Bekende drukkery-leier sterf
Bekende drukkery-leier sterf

Bekende drukkery-leier sterf

Estelle de Bruyn
Lambert Retief (64), bekende Wes-Kaapse entrepreneur en leier in die uitgewers- en drukkersbedryf, is Donderdagoggend vroeg weens breinkanker dood.

Hy was 'n voormalige direksielid van Democratic Media Holdings (DMH), die voorloper van Namibia Media Holdings (NMH), Republikein se moedermaatskappy.

Retief het Paarl Media opgebou van ’n plattelandse drukkery-onderneming tot die JSE-genoteerde Novus Holdings.

Hy het onder meer gedien as direkteur in Media24, in Naspers tot en met 2013, in Quantum Foods, in Zeder tot 2014, asook Pioneer Foods.

Esmaré Weideman, uitvoerende hoof van Media24, het Retief as ’n “uitstekende entrepreneur en skrander sakeman, maar ook ’n man met ’n groot hart en ’n groot lag”, beskryf.

“Lambert het werklik vir sy mense gesorg en die lewe liefgehad. Hy sal altyd ’n spesiale plek in die geskiedenis van Media24 hê en in ons hart. Ons salueer ’n legende en weet dat sy erfenis sal voortleef,” het sy gesê.

Phil Roux, uitvoerende hoof van Pioneer Foods, sê Retief het uitstekende diens as direkteur in die direksie van die voedselgroep gelewer.

“Lambert het dinge goed deurgedink. Hy het ’n wonderlike sin vir humor gehad ondanks sy gereserveerde geaardheid.

Hy het my baie bygestaan as mentor. Een van sy beste karaktertrekke wat my bybly, is dat hy nooit ’n ander mens veroordeel het nie. Hy het sy menings op feite gegrond.”

Retief het in 2007 Naspers se Orde van Tafelberg ontvang.

Hy het in 1978 by die familie se drukkery-onderneming, Paarl Print, begin werk, waar sy broer Nicol die drukkery bestuur het en Retief hoof van die Paarl Post-gemeenskapskoerant geword het.

Die Paarl Media-groep waar hy uitvoerende hoof en later nie-uitvoerende voorsitter geword het, het onder sy leiding gefloreer. Nadat Paarl Post aan Media24 verkoop is, het die Retiefs hoofsaaklik op die drukkerybedryf gefokus. Hy het verskeie leierskapsposisies in die bedryf beklee, soos president van die Drukkersbedryf-federasie van Suider-Afrika en die voorsitter van die Provinsiale Druk-unie. Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer