitmaak ten gunste van verhoogde produktiwiteit binne die hele waardeketting.

Daar is nie ‘n reg of verkeerd nie en in die jongste verslag van die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) getiteld “The state of food and agriculture in 2019 – moving forward on food loss and waste reduction”, word hierdie onderwerp wetenskaplik uitgepluis.

Wêreldwyd is die handel in voedselmarkte grootliks grensloos en bepaal tegnologie en die bekostigbaarheid van die produk soos wat dit deur die waardeketting beweeg, die reikwydte van die produk. As gevolg van verbeterde tegnologie en inligting, kan verbruikers buite seisoen produkte kry, mits hulle bereid is om die prys daarvoor te betaal.

’n Waatlemoen in die winter wat ingevoer is vanuit ‘n ander deel van die wêreld, klink dalk na ‘n luukse. Die betrokke produsent en diegene betrokke by die transformasie (die vervoer van die waatlemoen beteken die produk is getransformeer), word vergoed, produksie kry ‘n hupstoot en werk word geskep.

Dit is ‘n bekende feit dat tafeldruiwe uit die Noordkaap en Namibië ‘n week of wat vroeër in die Noordelike Halfrond gelewer kan word as ander lande en sodoende word hierdie produsente en waardeketting bevoordeel.

Ongelukkig weeg die ekonomiese voordele in baie opsigte swaarder as die moontlike negatiewe impak van sulke uitbreidings van markte. Kommer bestaan juis oor die volhoubaarheid van palmolie-produksie omdat horisontale produksie moet uitbrei om aan die vraag te voorsien. Produsente maak egter toenemend gebruik van nuwe tegnologie om meer met minder te produseer en so styg die aanbod, wat pryse laat daal net om produsente te dwing om meer grond te ontsluit om met groter aanbod die impak van laer pryse teen te werk. Daar is duidelike konflik wat omgewingsbewaring betref.

Tegnologie maak dit moontlik om produksie veelvuldig uit te brei en om dan markte te vind vir die verhoogde aanbod. Brood word op groot skaal gebak om ekonomiese skaalvoordele te benut. Gesentraliseerde bakkerye beteken brood moet vervoer word en die vraag is wat die koolstofspoor van sulke besluite is. Brood word vir meer bekostigbaar, maar teen watter koste?

Die debat oor die nodigheid van vleisproduksie versus plantaardige vleisvervangers is meer as net terloops, want die grondvoetspoor van lewendehawe word onbekostigbaar groot. Daar is baie geldige argumente ten gunste daarvan om eerder van dié grond vir kosproduksie te gebruik.

Volgens die FAO is die vermindering van voedselverliese en kosvermorsing twee belangrike hekkies wat oorkom moet word, maar dit is ook duidelik dat die ware betekenis van dié twee begrippe eers behoorlik uitgekam moet word. Die kwantifisering daarvan is absoluut noodsaaklik, maar dan moet almal betrokke weet wat gemeet moet word.

Om te weet is om te kan meet en daarmee saam kan die spoor gevat word van wat met kos gebeur van die plaashek tot by die verbruiker. In baie gevalle word verliese dalk oorskat omdat die residuwaarde nie verreken word nie.

Hiervoor is beleidsriglyne nodig, welke beleide multidimensioneel behoort te wees omdat die omgewing wat gekontroleer moet word, kompleks is. Ten einde honger behoorlik te kan bekamp, is ‘n mengsel van beleide nodig.

Dit sal slegs realiseer indien onderlinge samewerking binne die betrokke instansies plaasvind. Enige beleidsbeluite wat in isolasie geneem word, sal meer kwaad doen as goed.

Intussen bly dit almal se verantwoordelikheid om nie kos te vermors nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!